Subscribe by Email

Nuuskommentaar: In die sweet van jou aanskyn….

Ekonome wys reeds lank daarop dat die land nie die sy eie arbeidswetgewing kan bekostig nie.

Niemand stry dat arbeidswetgewing nodig is om uitbuiting en die blote slegte behandeling van werkers te voorkom nie, hoewel die ideaal sou wees dat hierdie aspek deur vraag en aanbod beheer sou moes wees. Dit sou egter net moontlik wees as daar meer werksgeleenthede as werksoekers was.

Suid-Afrika se arbeidswetgewing word gereeld as van die mees liberale ter wêreld beskryf. Dit is uiteraard onsin – in ‘n liberale samelewing geld juis meer markkragte wat vraag en aanbod behels.

Suid-Afrika se arbeidswetgewing het die praktiese implikasie dat dit werkers dikwels oormatig ten koste van die werkgewers beskerm. Die noodwendige gevolg is optimale meganisasie en die minimum indiensneming. Heel dikwels kan sake-ondernemings weens die las van arbeidswetgewing en stakings nie oorleef nie, en sluit die deure met gepaardgaande werksverliese.

Die gans wat die goue eiers lê word as’t ware geslag.

Grootskaalse improvisasie is die gevolg, dikwels tot nadeel van die werkers. Vakbonde dring gereeld aan op die verbod op arbeidsmakelaars. Dit laat uiteindelik net die informele sektor oor, dikwels tot nadeel van die werker. Waar die werker nog ‘n redelike bestaan kon gemaak het, is hy nou uitgelewer aan die beskikbaarheid van stukwerk, of hy moet selfs entrepreneurskap aan die dag lê, en dikwels so ‘n inkomste ver onder die minimum loon vir bitter harde werk verdien. Misdada is soms ‘n makliker uitweg.

Die gevolg is eenvoudig – ‘n redelike groeikoers wat nie die nodige werksgeleenthede skep nie. Voeg hierby bitter min aansporing vir gesinsbeplanning, en ‘n stroom laaggeskoolde en ongeskoolde vlugtelinge en doodgewoon onwettige immigrante.

Nog ‘n toevoegsel tot die heksebrou is endemiese korrupsie wat die markkragte verder verwring, en ‘n rasgebaseerde regstellende aksie, wat eintlik nie iets anders as affirmative action genoem kan word nie want dit stel meer verkeerd as reg. Die benutting van infrastruktuur is skeefgetrek met paaie wat voos gery word, en spoorlyne wat dikwels lê en verroes.

En die liewe misdaad, met kabeldiefstal wat ‘n al groter sabotasie-invloed op die ekonomie begin uitoefen.

Ontwrig die ekonomie verder deur praatjies van nasionalisering en grondgryp, en die ekonomie het bykans geen kans om werksgeleenthede te skep nie.

Dit is daarom ‘n welkome briesie dat die minister van Finansies nou aandui dat arbeidswetgewing se werksmorende uitwerking onder die loep geneem moet word. Dit kom na meer as ‘n dekade se advies van ekonome en voornemende beleggers. Uiteindelik het baie investeerders ander Afrikalande suid van die Sahara as beter investeringsmarkte as Suid-Afrika begin beskou.

Dit beteken nie werkers moet swak lone ontvang, swak behandel of op enige manier uitgebuit word nie.

En die owerheid sal self die hand in die moue moet steek. Die ongehoorde salarisse wat sekere ampsdraers in die openbare sektor dikwels betaal word, wat tot die hoogste meetbare inkomstegaping ter wêreld lei, moet aangespreek word. Hoe kan ‘n munisipale bestuurder byna drie miljoen rand per jaar verdien terwyl sy munisipaliteit ‘n liederlike verslag by die ouditeur-generaal op die lyf loop? Maar werkers moet met bitter min tevrede wees.

Herman Toerien