Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Hoofregter en onafhanklikheid van die regbank

Die hoede word vandag hoog gelig vir hoofregter Sandile Ngcobo wat besluit het om nie ‘n omstrede verlenging van sy dienstermyn te aanvaar nie. Die ironie is dat min mense oordeel dat hy nie geskik vir die amp is nie. Dit handel nie oor die persoon nie, maar die prosedure.

Ngcobo se verduideliking dat dit ter wille van die “integriteit van die amp van hoofregter en die aansien van die regbank in sy geheel te beskerm” verdien ‘n pluimpie.

Terwyl Ngcobo geloof word, word pres. Jacob Zuma en die minister van Justisie, Jeff Radebe, gelooi.

Al kritiek teen Ngcobo is dat hy getalm het voor hy die regte ding gedoen het, en so die kwessie nader aan ‘n grondwetlike breekspul laat ontwikkel het.

Die aangeleentheid kom teen die agtergrond van al hoe meer aanduidings dat die regering moeite het om ‘n onderskeid tussen regerende party en regering te tref, en dat die grense van die trias politica – die skeiding van magte, nie mooi verstaan word nie. Boonop het Zuma onlangs hom skerp teen die howe se magte om ‘n stokkie voor regeringsbeleid te steek, uitgespreek.

In verskeie lande is daar ‘n toutrekkery oor die mag wat die regbank behoort te hê om besluite te kan neem wat besluite van die verkose regering kan omkeer. Dié argument is dat demokrasie ‘n regering deur die kiesers veronderstel, nie onverkose regters nie. Dié argumente word veral in grootliks homogene lande soos Australië gehoor.

In ‘n heterogene land is die howe die finale instansie van die beloofde wigte en teenwigte om te verseker dat by die gees van die grondwetlike skikking gehou word. Die fokus op die howe het veral groot geword na ander grondwetlike liggame wat ook die rol moet vervul, soos die Openbare Beskermer en die Menseregtekommissie, dikwels min vertroue ingeboesem het om dit eufemisties te stel, juis weens politieke aanstellings.

Om verstaanbare redes is daar ‘n nouer wisselwerking tussen die owerheid se wetgewende en uitvoerende gesag, en waar kabinetslede tegelykertyd deel van die wetgewende en uitvoerende gesag uitmaak. Tradisioneel is daar egter ‘n skerp onderskeid tussen hierdie gesagsvorme, en die regsprekende gesag.

Juis weens die magte waaroor die howe beskik, is dit internasionaal praktyk om die regbank so veel as moontlik politiek te laai. Dit word in effek moontlik gemaak weens die uitvoerende gesag se rol by die aanstelling van regters. Juis om hierdie rede word daar weer ander maatreëls ingestel, soos dat regters en verkose regerings se termyne nie saamval nie, en dit werk redelik in die geval waar regerings mekaar gereeld afwissel.

Waarskynlik die beste voorbeeld is die VSA waar aborsies op aanvraag deur ‘n hofuitspraak, Roe versus Wade, gewettig is. Mense gekant teen hierdie soort aborsies voer al jare lank ‘n stryd om die uitspraak tersyde gestel te kry, en met pres. Goerge W. Bush aan bewind, het dit inderdaad gelyk of dit dalk sou slaag, soos wat die president vakatures wat op die Supreme Court se regbank ontstaan het, met regters gevul het wat bekend is vir hul anti-aborsiestandpunte. Weens die tegniese moeilike en omslagtige aard daarvan het hy dit net-net nie gemaak nie, en is die pro-aborsie Barack Obama verkies. Hy het dadelik die bestaande vakature met die pro-aborsie Sonia Sotomayor gevul. Dadelik het die drukgroep, die Christian Coalition of America, aangekondig dat die stryd om aborsies weer ongrondwetlik verklaar te kry, met Obama se verkiesing met twintig jaar teruggesit is.

Die ironie is dat Sotomayor kort voor haar aanstelling in ‘n appélverhoor ‘n deeglike mosie van wantroue by die meerderheid regters van die Supreme Court gekry het toe hulle ‘n New Hampshire-uitspraak van haar oor regstellende aksie omgekeer het.

Dit is in belang van grondwetlike demokrasie gebiedend noodsaaklik dat die regte grondwetlike en wetlike prosedures met die aanstelling van regters gevolg word. Toe, enkele jare gelede, ‘n Belgiese regter betrap is dat sy in wese in ‘n verhoor deur ‘n beskuldigde belange ontwikkel het, het die destydse premier dit duidelik gemaak dat demokrasie self in België ernstig bedreig is.

Die huidige Suid-Afrikaanse grondwet is juis so geskryf dat, soos ‘n regsgeleerde dit stel, ‘n wa en span osse daarin kan draai. Die bedoeling is dat die presedentereg, konvensie en wetgewing die invulwerk moet doen, en dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op die regbank, veral die grondwetlike hof. Iemand soos prof. Marinus Wiechers spreek gereeld die versugting uit dat die Grondwetlike Hof se regters nie net uit regsgeledere moet kom nie, maar ook uit ander professionele rigtings, sodat in wese ‘n vorm van tegnokrasie gevorm word om die grondwetlike invulwerk ten beste te verrig.

Politiek-gedienstige regters behoort nie ‘n plek op die regbank te hê nie, en Ngcobo het hiervoor ‘n lansie gebreek.

Herman Toerien