Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Hongersnood en hulporganisasies trek noustrop

Die nuus uit die Horing van Afrika – dié keer in die besonder Somalië – raak by die dag slegter en ontstellender. Dié gebied word deur die ergste droogte in 60 jaar getref, honderde duisende mense is in vlugtelingkampe in Kenia en Ethiopië, en talle kinders sterf weens ondervoeding – ook tydens die dae-lange staptogte na die vlugtelingkampe. In die kampe roep hulpwerkers benoud dat hulle nie genoeg kos en water vir die vlugtelinge het nie.

Tog ondervind fondswerwers, onder andere in Nederland, dat die gewoonlik oop hande van die Nederlanders, nou minder oop is. Die koerant Trouw het ondersoek na die probleem ingestel, en ‘n lang artikel geskryf wat verbasend diep sny terwyl dit tog nog effens onder die kombers van politieke korrektheid bedek lê. Nie net Somalië word onder die vergrootglas geplaas nie, maar veral ook die buurland Ethiopië wat kort-kort ‘n krisis beleef.

Die eerste moontlike rede wat genoem word, is dat dit vakansieseisoen in Nederland was toe die werwers op hul bedrywigste was. Dit kan egter nie alles verklaar nie. Na die droogte en hongersnood in Ethiopië van 1984-85 het Europa ‘n vroeë waarskuwingstelsel ingestel en was die probleem reeds voor die vakansie bekend. Boonop het die fondswerwers in Brittanje ‘n oper hand aangetref.

Tog word opgemerk dat by die res van die wêreld – dus die lande wat nie in nood is nie – skeptisisme tot ‘n hoogtepunt aan die ontwikkel is oor hulp aan arm lande wat bodemlose putte blyk te wees. En die skenkerlande se mense is verbasend goed ingelig oor wat op grondvlak aangaan.

So word besef dat die probleme van Somalië en Ethiopië heel verskillend is. So raak skenkers taai in die bek om Ethiopië te help oor dié land se landboubeleid wat die hongersnood in die hand werk – presies dieselfde beleid wat nie lank terug nie na ‘n besoek aan Ethiopië deur Max du Preez en Antjie Krog geloof is.

Wat Somalië betref, word die rol van die Islamitiese organisasie, Al Shabaab, nie misgekyk nie. Baie Somaliërs steun hierdie organisasie wat noue bande met Al Kaïda het, wat hard werk om die Westerse beskawing tot ‘n val te bring – maar dis juis vanuit daardie geledere wat die hulp moet vloei.

Voedselsekuriteit vir die Horing van Afrika moet veel meer gestruktureerd aangepak word – dus hulp moet afgestem wees dat die lande hulself kan help. Sover dan Trouw se ontleding.

Dit help ook nie dat die lande van die wêreld wat die reputasie van bodemlose putte het die saak tot die lank-uitgediende konsep van Noord-Suid probeer vereenvoudig nie. Dit word as ‘n klakkelose verskoning vir die bakhandsindroom beskou.

Boonop merk die Europese lande op hoe die een Afrikaland na die ander olie ontdek, maar nie altyd uit armoede ontsnap soos hulle behoort nie. Op die gevaar af dat veralgemeen word, help dit ook nie dat diktators wat tot ‘n val kom, bykans sonder uitsondering buitelandse bankrekenings met astronomiese bedrae geld in het nie.

Die hartseer is dat die klein kindertjies wat onderweg na vlugtelingkampe omkom, geen aandeel in die redes het dat dié wat het nou die hand toehou nie.

En uiteindelik word dit in die vorm van onwettige immigrante ook Suid-Afrika se probleem.

Herman Toerien