Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Hoekom kry diktators en politieke boewe steun?

Pas na die Arabiese Bond Sirië as lid geskors en sanksies ingestel het, het duisende betogers wat pres. Bashar al-Assad steun, buitelandse ambassades uit protes bestorm.

Plaaslik het die ANC oënskynlik van Julius Malema ontslae geraak – al is dit om die verkeerde redes – of van Malema se ondersteuners steun hom openlik in sy uitdaging van die leiers in die ANC wat hom nie meer goedgesind is nie.

Onder die redes wat die Arabiese Bond aanvoer vir hul optrede teen Assad is dat hul aandrang dat die bewind sy doodslag van eie burgerlikes moet staak, en omdat die Siriese bewind telkemale beloftes oor hervormings gemaak het, nie nagekom is nie. Sirië het skynbaar die beloftes gemaak om die lande wat die druk uitoefen wolle oor die oë te trek en tyd te wen. Na raming het sowat 3 500 burgers reeds aan die hand van hul eie regering gesterf sedert die opstande begin het.

Ook pres. Hosni Mubarack het steun gehad van ‘n deel van die Egiptiese bevolking toe die skaal teen hom geswaai het. Tot betreklik na-aan die einde van die Libiese rewolusie was dit moeilik om te bepaal hoeveel steun Ghaddafi werklik geniet het. As Navo nie ingegryp het lyk dit onvermydelik dat die opstand sou misluk en daar – na aanleiding van Ghaddafi se dreigemente – bloedige weerwraak in veral Bengazi sou wees.

Hitler is nog ‘n voorbeeld waaroor baie hedendaagse Duitsers die kop skud. Hoe kon so iets in hul land gebeur het?

Baie is al geskryf oor die sogenaamde Stockholmsindroom – ‘n geval waar gyselaars tydens die voorval later ‘n simpatieke band met die terroriste gevorm het. Kan so iets op ‘n sosiologiese skaal ook gebeur?

In hul werk, Temas in die Politieke Sosiologie skryf André Pelser en Lucius Botes egter onder meer dat sosiaal-psigolisiese teorieë nie alleen politieke beweging kan verklaar nie. Faktore soos sosio-ekonomiese en politieke faktore speel ook ‘n rol. Baie skrywers beklemtoon die vreesfaktor van diktators, ook in die psigologiese konteks. DP Strauss, in sy werk “Van Moses tot Marx” noem in die hoofstuk “’n Geestelike glybaan” byvoorbeeld die faktore van die wet en vrees vir die wet.

In 2009 het Jon Basil Utley ‘n interessante artikel geskryf waarin hy ontleed waarom diktators wél steun kry, en hy tref ‘n onderskeid tussen diktators soos Hitler en Stalin aan die en kant, en diktators uit die ontwikkelende wêreld, waaronder Saddam. Utley het ‘n interessante eerstehandse ervaring: Sy ma was die bekende Freda Utley, die Britse aktivis wat as jong meisie die kommunisme erg naïef aktivisties aangehang het, en na Moskou uitgewyk het om self die vryhede te ervaar wat sy geglo het dit bied. Baie beskou haar as die oorspronklike vergestalting van die begrip, nuttige idioot. Hier is sy met die Joodse Russiese ekonoom, Arcadi Berdichevski getroud. Freda het met kommunisme ontgogeld geraak, Arcadi is in 1936 na ‘n Arktiese strafkamp gestuur, en sy, wat verhinder is om hom te help, het na die VSA uitgewyk. Jon het eers in 2004 verneem sy pa is kort na sy aankoms in die strafkamp deur ‘n vuurpeloton tereggestel.

In sy ontleding van diktators in derde wêreldlande is sy uiteensetting interessant, en toon baie raakvlakke met Malema. En selfs president Zuma, maak op die oog af van dié faktore gebruik. Hierdie diktators, meen hy, maak selde soos Hitler en Stalin van totale mag deur die veiligheidsdienste gebruik om bevolkings volledig te onderdruk. Hulle maak ten eerste sterk van steun in hul eie stamverband gebruik, en vul sleutelposte in veral die veiligheidsdienste uit hierdie geledere. Voorts word die leiers van ander stamme deur ‘n kombinasie van omkopery, heuning om die mond en deur dreigemente in gelid geplaas. Stamstrukture is gewoonlik nie besonder demokraties nie, en die burgers ervaar dus nie werklik ‘n verskil nie.

Godsdiens word ook slim ingespan, en baie moeite word gedoen om ‘n gemeenskaplike vyand te skep. Die hele stelsel moet uiteraard korrup wees om diegene wat in gelid is mildelik te beloon.

Hoewel Utley grootliks na Saddam verwys, kon baie van hierdie lesse net so op die Assad-dinastie en op Ghaddafi van toepassing gemaak word. Al drie het uit minderheidsgroepe gekom – Saddam as Soenie in ‘n land met ‘n meerderheid Sjiïete, Assad as Alawiet in ‘n land met ‘n Soenie-meerderheid, en Ghaddafi ‘n Berder in ‘n hoofsaaklik Arabiese land. Malema is ‘n organisasie wat tradisioneel deur Xhosas en Zoeloes oorheers word, ‘n Pedi, soos ook Kgalema Motlanthe wat nou openlik die jeugliga se steun het om Zuma volgende jaar te Polokwane.

Waar die ander voorbeelde moeite doen of gedoen het – veral toe hulle in die knyp beland het – om hul Moslemskap te beklemtoon en solidariteit teen die bedreigings te mobiliseer, sorg Malema dat hy ook in sekere kerklike kringe voortdurend lof ontvang, en selfs geseën word. Hoeveel ruim bydraes uit die Ratanangfonds, soos vir die bou van ‘n kerkgebou, hiermee verband hou, is ‘n ope vraag. Ook Zuma span voortdurend godsdiens in om sy saak te stel, maar trek in die proses gereeld weerlig weens die misbruik en misplaaste opvattings.

Utley maak ten slotte die insiggewende opmerking dat die Weste hulle voortdurend vasloop deur in te meng onder die waan dat daardie land se mense hulle sommer met ope arms gaan verwelkom. Aan die een kant ervaar die bevolking egter hul diktatuur nie heeltemal soos die Weste dit beskou nie, en aan die ander kant is die diktators meesters om juis die Weste as die vyand te skets, die sogenaamde gemeenskaplike vyand wat die plaaslike diversiteit saamsnoer. Die bestaan en optrede van Israel dien ook as belangrike katalisator om die Arabiese Bond ten spyte van erge verskille saam te snoer.

Die media, veral die vrye media, is in hierdie geledere nie gewild nie. Op vanjaar se persvryheidsindeks, uit ‘n moontlike 178 lande, was Libië 160ste, en Sirië 173ste. Onder die muishondlande tel Venezuela (133) en Kuba (166). Sedet Zuma en Malema op die toneel gekom het boer Suid-Afrika flink agteruit op die indeks, en Freedom House het Suid-Afrika verlede jaar tot slegs gedeeltelik persvrye land geherklassifiseer. ‘n Deel van die despoot se sukses is om ‘n alternatiewe politieke werklikheid aan die burgers voor te hou, soos om muishondvriende as helde voor te hou. Die vrye media is egter minder ontvanklik om oor oortuig te word dat wêreldmuishonde soos pres. Hugo Chavez van Venezuela, die Castro’s en ander eintlik helde is. Malema word gereeld in ‘n Ché Guevarra-barret gesien, terwyl die CIA se rekenaars sekerlik sal stol die dag wat dié rewolusionêr in daardie geledere as held omarm moet word.

Tog, met die Wêreldbekersokkertoernooi in Suid-Afrika was van die mees prominente staatshoofde wat besoek afgelê het meer verteenwoordigend van ‘n muishondgalery as ‘n spannetjie fatsoenlike staatsleiers. Dit sal interessant wees om te sien hoeveel van die verwagte 60 buitelandse regeringshoofde wat volgende jaar die ANC se 100-jarige vieringe bywoon, sal die muishondgalery vryspring, al is Saddam en Ghaddafi nie meer daar om kleur te verleen nie.

Tog is daar nou ‘n belangrike faktor wat despote se alternatiewe werklikheid onder druk plaas – die internet en selfoon-kletskamers. Wêreldwyd is daar nou 123 internetnuusskrywers agter tralies, maar slegs China slaag skynbaar daarin om die kuberruim redelik skoon van alternatiewe werklikhede as dit wat die diktatuur bepaal, te laat deursyfer.

Dit wil voorkom asof ‘n internasionale doktrine aan die ontwikkel is dat dit geregverdig is om die soewereiniteit van ‘n staat te skend as daardie staat se diktatoriale regering besig is om sy eie burgers te dood. Nie almal is dit eens oor of hierdie doktrine vastrapplek in die volkereg behoort te kry nie. ‘n Deel van die probleem is dat dit al hoe moeiliker raak om ander state aan te val bloot om eie belange te beskerm, al is dit ook om Al Kaïda uit vestings te kan dryf. Om ‘n bevolking van diktatuur te bevry waar die diktatuur opstand bloedig onderdruk, kan ‘n nuttige kapstok word om die eiebelang te verdoesel – veral as dit gaan om die beskerming van lewensbelangrike oliebronne.

Die argument slaag nog nie heeltemal om lewensvatbaarheid te kry nie. Vir elke een berig oor hoe die VSA ‘n diktator aan die baard beetgekry het, is daar tien wat duister ooreenkomste tussen Uncle Sam en van die mees gewetenlose despote aan die kaak stel.

‘n Interessante gemene deler is dat diktators dikwels nie die skrif aan die muur gelees kry nie. Die meeste het wel tydig ‘n goue neseier oorsee opgebou sou die gety draai, maar daar is ‘n prys te betaal daarvoor om jou met ja-broers te omring. Ghaddafi en Saddam is uiteindelik deur hul eie mense die ewigheid ingehelp, waarskynlik tot die einde oortuig van hul gewildheid. Die Siriese bewind was so behep met sy selfversekerdheid dat die Arabiese Bond suksesvol wolle oor die oë getrek word, dat dit nou tipies reageer soos een wat nie kan glo hy is uitgevang nie. Die bewind eis nou ‘n nuwe spoedsitting van die Arabiese Bond om die sogenaamde wanvoorstellings wat tot die skorsing gelei het, reg te stel. Daarteenoor het sanksies en eise deur die Europese Unie en Navo eerder in die kraal gepas van die versterking van die gedagte aan ‘n gemeenskaplike vyand.

Malema is lank nie op sy bek geval na sy skorsing nie, en is waarskynlik volkome oortuig daarvan dat hy gaan seëvier en Zuma in die slag gaan bly.

Waar Malema van die ander verskil is dat daardie leiers minstens vir ‘n groot deel van hul bewind probeer het om alle groepe in te bind, soms suksesvol. In Irak en Egipte is Christene nou, minstens voorlopig, swakker daaraan toe as onder Saddam en Mubarack. Saddam het selfs ‘n Christen, Tariq Azziz, as eerste minister ingespan. In Sirië kry die opstandelinge nie heeltemal die steun van Christene soos wat verwag kan word nie, juis omdat Christene op ‘n manier ingebind was al was dit nie besonders ideaal nie. Ook die Koerde wat onder Assad se pa al bloedig gemoor is en grootliks burgerskap ontneem is, is verdeeld oor hoeveel voordele ‘n nuwe bewind vir hul lot inhou.

Malema het moontlik wel daarin geslaag om steun oor ‘n wye verskeidenheid groepe te trek – solank hulle swart was. Hy was reeds by die bruin mense en Indiërs in die sop, maar gebruik die blankes skaamteloos om ‘n gemeenskaplike vyand te skep. Hy was, en is besonder suksesvol hiermee. Die een na die ander instansie is nou die naarheid in oor die ANC Malema se uitsprake dat wittes skurke is skielik nie kon bewys nie. Dit terwyl die ANC ‘n besondere getuie beskikbaar het – Zuma self wat minstens tydens een so ‘n tirade saam op die verhoog was. Die TLU SA, Afriforum, Solidariteit, die FW de Klerkstigting en die Afrikanerbond tel onder die belangegroepe wat diep ongelukkig is oor hierdie aspek, en dat die ANC sy eie aansprake van nie-rssigheid belaglik maak. Politieke partye soos die VF+ en die CDP het ook hul ongelukkigheid hieroor uitgespreek. By ontstellend baie het dié aspek ongelukkig verbygegaan – die Malema-kanker het duidelik vastrapplek gekry. Malema is ook besonder vernuftig om die dekking wat politieke korrektheid gebore uit negrofilistiese liberalisme hom bied uit te buit, in so ‘n mate dat die internet ook hier ‘n belangrike rol speel om Malema vir die werklike saakmakende aspekte aan die kaak te stel.

Opgestel vir Maroela-media

Herman Toerien