Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Haatspraak

In ‘n besonder omvattende en deeglike uitspraak van 69 bladsye het regter Collin Lamont in die gelykheidshof beslis die liedjie, ‘Skiet die Boere,’ kom op haatspraak neer.

Die uitspraak kon vir min mense as verassing gekom het – vryheid van uitdrukking in Suid-Afrika word immers ingevolge die Handves van menseregte beperk deurdat dit nie op die aanstigting tot geweld mag neerkom nie, en ook nie haat mag aanstig op gerond van etnisiteit , ras of godsdiens nie. Dit laat nie veel ruimte vir ‘n vertolking wat so ‘n lied buite die bedoelings van die grondwet sou stel nie.

In verskillende politieke modelle is die rangorde van sekere regte nie altyd dieselfde nie. In ‘n baie liberale bedeling is vryheid van uitdrukking baie belangrik terwyl in die meer konserwatiewe bedelings die reg op waardigheid ‘n sterker fokus het. Dit manifesteer ook in die mate waartoe erge vitrioel in kommentaarkolomme op die internet ingespan word. Enige sweempie van fatsoenlikheid byt in die stof.

Beide regte is kardinaal vir ‘n demokratiese bedeling, en waar hulle mekaar ontmoet en mekaar beperk is die enigste vraag.

Regter Lamont het aan die hand van bestaande Suid-Afrikaanse en internasionale regspraak nou ‘n grensafbakening gedoen.

Voorts het die regter ook daarop gewys dat die sing van die liedjie die definisie van volksmoord toets, terwyl minderhede se vermoë in die Suid-Afrikaanse bedeling om hul regte te beskerm baie broos is. Die toegang tot howe is dus baie belangrik.

Trouens, heelwat regte in die Handves van Menseregte het in die uitspraak aan die bod gekom.

Die streep in die sand is nou duidelik getrek. Regspraak wat nie uiteindelik deel van die gemeenskap se ordereëlings word nie, nie in die mense se harte leef nie, beteken dat dit voortdurend afgedwing moet word. Dit dui op ‘n onvolwassendheid jeens die regstaatbeginsel.

Nou lê die groot werk voor om die uitspraak in die samelewing gestalte te gee. Hiervoor word volwasse leierskap verlang, ten einde anargie te voorkom, maar die ANC se reaksie dra nie hiertoe by nie. .

Dit sal interessant wees om te sien hoe die meer as 500 klagtes teen Malema nou deur die Menseregtekommissie hanteer gaan word, en net so interessant hoe Malema op die verwikkelinge reageer. Appelleer Malema, sal die polarisasie wat hy reeds geskep het, vererger.

Die land kan goed sonder Malema se opstokery klaarkom.

In die breër politieke konteks is die ANC nou aan die internasionale gemeenskap ontbloot as party wat selfs ingevolge die Suid-Afrikaanse grondwet nie die beste belange van al sy mense op die hart dra nie.

Die ANC sal sy steun oor hierdie saak aan Malema moet heroorweeg om weer respektabel te kan voorkom.

Presies hoe ‘n politieke toffie die saak is, blyk daaruit dat partye soos die VF Plus en CDP verklarings uitgereik het waarin die uitspraak verwelkom is, en in pas is met verklarings wat instansies soos Afriforum en TLU self, en die Afrikanerbond uitgereik het. Die DA en die ACDP tel onder die partye wat verkies om (nog) te swyg.

Herman Toerien