Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Haatspraak: Te laat vir trane?

Afriforum ondersteuners

‘n Week na die aanvang van die Julius Malema / ANC-haatspraakverhoor gaan al hoe meer stemme op dat Afriforum gefouteer het deur die saak hof toe te neem, en dat die proses opgeskort moet word.
Is dit ‘n geval dat die gepeupel-magsvertoon buite die hof se intimidasietaktiek werk? Is dit ‘n geval van derdekolonners? Of is daar werklik beter opsies?
Daar sou inderdaad beter opsies gewees het as die saak nie toegelaat is om so ver te ontwikkel nie, en ‘n magdom insidente speel hier in die hand. Verantwoordelike leierskap wat die Julius-brigade tot orde geroep het sou ‘n belangrike onderdeel wees.
Om nou te argumenteer dat die saak uit die hof gehou moes word stel in wese ‘n mosie van wantroue in die destydse regeringsbesluit om die rassekwessie in die land grondwetlik-juridies eerder as holisties op te los, en voortspruitend hieruit, ‘n mosie van wantroue in die onderhandelingsproses en onderhandelde resultaat.
Wanneer van die holistiese proses afgestap word, soos gebeur het toe die regering die omvattende ondersoek na tussenvergroepverhoudinge waarmee die presidentsraad besig was, op te skort en kort hierna ook die Verhoudingsaksie, is die streep in die grond getrek dat dit voortaan juridies en staatkundig aangepak gaan word.
Dié besluit het gekom in weerwil van ‘n vermaning van die destydse president van die RGN, dr. Tsjaart van der Walt, dat geen grondwet, nie eens die beste in die wêreld, sal werk as die mense mekaar nie verstaan en vertrou nie. En laasgenoemde proses is opgeskort.
Ter verdediging van die juridiese deterministe, die juridiese is ook veronderstel om te harmoniseer. ‘n Groot deel van die gemeenregtelike ideale rondom natuurlike geregtigheid het egter in die sand vasgeval as gevolg van ‘n geneigdheid tot onbuigsamer kodifisering om ‘n juridiese gemaksone te skep in ‘n nuwe omgewing waar die huidige grondwet, in die woorde van ‘n ervare juris, aanvanklik so vaag geskryf is dat ‘n wa met span osse daarin kan draai.
‘n Verdere aspek is dat die veronderstelde impak van minderheidsregte steeds weens politieke inkorrektheid oor ‘n breë spektrum onaanvaarbaar bly, en idealisties voortgeswoeg word in die dryfsand van ‘n grondwet wat eintlik vir ‘n baie homogene gemeenskap bedoel is.
In ‘n heterogene samelewing speel faktore soos relatiewe deprivasie ‘n baie komplekser rol as in ‘n homogene omgewing. In plaas van een spanningsgaping tussen realiteit en verwagtinge, is daar nou ‘n spektrum van gapings, oor ‘n verskeidenheid kwessies, waaronder haatspraak, verskillende persepsies van die geskiedenis, affrimative action in plaas van regstellende aksie, rasgedrewe kwotas en vele meer faktore wat rassespanning vassement. Die massa gapings tussen verwagtinge en werklikheid lyk van voor soos ‘n skoot van ‘n haelgeweer wat deur ‘n sagte oppervlak geskiet is. Omdat heterogeniteit ter sprake is, is die verwagtinge dikwels aan teenoorgestelde kante van die werklikheid – is die spanningsvlakke dus dubbel so groot soos in ‘n homogene samelewing.
Dit verg ‘n uiters verantwoordelike regering en leierskap om so ‘n situasie te bestuur. In so ‘n situasie is daar gewoon nie ruimte vir haatspraak, en uitlatings en gedrag wat polariserend inwerk nie, en ook nie vir leierskap wat dit aanblaas nie. Dit geld nie net Suid-Afrika nie. In Nederland het die invloei van kulturele andersoortige immigrante op verskeie maniere neerslag gevind, soos ‘n verskuiwing na regs in die politiek, maar met die haatspraak-verhoor van die gewilde politikus Geert Wilders nog ‘n element. Wilders se gedoogde steun is nodig om te verseker dat Nederland ‘n regering het.
Op die vooraand van die landswye munisipale verkiesings is die ANC in terme van sy sosiale kontrak met die kiesers veronderstel om kniediep in die moeilikheid te wees. Anders as in die verlede lyk dit nie of die party weer bloot op stemme kan reken bloot omdat die kiesers swart is nie. Tensy natuurlik ‘n klimaat geskep kan word waar dit weer sal gebeur. Dis nou te laat om dienslewering nog voor die verkiesing reg te ruk.
Dus word die Malema- en Manyi-polariserende uitsprake nie net gedoog nie, maar aktief ondersteun.
In plaas van verantwoordelike leierskap om dit tot orde te bring, word dit ondersteun.
Die ironie is dat die grootste voorpraters vir die opskorting van die Afriforum-proses juis uit die geledere kom van diegene wat die sterkste voorspraak maak vir die juridies-grondwetlike benadering. Afriforum voltrek JUIS daardie proses tot by die laaste loopgrawe van die wigte en teenwigte wat dit veronderstel is om te bied.
Diegene wat die standpunt huldig dat die grondwet die beste ter wêreld is, moet nou die proses sy verloop laat neem, of andersins openlik erken hulle was verkeerd – ‘n grondwet, selfs die beste grondwet ter wêreld, sal nie werk as dit die juridiese terrein verabsoluteer nie. Finis en klaar.