Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Haatspraak op appèl

Môre, twintig jaar na dit vanuit ‘n pendeltuig gelanseer is, val ‘’n satelliet terug na die aarde. Nasa het nog nie sekerheid oor waar die rommel gaan val nie.

Vandag het die ANC Jeugliga en die ANC appèl aangeteken teen die haatspraak-uitspraak in die gelykheidshof teen Julius Malema. Dit is volgens die aanduidings maar die eerste stap in ‘n lang proses waar beide kante – die ANC en Afriforum, die saak tot in die finale instansie sal neem. Die ANC het die grondwetlike hof in die oog, Afriforum is bereid om dit, indien nodig, tot by die VN se Mensregteraad te voer.

Geoordeel aan die enorme polarisasie wat reeds plaasgevind het in die aanloop en tydens die hofsaak self, is dit ‘n baie benouende gedagte oor waar sake sal staan teen die tyd dat dié saak finaal bereg is – wanneer dié satelliet gaan afkom.

Die regsproses wat nou loop, is bykans onafwendbaar. Met die aanvaarding van die grondwet is dit gestel dat dit in baie opsigte doelbewus vaag geskryf is sodat die vleis deur wetgewing en die presedentereg ingevul kan word – ‘n lewende grondwet dus wat te alle tye in voeling sal wees met universeel aanvaarde norme, veral wat die handves van menseregte betref.

So ‘n benadering is egter ook ‘n tweesnydende swaard, veral waar persepsies so erg gepolariseerd is. Iemand se persepsie van aanvaarbare norme moet noodwendig reg, en ‘n ander s’n noodwendig verkeerd wees.

Die regsargumente vir en teen die uitspraak van regter Lamont is voorlopig van min of meer akademiese belang. Hoe gaan die pad vorentoe geloop word tot die finale regspraak plaasvind? Gaan die land maar passief wag en kyk waar hierdie spreekwoordelike dodelike ruimterommel gaan neerstort?

Die Menseregterkommissie het regstreeks na die Malema-uitspraak aangedui dat dit ‘n nasionale dialoog oor die kwessie beplan. Die Kommissie het vir die uitspraak gewag om rigting te kry oor hoe om die talle klagtes teen Malema en sy haatspraak te hanteer. Die klag van die Afrikanerbond word as die hoofklag hanteer, en die AB het dadelik die gedagte aan so ‘n dialoog gesteun.

Die FW de Klerkstigting het pas ook sy steun aan so ‘n dialoog toegesê. In sy verklaring wys die stigting op nog verdere polariserende optredes as uitvloeisel op die uitspraak. Die uitsprake van me Jesse Duarte word in geen onseker terme nie met ‘n harde skropborsel bygekom.

Ook ander instansies het aangedui dat hulle positief oor die dialoog-gedagte staan.

Die ANC se reaksie op die uitspraak verseker egter dat dit nie ‘n of – of- proses kan word nie. Die regsproses met sy polariserende impak gaan gelyk loop met die dialoog-proses, as so ‘n proses ooit van die monteertafel af gaan kom. Die inbinding van rolspelers is noodsaaklik, en dit sluit in dat mense soos biskop Tutu en dr. Alan Boesak hul woorde oor polariserende sake sal tel.

Die ANC word nou na verskeie uitsprake, die jongste deur minister Gugile Nkwinti dat die regering die grondwet – eintlik die handves van menseregte – sal wysig om te voorkom dat dit in die pad staan van grondhervormingsplanne, verdink van ‘n vergane verbintenis tot die grondwet. Trouens, dit raak al duideliker dat die ANC na dit wat hy as stremminge van die Kemptonparkse skikking beskou, wil afstap.

Of die ANC dit so bedoel of nie, dit beteken eintlik dat dit die boodskap hard en duidelik uitstuur dat dit na die toestand van vyandigheid voor die vredesberaad wil terugkeer. In ‘n gepolariseerde gemeenskap is dit uit onder meer stringe internetkommentare duidelik dat baie mense dit so ervaar.

Oor vrede kan die land duidelik baie leer by die man van bloed en staal, Otto von Bismarck. ‘n Vredesvedrag word so opgestel dat die verslane vyand nie verneder word nie, sodat die vrede ‘n kans staan om durend te wees.

Die Suid-Afrikaanse vredesakkoord was nie die produk van iemand se neerlaag nie, maar dit word wel so deur Malema en sy kornuite voorgehou – en geroem op die oorwinning wat behaal sou wees. Ironies, terwyl die geskiedenis so geweld aangedoen word, kla die ANC dat die hof dié organisasie se geskiedenis probeer herskryf.

Die spreekwoord lui immers: Die geskiedenis word deur die oorwinnaar geskryf.

‘n Nasionale dialoog is nie net ‘n opsie nie, dis ‘n noodsaaklikheid, al word bloot ooreengekom om te verskil.

Herman Toerien