Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Haatspraak en welwillendheid

Die uitspraak in die haatspraakverhoor van Afriform en TLU SA teen die weerbarstige ANC-jeugligaleier, Julius Malema, word vandag verwag.

Dié uitspraak is in baie opsigte belangrik, onder meer omdat Malema se aanhef van die liedjie, Skiet die Boere, tot nog talle klagtes van ander partye aanleiding gegee het, waaronder ook die Afrikanerbond en talle individue. Malema is selfs internasionaal by die paslike liggame verkla. Die Menseregtekommissie wag op vandag se uitspraak voor hy besin hoe om die ander klagtes te hanteer.

Voorts, as Malema onskuldig bevind word, kan verwag word dat hy nog ‘n rits klagtes op die lyf kan loop deur blankes skurke te noem. Ook ander, soos die Direkteur van Openbare Vervolging, Menzi Simelane, wat pas stereotipering gebruik het om blankes as misdadigers voor te stel, kan meer as net die klagte van die Instituut vir Rasseverhoudinge by die Menseregtekommissie te wagte wees. Sy opmerking dat hy sal voortgaan om dit te doen, help ook nie.

En dan is daar natuurlik Jimmy Manyi.

Die vreemdheid is dat die grootste bevraagtekening oor of die haatspraakklagtes die beste wyse was om Malema tot orde te roep, uit die geledere kom van hulle wat gereeld die grondwet besing – terwyl die regsprosedure wat gevolg word, juis die produk van die grondwet is.

Die destydse president van die RGN, dr. Tjaart vd Walt, het in die 80-gerjare gesê geen grondwet, selfs die beste in die wêreld, sal werk as ‘n land se mense mekaar nie verstaan en begryp nie.

Egskeidings wys dikwels ook uit dat howe nie die beste plek is om verhoudingsprobleme uit te stryk nie.

Aan Malema is duidelik geen salf te smeer nie, veral omdat hy in ‘n gemeenskap wat erg gepolariseer is, deur die ANC in hierdie optrede gekondoneer, en met regshulp aktief ondersteun is. Die hof was duidelik die enigste lewensvatbare opsie, en ‘n moontlike vryspraak hou ondenkbare gevolge in vir hoe die land gesindheidsgewys geskeur kan word, veral as die verontregte gemeenskap dan in gelyke munt begin reageer.

Wanneer mense en gemeenskappe so gepolariseerd is, val enige staatkundige model vas. Dit geld van die mees simplistiese, unitêre meerderheidsregeringstelsels in ‘n heterogene samelewing, tot stelsels waar verskillende groepe en volke geografiese of korporatiewe selfbeskikking het. Die gereelde bomontploffings in Indië dui hoe laasgenoemde nie noodwendig maanskyn en rose in die hand werk nie, en die middelpuntvliedende kragte die middelpuntsoekende kragte nie balanseer nie.

Gebore uit die grondwetlike beginsel, beperk Suid-Afrika se grondwet die selfbeskikkingsartikel in artikel 235 tot selfbeskikking as deel van Suid-Afrika. Om volle onafhanklikheid te beding, gaan ook welwillendheid verg, of ‘n opsie wat tot gewapende geweld kan lei.

Teen dié agtergrond kan die belangrikheid van die FW de Klerkstigting se projek om jaarliks ‘n welwillendheidspersoon of –instansie aan te wys, kwalik oorbeklemtoon word.

Dit is geen nuwe gedagte nie, met die Welwillendheidstigting en ander instansies wat dit ook al tevore gedoen het.

As bykans elke landsburger nie om hierdie en soortgelyke toekennings meeding nie, is die howe die enigste oorblywende opsie, waar uitsprake ewekansig is om welwillendheid te verbeter of verder te vertroebel.

Intussen word die asem opgehou vir vandag se uitspraak.

Herman Toerien