Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Groendruppel-verslag sê SA is diep in die knoffel

Kort op die skokkende Ouditeur-generaal-verslag oor die stand van Suid-Afrikaanse munisipaliteite, waar net sewe van 283 munisipaliteite “skoon” ouditverslae gekry het, is die Groendruppel-verslag uitgereik, met amper net so ‘n ‘n treurige verhaal.

Een wat lewens kos.

Van die 821 rioolaanlegte wat getoets is, het 40 ‘n uitstekende beoordeling gekry. Hulle het Groendruppel-status verwerf. Nog 78 is as goed beskryf, en 243 het ‘n “gemiddelde standaard” gehandhaaf. Altesaam 143 het swak presteer en die toestand van 317 is as kritiek beskryf.

Meer as die helfte van die aanlegte – en dalk nog van dié in ander kategorieë, laat dus onveilige water na die land se waterbronne soos riviere en damme deur, en selfs na ondergrondse waterbronne soos in die dolmietryke gebiede.

Hoewel reënwater wat oor veld loop waarop diere gemis het ook effens bydrae tot die vlakke van e-Ecoli in die land se waterbronne, is die ongesuiwerde rioolwater by verre die grootste en deurlopendste oorsaak.

Hoewel die e-Coli-variant wat in Suid-Afrika soveel siek mense oplewer, op sy eie nie baie dodelik nie, kan dit in kombinasie met ander faktore wel dodelik wees. Ondervoede babas, en mense met MIV is in lewensgevaar. E-Colivlakke word maklik gemeet, en dien as ideale klikbek dat ander, meer gevaarlike siektes wat in dieselfde groeimedium leef, teenwoordig kan wees. Hieronder tel cholera (met sterftes in oa Soweto) en tifoïde (sterftes by Delmas).

By verskeie plekke soos Welkom en Kroonstad is al kriminele klagtes teen die betrokke munisipaliteite gelê oor die wyse waarop die inwoners aan rou riool blootgestel word. Soms is klagtes by herhaling gelê, en soms het die Groen Skerpioene ingetree.

Die onlangse e-Colisterftes in Europa dui daarop dat dit ‘n probleem is waarmee die land nie durf voete sleep nie. Hoewel die stam wat die Europese sterftes veroorsaak het nie dieselfde stamme is as dit wat gewoonlik in Suid-Afrikaanse rioolwater, of Amerikaanse kitskosse voorkom nie, blyk dit dat e-Coli wel nuwe stamme kan muteer (daar is reeds meer as 700 stamme) en dit kan net ‘n kwessie van tyd wees voor die land deur ‘n ramp van epidermiese proporsies getref word.

Die patetiese verslae wat munisipaliteite by die Ouditeur-generaal gekry het, boesem egter min vertroue in dat die situasie gou voldoende onder beheer gebring sal word. ‘n Lang beskuldigende vinger kan weer na die beleid van kader-ontplooiing gewys word.
Herman Toerien