Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Groen

Terwyl nuus bly instroom oor hoe klimaat verander, soos dat die Noordpoolkap die afgelope noordelike somer sy kleinste oppervlak nog sedert satellietwaarneming bereik het, en ‘n nuwe eiland langs die Groenlandse kus onder die ys te voorskyn gekom het, is daar steeds ontkenners van klimaatsverandering.

Die redes is voor die hand liggend, en word gereeld in wetenskaplike publikasies bespreek. Klimaatsverandering vind nie in ‘n reguit lyn in ‘n rigting plaas nie, en instansies wat die styging van die seevlak oor ‘n lang tyd monitor, vind soms dat die seevlak vir ‘n paar agtereenvolgende jare daal. Die oorhoofse tendens is egter opwaarts, en dit blyk teen ‘n versnelde tempo plaas te vind. Dit behels ingewikkelde berekenings aangesien landmassas ook nog geneig is om self te styg of te daal. Een van die oorsake van versnelde seevlakstyging is dat ‘n yskap meer sonlig terugkaats, terwyl die see meer lig, en dus hitte absorbeer.

‘n Tweede debat vind plaas oor die mate wat die mens tot die klimaatsverandering bydra. Baie mense reken die mens se impak, vergeleke met natuurlike oorsake soos metaangasvrystelling, kosmoklimatologie, kontinentale drywing en rotasievariasies van die aardas wat oor baie duisende jare plaasvind speel ‘n veel groter en selfs eksklusiewe rol.

‘n Derde debat handel oor die impak van klimaatsverandering, ongeag die oorsake.

Die Amerikaanse regering het onlangs ‘n verslag vrygestel oor hoe klimaatsverandering die inheemse bevolking van Alaska raak. Dit is ingrypend. Oor ‘n paar geslagte is opgemerk hoe rivieraflope van somer-smeltwater so drasties afgeneem het dat dit nie meer moontlik is om genoeg stompe vir wintergebruik te laat afvloei nie, en meer en meer moet van steenkool en gas vir verwarming gebruik maak. Natuurlike voedingsbronne soos visbronne word erg geaffekteer. Die afgelope somer het die weer aan die Kaliforniese kus nie saamgespeel nie en kon die jaarlikse sensus van die bedreigde seeotters vir die eerste keer sedert die projek begin is, nie voltooi word nie.

‘n Kommerwekkende aspek in die oorgangsperiodes is die klimaatsonstabiliteit. Dit wissel van ongewone droogtes wat deur ongewone vloede afgewissel word, tot tropiese siklone wat verwoesting aanrig waar dit voorheen selde of ooit voorgekom het. Meer uiterstes kan verwag word.

Vanjaar, 25 jaar gelede het die VN 3 Oktober elke jaar tot wêrelderhabitatdag verklaar. Een van die doelwitte is om elkeen te herinner aan sy verantwoordelikheid tot die omgewing en die bewaring daarvan vir toekomstige geslagte. Vanjaar se tema is “Stede en die invloed van klimaatsverandering.”

In ‘n waterskaars land soos Suid-Afrika moet onder meer beplan word waar dit waarskynlik in die toekoms nog minder gaan reën. Dit stel ‘n ontsaglike beplanningsraamwerk voor – nuwe nedersettings moet verkieslik in gebiede wat minder geraak gaan word aangelê word, wat dus weer fokuspunte vir die skep van werksgeleenthede moet wees. Die alternatief is die aanlê van infrastruktuur, soos watervoorsiening, oor baie lang afstande.

Landbouers moet deeglik beplan, want slegs ‘n geringe klimaatsverandering kan beteken dat iets wat nou ‘n lonende bedryf is, dan nie meer lonend sal wees nie. Grondhervorming moet ook deeglik hiermee rekening hou.

Daar is wel reeds verskeie omvattende studies in verskillende provinsies hieroor gedoen, en projeksies gemaak. Iewers in die pyplyn na goedkeuring beland dit egter op die rakke, en nog min hiervan het byvoorbeeld in die omvattende ontwikkelingsbplanne wat provinsies vir die Kantoor van die President moet opstel tereg gekom. Die Vrystaat is ‘n voorbeeld van waar die klimaatsimpakstudie reeds gedoen is, maar nie regstreeks in die beplanning tot 2014 verreken is nie. Die klimaatstudie was nog nie voltooi toe die beplanning in 2005 gedoen is nie, maar dit sou sin maak om dit in te werk, aangesien dele van die ontwikkelingsplan juis handel oor die vestiging van landbouvertakkings, soos ‘n snyblom-industrie omdat, onder meer, die klimaat daarvoor geskik is. Volgens die klimaatsprojeksies kan dit in die toekoms slegs vir die Oos-Vrystaat geld.

‘n Kompartementasie van inligting kan die land baie duur te staan kom.

Suid-Afrika bied vanjaar die 17de VN-klimaatskongres aan, en dit sal gepas wees as die land self ‘n voorbeeld stel.

Herman Toerien