Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Griekse skuldkrisis en Suid-Afrika

Vir baie mense is dit Grieks oor hoekom die probleme van ‘n relatief klein ekonomie soos die Griekse, soveel aandag geniet. Tog het die verloop van die oplossing kort – kort ‘n invloed op die Johannesburgse effektebeurs, en is dit duidelik dat ‘n blinde oog werp op dié kwessie, die land peperduur te staan kan kom.

Griekeland is nie die enigste lidland van die Europese Unie wat skuldprobleme het nie, en daar word gereeld na die sogenaamde PIGS-lande, of PIIGS met twee I’s verwys. Dit sluit Spanje, Portugal en Ierland in, en Italië word meer gereeld in hierdie geselskap bygevoeg. Selfs ander lande, soos Frankryk en België toon van die simptome. Europese politici het hul hande vol om vertroue te bly inboesem, want ‘n swartgallige persepsie kan die waentjie baie maklik laat omkantel, terwyl ‘n positiewe persepsie wondere kan verrig.

Die Griekse krisis toon egter hoe moeilik ekonomiese integrasie kan wees, al gaan dit op die politieke toneel veel beter. ‘n Belangrike vereiste is dat al die lidlande ewe hard moet werk – ‘n situasie waar een of meer die vrugte wil pluk vir die produktiwiteit en verantwoordelikheid van ander lidlande, skep die soort probleem wat nou ervaar word. Die Grieke het gewoon te veel geput uit die welvaartsvoordele en luilekker lewe wat die Europese Unie gebring het, maar was nie bereid om vinger te trek daarvoor nie.

Die Christian Science Monitor lys sewe begrippe wat verstaan moet word:

Die Grieke het in wese reeds nie die pyp met terugbetalings gerook nie, en skuldeisers moet dink in terme van die beperking van hul verliese. Twee ekonome, Casper de Vries van Nederland en Jon Danielsson van Brittanje, het juis pas ‘n studie die lig laat sien waarin hulle pleit die Europeërs moet aanvaar Griekeland is bankrot, hul verliese beperk en die aandag fokus op ekonomiese herstel wat binne 20 jaar op 21 persent kan neerkom. Die dempende impak van die voortslepende Griekse kwessie, en die geheimhouding waarbinne dit aangespreek word knou nou die hele Europese ekonomie met beleggersfondse wat bykans opgedroog het.
Die PIIGS-lande staan nie alleen nie. Griekeland se probleme, vergeleke met die grootte van sy klein ekonomie is die ergste, maar Italië met een van Europa se grootste ekonomieë, se skuld staan op 120 % van dié land se bruto binnelandse produk. Hoewel die posisie van Frankryk effens beter is, wys waarnemers daarop dat Frankryk tradisioneel berug is vir hoe stadig dit herstellend uit die blokke kom. België se posisie is gegewe die komplekse politieke situasie in daardie land ook onseker. Die VSA, met ‘n presidentsverkiesing wat voorlê, en Japan het met soortgelyke probleme te kampe.
Die oplossings is nie net fiskaal nie, maar ook polities. Hoewel die Duitse Bundestag die vergroting van die Europese stabilisasiefonds, die EFSF, goedgekeur het, is die opofferings wat Duitsers moet maak om die Grieke vir hul luilekker-lewe uit te help, onder die Duitse kiesers ongewild. Die verkiesings in verskeie lande soos Finland en Swede het al tekens getoon van lang lippie-kiesers.
Om die probleem op te los moet besluit word of die Europese ekonomieë in een ekonomie gaan saamsmelt, of dit gaan lostorring van mekaar, en of die wa deur die drif gesleep moet word. Die laaste opsie lyk na die voorkeuropsie, maar vereis dat sekere drastiese besluite vinnig geneem moet word en vinnig deurgevoer moet word.
Om bankrot te speel is niks nuuts vir die Grieke nie, en baie ander lande het ook al so gemaak. Dié keer is die situasie egter baie anders, en in die konteks van die wêreldekonomie kan ‘n formele Griekse bankrotskap die verskeie sterk lande saam oor die afgrond sleep en die wêreldekonomie liederlik knou.
Dit sluit aan by die volgende probleem – die Europese krisis raak die ekonomieë van die hele wêreld. Amerikaanse banke het byvoorbeeld saam sowat $641 triljoen in PIIGs-lande belê.
Die VSA bied nie ‘n oormatige veilige alternatief nie, met Standard & Poor wat die VSA sy AAA-kerdietgradering ontneem het.
Die Amerikaanse situasie veroorsaak ook dat die Europeërs moeiliker hul ore vir die Amerikaners uitleen oor hoe om die kwessie op te los. Trouens, met Standard & Poor se nuwe gradering, moet pres. Barack Obama sy woorde tel om nie meer paniek as gerusstelling te saai nie. Die Duitse minister van Finansies, Wolfgang Schäuble, het gou Amerikaanse advies om € 2 triljoen van die Europese sentrale bank in Europese banke te belê as gek beskryf, en die VSA aangeraai om sy eie sake op te los.

Die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, het reeds getoon dat sy onwillig is om self die rol van gerusstellende leierskap op haar te neem wat die wêreldekonomie nodig het. Sy is traag uit die blokke, onder meer omdat sy eers by die Franse president gaan kers opsteek, en wanneer sy dan reageer, is dit wat sy sê dikwels die regte ding op die verkeerde tyd, soos pas na minder positiewe nuus oor die Duitse ekonomie self bekend geword het, of soos om vertroue in die Italiaanse ekonomie te blaas, die verkeerde ding op die regte tyd. Die Italiaanse premier se sekskapades terwyl Rome brand maak haar taak ook nie maklik nie.

Terwyl die fiskale skaakspel aan die gang is, sal Suid-Afrikaners ook moeilik weet presies weet wat in die Suid-Afrikaanse ekonomie aan die gang is. Met die Sjinese ekonomie wat nou al lank konstant taamlik sterk groei, is dit te wagte dat die Suid-Afrikaanse regering sy diversifisering van sy handels- en beleggingsbelange na agter die bamboesgordyn sal uitbrei.

Maar Suid-Afrika moet weet – niemand wil ‘n luilekker lotjie soos die Grieke by sy ekonomie inbind nie. Suid-Afrikaners kan verwag dat daar nog meer aankondigings gaan kom wat die land as beleggersland aantrekliker gaan maak. Al lawaai die vakbonde wat ‘n ruim skep vir min werk-benadering volg, ook hoe hard.

Herman Toerien