Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Goudkoors

Vanoggend sesuur was die goudprys nie net skynbaar flink op pad na die $2 000 per fyn ons-merk nie, dit het los onder die platinumprys uitgetrek.

Goud was toe $1 910,10 per fyn ons, met platinum wat op $1 887,00 per fyn ons agter geraak het. Ook die prys van silwer het tot $43 per fyn ons gaan toer.

Wanneer dit gebeur neig die prys van ru-olie afwaarts, want saam met die goue glans kom die bewustheid dat so ‘n scenario daarop dui dat beleggers min vertroue in die wêreldekonomie het, en hul beleggings nou in edelmetale verskans, met goud wat duidelik die vaandeldraer is.

Platinum het ‘n wyer nywerheidsanwending as goud, soos in uitlaatgaskatalisators en in rekenaars, en ‘n gedempte gemoed oor die wêreldekonomie sal soos die gedempte olieprys, ‘n remmende uitwerking op platinumpryse hê. Normaalweg is daar dié tyd van die jaar opwaartse druk op die olieprys, aangesien die groot nywerhede hoofsaaklik in die noordelike halfrond is, wat nou winter se kant toe staan, en steeds op groot skaal op ru-olie vir energieverskaffing staatmaak.

Dié sentimente word ge-ego deur effektebeurse wat ‘n liederlike blou Maandag beleef het en erg in die rooi geduik het, met die Frankfurtse Dax wat met meer as 5% verliese gely het waarskynlik die beduidendste. Dit volg weer op die hakke van ‘n deelstaatverkiesing – die soveelste in Duitsland vanjaar – wat die rug op kanselier Angela Merkel se CDU se ekonomiese beleid keer – die beleid wat soos bitter medisyne die ekonomie van Duitsland en Europa moet bestendig, en as ‘n belangrike reddingsboei vir die wêreld moet dien.

Twee Europese banke het gister ook reuse verliese aangekondig.

Boonop het die president van die IMF, Christine Lagarde, die VSA en Europa aangemoedig om die ekonomieë meer te stimuleer, selfs al beteken dit verhoogde staatskuld. Dit skep ‘n situasie van tussen die lelike ou dybil en die diep blou see vasgekeer te wees. Dit druis in teen die sentimente om die ekonomieë van Griekeland, Italië en Spanje weer vlot te kry deur uitgawes en inkomste te balanseer – iets wat die tea party ook op die VSA afgedwing het. Die een Europese land na die ander oorweeg om die Euro die rug toe te keer en eerder hul eie potjie te krap, eerder as om saam met die Europese blok sieketrooster vir die wêreldekonomie te speel.

Intussen bring die edelmetaalpryse vir Suid-Afrika ook goeie nuus. In randwaarde was die goudprys vanoggend meer as R13 576 per fyn ons. Voor mynmaatskappye in Suid-Afrika egter groot besluite oor nuwe, voorheen onlonende skagte en die heropening van skagte wat onlonend geraak het naam, sal eers vasgestel moet word op watter vlak die goudprys standhoudend is, die verhoogde koste van die nuwe elektrisiteitstariewe moet verreken, en sal groter sekerheid oor die ANC – veral die jeugliga – se nasionaliseringspraatjies verkry moet word.

Veral die onsekerheid oor laasgenoemde, kan Suid-Afrika duur te staan kom en die land die geleentheid laat verpas om te skep toe dit goud, silwer en platinum gereën het.

Spotprent: Trouw
Herman Toerien