Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Goud verdof – voorlopig altans

Maandagoggend het Suid-Afrikaners wakker geword met die nuus dat die goudprys dié van platinum verbygesteek het. Onlangs nog was platinum meer as ‘n $100 per fyn ons meer werd as goud.

Die redes dat goud en platinum plekke geruil het, het met die finansiële ramp verband gehou wat saam met die daglig al om en om die aarde getrek het.

Gou het platinum kortstondig die neus voorgekry, en sedertdien jaag die twee mekaar met die goudprys ‘n kortkop voor. Gister het platinum egter weer neus voorgekry, wat nie toevallig met die herstel van die wêreldmarkte verband gehou het nie.

Goud is tradisioneel ‘n beleggersverskanser wanneer die aandelebeurse onstabiel raak. Daarna volg ‘n fase van opportunitiese winsneming, waarna die pryse van goud, platinum en ru-olie min of meer op die persepsie van die stand van die ekonomie reageer.

Vanoggend sesuur was die platinumprys weer behoorlik koning, op $1 975 per fyn ons teenoor goud op $1 764. Die aandelemarkte in Europa het begin verbeter, veral dié van Duitsland, en Wall Street het daarna sy tweede sterk lopie gehad.

Presies hoeveel die herstellende vertroue standhoudend is, en met Barack Obama se vlerkknippery en daarna relatiewe stilte verband hou, is moeilik om te sê, maar dit lyk of die tegnokrate in die produktiewe sektor nou hul gewig begin trek. Deurdat Obama nou stewig aan die Tea Party se halsband vas is, kan hy nie meer veel skade aanrig nie. Die uitgee van andermansgeld is nou in die bek geruk.

In Suid-Afrika kon die aankondiging van die koste en implikasies van die voorgestelde nuwe gesondheidsplan nie op ‘n slegter tyd gekom het nie, en die feit dat die Johannesburgse beurs saam met die wêreldmarkte gereageer het, het waarskynlik min met binnelandse faktore te make. In die VSA het Obama se peperduur gesondheidsplan baie tot die krisis en veral die teenmaatreëls te make gehad, en peilings dui aan dat die onlangse Obama-euforie nou omgesit het in ‘n situasie war hy nou ‘n presidentsverkiesing sal verloor – al is die teenstander nog nie eens bekend nie.

Dat platinum nou so styg is ook ‘n aanduiding dat daar weer meer vertroue in die wêreldekonomie is, aangesien platinum vele industriële aanwendings het. Die slegte nuus is uiteraard dat die olieprys om dieselfde rede kan begin verstewig.

Maar Maandag breek weer ‘n nuwe week aan, en teen daardie tyd kan sake weer baie anders lyk.

Spotprent: Trouw

Herman Toerien