Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Gesoek: Behoorlike ondersoekende joernalistiek

Nuuskommentaar: Gesoek: Behoorlike ondersoekende joernalistiek

Te midde van die debat oor die nuwe voorgestelde inligtingswet, is dit ook nodig dat Suid-Afrikaners diep na hulself kyk en besin of die gemiddelde landsburger nie self ‘n aandeel het daarin dat die land kenmerke van ‘n volstruispolitieke republiek begin toon nie.

Dit het staatsdepartemente soos Statistiek Suid-Afrika nie lank geneem om vas te stel dat die doeltreffendste manier om ‘n owerheidsaksie, soos ‘n komende sensus, in ‘n TV-sepsie se storielyn te laat inskryf nie. Die tradisionele publisiteitsaksie aan so ‘n gebeurtenis gekoppel is peperduur, en dit is frustrerend dat – na bykans elke moontlike nuuskanaal en nuusmedium deur nuusdekking en advertensies benut is, ‘n breë segment van die publieke steeds nie weet van die aksie nie.

Of meen die deursnee-kyker dit was maar blote toeval dat oom Oubaas onlangs as kandidaat beskikbaar was, of dat die karakters kort voor ‘n belastingseisoen met hul taks se papierwerk doenig raak?

Dit is skokkend dat mense wat op hierdie wyse bereik moet word, oor ‘n uiters belangrike stemreg beskik wat die lotgevalle van ‘n land kan bepaal.

Voor dus vererg deur ‘n papierdun dagblad geblaai word en dan ergerlik te verklaar dat daar “niks” in was nie, moet die leser homself afvra of dit die gevolg van gebrekkige nuusoordeel aan die kant van die redaksionele bestuur is, of dat die betrokkenes hulle deur gereelde navorsing laat lei oor wat die nuusvoorkeur van lesers is? Radiostasies, veral gemeenskapsradiostasies, sou immers baie makliker die pyp kon rook as hulle net die programme hoef aan te gebied het wat die AMPS aandui baie luisteraars trek. OKOSA vereis in sy lisensievoorwaardes egter dat ook aspekte soos nuus, en hierby ingesluit, plaaslike nuus, ‘n groot aandeel moet hê. En na tien grusame moorde in dieselfde omgewing, en ‘n klomp middernagtelike ongelukke waar laataand gaste aan die woongebied se krip se motors om lamppale gevou staan, klink nuus oor die plaaslike kerkbasaar naderhand na baie goeie afwisseling.

Tog is daar ‘n segment van die bevolking wat werklik in aktualiteit belangstel – aktualiteit wat slegs deur behoorlike ondersoekende joernalistiek bevredig kan word. Dit is ‘n segment wat deel uitmaak van die groepie mense wat as meningsvormers bekend staan, of behoort bekend te staan.

Nie al hierdie meningsvormers het die luukse om in ‘n beroep te staan waar hulle self dokumentasie soos meningspeilings kan bestudeer om behoorlike gefundeerde menings te vorm nie. Baie is afhanklik van wat die media berig, en dit is die groep wat maklik tot die slotsom kom dat ‘n koerant, selfs ‘n dik koerant, “niks” in het nie.

Vanoggend kan mense met internettoegang lees wat die Bostonse gehaltekoerant, die Christian Science Monitor oor die voorgenome Suid-Afrikaanse inligtingswet skryf. Na die CSM vir ‘n kort rukkie van ‘n plaaslike verslaggeefster gebruik gemaak het wat te maklik ore aangesit is en basies regerengspropaganda vir soetkoek opgevreet het, is Scott Badauf weer agter die rekenaar, en in ‘n ongewone kort artikel toon hy weer waaroor ondersoekende joernalistiek nou eintlik handel. Hy wys gou daarop dat die beplande wetgewing Suid-Afrika in die teenoorgestelde rigting laat beweeg as nuwe wetgewing in Kenia en Nigerië, wat groter openheid verseker. Hy wys daarop dat die planne om hierdie wetgewing op die wetboek te plaas, Suid-Afrika ‘n afgegradeerde posisie op Freedom House se vryheidsindeks besorg het.

Suid-Afrika het ondersoekende joernaliste, beide binne die media en op vryskutvlak. Die beriggewing oor die Imvume-skandaal deur die Mail & Guardian sal as ‘n hoogtepunt uitstaan, en behoort ‘n veel groter impak op die Suid-Afrikaanse politieke toneel te gehad het. Dié appèlhofbeslissing hieroor is veronderstel om aardskuddend te wees – dit stel aan die kaak hoe maklik dit is om die bedoelings van die grondwet na die maan toe te stuur, tensy iemand, iewers, die duur juridiese pad wil loop om dit saak vir saak deur die howe te beredder.

Terwyl dit gebiedend noodsaaklik vir die behoud van ‘n gesonde demokrasie is dat mediavryheid bestendig word, is dit ook net so nodig dat die media werklik op die voorpunt dink en doen. Om sy eie ondersoekende joernaliste te snoer deur puik werk te rak – hetsy of dit is omdat geoordeel word die publiek sal nie belangstel nie of omdat dit politiek inkorrek is, laat die media vervlak.

Om voorkeur aan die vryskutbydraes te gee van “kenners” wat niks anders te sê het as dat Suid-Afrika ‘n puik grondwet het en dat net hard gewerk moet word om dit te laat werk, is volstruispolitiek.

Suid-Afrika moet ekonomies met die res van die wêreld meeding en daarom ekonomies hoë standaarde handhaaf. Dit is ‘n belediging aan die Suid-Afrikaanse nuuspubliek om hulle met iets minder as die beste – wat nog in die land beskikbaar is – te voer.

Herman Toerien