Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Geografiese uniekheid, diversiteit en gesindhede

Na die 1994-bedeling het die land nege provinsies, waarvan sommiges min of meer die voortsetting van die administrasies van voormalige tuislande was.
Kort-Kort gaan daar stemme in ANC-geledere op dat met provinsies, of minstens sommiges weggedoen moet word.
Die rede vir hierdie versugting blyk selde so klokhelder soos die aankondiging dat die Minister van Finansies meer as R2 miljard van die provinsies wat deur die ANC beheer word, moes onttrek weens ‘n rits redes, soos onderbesteding en wanbesteding.
Die enigste provinsie wat nie negatief geraak is nie, is die Wes-Kaap, waar die DA die septer swaai.
In bykans enige land sou hierdie nuus so kort voor ‘n landswye verkiesing wat by uitstek oor dienslewering handel, ‘n ernstige terugslag wees.
Die ironie is dat die Wes-Kaap se alternatiewe regering nie so seer die gevolg van beter kieserskeuses is nie, maar, soos dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus gereeld uitwys, die gevolg is daarvan dat verkiesings in Suid-Afrika nog grootliks op rassesensusse neerkom. Hierdie soort nuus sal dus nie die aardskuddende uitwerking op die verkiesingsuitslag hê wat dit behoort te hê nie.
Trouens, ‘n onlangse IDASA-peiling toon aan dat slegs een uit tien Suid-Afrikaners tevrede is met die vlakke van dienslewering. Kort-kort is daar onluste oor dienslewering terwyl die omstredenheid oor kandidatelyste ook kort-kort gewelddadig oorkook. Die ironie is dat hierdie soort gewelddadigheid juis die klikbekke van ‘n eenparty-mentaliteit is – daar waar kiesers die volledige magstryd in die party self uitbaklei, en die werklike veelpartyverkiesing nie veel meer as ‘n rubberstempel is nie.
Swelfs ware opposisiepolitiek ly skade deurdat opposisiekiesers aangemoedig word om vir die beste van die alternatiewe euwel, by wyse van spreke, te stem om die ANC te breek, eerder as vir hul eie beginsels waaroor veelpartydemokrasie werklik behoort te handel.
Die etniese gebondenheid hiervan is ook nou die ANC se vernaamste wapen teen verkiesingskade. Daar sal, volgens hierdie hipotese, dus deurlopende opmerkings en optredes kom wat ontwerp is om die ras-lotsgebondenheid te verdiep, en sodoende massale drostery na opposisiepartye bykans ondenkbaar te maak. Manyi se uitlatings, wat die ANC opsigtelik groot skade onder die bruin gemeenskap veroorsaak het, is vreemd hanteer. Die afleiding is dat die ANC in wese die Wes-Kaap reeds as ernstige teiken afgeskryf het, en eerder die gevolglike polarisasie wil verdiep om elders skadebeheer toe te pas. Die ernstige poging om die Wes-Kaap te bevry, soos die ANC dit stel, sal dus vir later gebêre word.
Volgende week se haatspraakverhoor teen Julius Malema, waar die ANC hom volledig as party tot die singende bogprater se sy gevoeg het, sal dieselfde polariserende uitwerking hê. In beginsel is dit egter nou ‘n saak waaroor die howe uitsluitsel moet gee omdat die ANC sy verantwoordelikheid om, as regering, in algemene belang te regeer, skandelik versaak. Meer en meer praatjies oor voortgesette rassediskriminasie in die werkplek sal gehoor word. Skielik is ‘n verpligte Afrikataal op die mees onlogiese vlakke ter sprake, terwyl dit duidelik is die voorstellers sluit Afrikaans as Afrikataal uit.
Hierdie soort magspel waar geen sinvolle staatkundige uitlaatklep vir diversiteit gelaat word nie, hou die potensiaal in om ‘n Sri Lanka en Ivoorkus-afloop te hê. Talle lande het in plaas van oneindige demokratiese verwringing weens diversiteit, dié diversiteit grondwetlik verreken, soos Switserland, België – steeds in transito -, nou die Soedan, Indië, Nieu-Seeland, Libanon en selfs Nigerië.
As die land onder sy huidige staatkundige bestel vreedsaam wil slaag, sal die ANC dringend alle burgers as gelyke burgers moet behandel. Gesindheidsbrekers sal uit relevansie gehaal moet word – nie gesterk word nie. Anders gaan die grondwet, soos die destydse president van die RGN, dr. Tsjaart van der Walt voorspel het, doodeenvoudig nie werk nie.