Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Geloofwaardigheid

Meng jou met die semels dan vreet die varke jou op.

Hierdie waarheid geld ook die geloofwaardigheid van politici, en pres. Jacob Zuma is met sy pendeldiplomasie na Tripoli besig om presies hierdie boodskap weer te leer … of is dit nou al andersom?

Die Weste is nou te ene male al te veel keer deur die Libiese leier, kol. Muamar Kadhaffi, met sy blatante spekskietery ore aangesit. Nou hou hulle die voet op die petrolpedaal, by wyse van spreke, en maak dit duidelik Kadhaffi in die stoel is nie deel van enige toekomsplanne nie.

Teen dié vasbeslotenheid in, probeer die Afrika-Unie steeds iets vir Kadhaffi beding. Op die oog af lyk dit of die Afrika-Unie se optrede meer ‘n dunvellige reaksie is op die Weste wat tot die punt gevorder het waar die Afrika-Unie en sy slaphandbeleid geïgnoreer word.

Zuma se pendeldiplomasie was veronderstel om bietjie aansien in die Afrika-Unie te herstel. Suid-Afrika is immers ‘n lidland van Brics.

Behalwe vir die Brics-faktor is dit egter ‘n ope vraag of dit wys was om Zuma af te vaardig. Al maak Zuma daarop aanspraak dat hy vordering gemaak het, en dat Kadhaffi begerig is tot ‘n soort samewerking om die krisis te ontlont, sing die buitelandse pers basies net een deuntjie – Zuma het op dees aarde niks uitgerig nie. Die geluide wat Kadhaffi glo sou gemaak het, is boonop niks nuuts nie.

Dit is nie net Kadhaffi se reputasie as iemand wat maar losweg met die waarheid omgaan wat die skeptisisme veroorsaak nie. Zuma het self ‘n stewige hand daarin dat hy self nie as die mees geloofwaardige regeringshoof op die planeet beskou word nie. Sy jongste geloofwaardigheidsflater was die rug styfmakery oor die omstrede inligtingswetsontwerp, na voor die verkiesing reeds aangedui is dat sekere konsessies gemaak sal word. Die ANC se voorverkiesingshouding het die land reeds ‘n paar plekke op die internasionale persvryheidsindeks gekos, terwyl drukgroepe soos Freedom House ook na die jongste ommekeer sorg dat die wêreld goed ingelig bly oor vryhede wat op die altaar van politieke gedienstigheid geplaas word.

Die manier waarop Mugabe van Zimbabwe Suid-Afrikaanse regeringsleiers al jare lank vir die gek hou, knou die land se aansien. Dit word nie uitgekanselleer deur die hoflikheid van politieke protokol en ‘n koetsrit saam met die queen nie. In die internasionale politieke arena geld die doktrine immers ongenadig, dat state gelyk en ongelyk tegelyk is. Die “gelyk” is protokol-vertoon, en die “ongelyk” die ongenadige harde werklikheid waarmee veral die wêreldekonomie afreken.

In ‘n omvattende artikel in die Christian Science Monitor word ‘n insiggewende blik gegee van presies hoe belangrik die wêreld Suid-Afrika skat. Dié artikel handel oor Bric, met die enigste verwysing na Brics om te meld dat Suid-Afrika baie by die Bric-lande het om te leer. Verder word veral Sjina, Indië en Brasilië se rol om armoede teen te werk belig. Danksy die groei van die middelklas in hierdie lande word verwag dat die wêreld teen 2020 meer middelklas-burgers as armes sal hê. Die kriteria wat aan die middelklas gestel word, soos eie voertuie, TV en vele meer, herinner sterk aan wat in Suid-Afrika waarskynlik net aan die meer welgesteldes gedink word.

Suid-Afrika moet waak daarteen dat sy Brics-rol nie die internasionale beeld verwerf van ‘n vlooi wat op die Bric-olifant se rug ry, en dan boonop astrant, wanneer die olifant oor die brug loop, sê: “Sjoe, ons laat die brug darem kreun,” nie.

Om geloofwaardigheid te herwin sal Suid-Afrika veel meer moet doen as om bloot met regeringsleiers soos Kuba se Castro’s, Hugo Chaves, Kadhaffi en ander ongure karakters van die wêreld geassosieer te word. En as daardie muishondleiers boonop nog vir Zuma met donkie-ore toerus, het die land se beeld net verdere skade gelei.

Herman Toerien