Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Galgtou of Nobelvredesprys vir persvryheid

Op die oomblik is daar elders ter wêreld altesaam 10 mense ter dood veroordeel of kan die doodstraf opgelê word vir aksies wat Suid-Afrikaners as die vanselfsprekende reg tot meningsuitdrukking beskou. Of dan, op die oomblik nog as ‘n vanselfsprekende reg beskou. Al tien is van Iran of Viëtnam, en die meeste is bloggers of wat Verslaggewers Sonder Grense “netizens” noem.

Twee joernaliste wat nog moet hoor of die aanklagte wat teen hulle aanhangig gemaak is hulle hul lewe gaan kos, wag in Oeganda op hul lot, en een in Soedan.

Terwyl die wêreld drie vroue gelukwens omdat hulle vanjaar die Nobel-vredesprys deel, is verlede jaar se wenner, Liu Xiaobo, ‘n Chinese skrywer, steeds agter tralies waar hy tien jaar tronkstraf uitdien. Boonop het Chinese druk skynbaar verhinder dat ‘n vorige Nobelpryswenner, die Dalai Lama, Suid-Afrika kon besoek. Onder die 55 halsmisdade in China laat veral twee die deur oop vir interpretasie wat ‘n burger of joernalis wat sy mond uitspoel sy lewe kan kos.

Die goeie nuus is dat die teregstelling van joernaliste wêreldwyd afgeneem het.

Een van die Nobelvredespryswenners is die Jemeense joernalis, Tawakul Karman, medestigter en voorsitter van Joernaliste sonder Kettings. Sy beywer haar vir die val van die militêre bewind van pres. Ali Abdullah Saleh, maar het ook ‘n sterk aktivistiese rol gespeel dat Jemeense burgers ook toegang tot elektroniese nuus kon kry. Jemen beklee die 170ste uit ‘n moontlike 178 plekke op die internasionale presvryheidsindeks, en dit is dus ook nie vreemd dat sy al ‘n paar keer kort periodes agter tralies deurgebring het nie.

Die slegte nuus is dat joernaliste steeds ‘n swaar prys met hul lewens betaal – vanjaar is altesaam 52 – vyf minder as die hele vorige jaar – reeds in die uitvoering van hul werk dood. Nog drie media-assistente het omgekom. Altesaam 160 joernaliste het vanjaar agter tralies beland, asook nege media-assistente. Voeg hierby die 125 netizens wat reeds vanjaar die traliedeur agter hulle hoor toeklap het.

Een van die lande wat die posisie van boonste sport met persvryheid met ‘n paar ander lande deel, Nederland, het presies twee jaar gelede ook ‘n stelletjie met China en die Dalai Lama afgetrap. Dit het geblyk dat die Nederlandse Veiligheidsdiens, die AIVD die telefoongesprekke van ‘n joernalis van De Telegraaf wat geklassifiseerde inligting oor die besoek van die Dalai Lama gepubliseer het, meegeluister het.

Die veiligheidsdiens het bloedneus in die hof gekry, en die AIVD wat vergeefs probeer het om die saak in camera te laat verhoor, het gekla dat die openheid van die hofsaak sy hande agter sy rug vasgebind het. Die hof het bevind dat daar alternatiewe maniere as die skep van ‘n klein Watergate was om die verlangde inligting te bekom.

Intussen broei ‘n storm in die naburige Vlaandere, waar ‘n aktualiteitsprogram pas onthul het dat ‘n polisiehoof in Hasselt twee jaar gelede deur vier verklikkers van korrupsie beskuldig is. Hoewel die saak sedertdien deur ‘n komitee ondersoek word, is al mense wat tot dusver aan die pen gery het die vier verklikkers. In een van die mees onlangse verwikkelings het die advokaat vir die polisie die joernalis wat die saak ondersoek het, van onbehoorlike joernalistiek beskuldig. Dit het ook ‘n taai politieke toffie geword wat blykbaar nou nie net die beweerde toesmeerders gaan skaad nie, maar die burgemeester ook haar amp kan kos.

Intussen het die Europese Geregshof die posisie van verklikkers bykans onaantasbaar gemaak deur in die guns van ‘n Duitse vrou wat wanpraktyke van haar werkgewer bekend gemaak het, te beslis.

Suid-Afrikaanse regspraak het ook ‘n belangrike hoeksteen vir die openbaarmaking van korrupsie ingeslaan in die saak van Tshishonga versus die Minister van Justisie en ander. Tshishonga was ‘n adjunk-direkteur-generaal van Justisie wat vergeefs by sy DG, destyds Vusi Pikholi en ook minister Essop Pahad gekla het oor die destydse minister, Penuel Maduna skynbaar gunskontrakte vir die omstrede Enver Motala gelas het.

Einde raad het hy ‘n mediakonferensie belê, en is afgedank. Hoewel hy die hofsaak en ‘n opvolgsaak in 2006 gewen het, en Maduna in die slag gebly het, is Motala eers vanjaar na druk deur Solidariteit verwyder. Die hof het bevind dat Tshishonga geen ander opsie as ‘n mediakonferensie gelaat is nie.

Die beoogde inligtingswet, as openbare belang as verweer verwyder sou word, sou sterk aan die Chinese snoerwetgerwing herinner, en in effek ‘n streep deur die presedentereg trek wat met die Tshishonga-saak daargestel is.

Suid-Afrika is nou by die kruispad waar gekies moet word: Die koers soos Nederland waar die owerhede tot die mins ingrypende maatreëls vir die beskerming van staatsveiligheid gedwing word, of die Chinese opsie waar die owerheid al die troewe hou, en die nuusdraer spreekwoordelik gehang word.

In ‘n land waar korrupsie volgens sommige waarnemers reeds endemies geword het, is wetgewing wat toesmeerdery versterk nie ‘n opsie nie.
Herman Toerien