Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Gaan Belgiese vlinderakkoord vlerke kry?

Lesse vir diversiteit
Dit het 485 dae geneem sedert die Belge stembus toe is, maar gister het die Belgiese politikus wat opdrag by die koning gekry het om ‘n koalisieregering saam te stel aangekondig dat hy en sy onderhandelaars ‘n akkoord, bekend as die vlinderakkoord, gesluit het.

Die vlinderakkoord is gesluit betreklik kort na die ingewikkelde kwessie oor die hoofstadgebied, bekend as die BHV, ook besleg is.

Intussen is die land deur ‘n instaanregering met beperkte magte regeer, ook ‘n moeilike taak te midde van die ekonomiese krisis in Europa wat ook België baie hard getref het. Die lot van die Dexia-bank is een van die taaiste vraagstukke waarmee die instaanregering te kampe het.

Dit het kort na die verkiesing duidelik geword dat dit geen gewone koalisievorming kon wees nie. Dit sou eers ‘n ooreenkoms met ingrypende staatkundige aanpassings vereis voor oor koalisievorming gedroom kon word. Dit het groeiende Vlaamse belange teenoor die belange van die Wale gestel. Vlaandere subsidieer Wallonië jaarliks met miljarde euro’s. Vlaandere het nie net van ‘n agterstand ontwikkel tot ‘n vlak waar Vlaandere veel welvarender as Wallonië is nie, maar die Vlaminge is ook heelwat meer as die Franssprekendes. Tog is dit nie in die staatswerklikhede weerspieël nie. Om maar een voorbeeld te noem – Vlaamse skoolkinders moet Frans as tweede taal op skool neem, terwyl Franssprekendes nie Vlaams hoef te neem nie. Trouens, dit blyk dat meer Franssprekendes verkies om Engels as Vlaams as tweede taal aan te leer.

Die Vlaminge se hakskeen-inskoppery het ook daarmee te make dat Franssprekendes in die omgewing van Brussel – wat in Vlaamse gebied geleë is, in wese besig was om Vlaamse gebied te koloniseer. Dit behels dat hulle in Vlaamssprekende gebiede gaan woon, en dan, strydig met die wetlike vereistes, weier om Vlaams aan te leer en steeds op volle Waalse regte aandring. ‘n Groot deel van die BHV-akkoord handel oor die aanspreek hiervan.

Die skikking behels breedweg dat die federale regering se magte ingekort word, en die verantwoordelikhede van die deelstate meer word. Terwyl die Vlaminge oorwegend meen dat hul belange en versugtinge in die akkoord goed met dié van die Franssprekendes opweeg, is daar baie stemme uit Wallonië dat die Franssprekendes baie bedroë daarvan afgekom het.

Die koalisieregering wat nou gevorm gaan word, moet daartoe verbind wees om die akkoord oor die volgende dekade of twee deur te voer, maar intussen gaan nog algemene verkiesings plaasvind en die Vlaamse nasionalisme groei.

Die Belgiese kwessie is kompleks. Benewens die hoofstadgebied wat ‘n eenvoudige geografiese oplossing moeilik maak, is daar nog ‘n Duitssprekende minderheid wat staatkundig ondervang moet word – beide in die Duitssprekende gebied en in die BHV.

Die Brabantse kwessie is eerder interessant as besonder relevant. Die oorspronklike Brabant, wat in sy gloriedae standgewys met die Groothertogdom van Luxemburg vergelyk kon word, is met die verdeling van Nederland en België min of meer middeldeur gesny. Brabants as taal val min of meer tussen Nederlands en Duits, en het in sekere kringe ‘n soort herlewing beleef, in so ‘n mate dat ‘n eerste Brabantse Bybelvertaling ‘n paar jaar gelede te midde van groot feesvieringe bekend gestel is.

Hoewel Brabant in Nederland en België nou as Nederlandssprekend gereken word, het dit ook ‘n Franssprekende deel, en word die Belgiese koningshuis ook met die groothertogskap van Brabant verbind.

Brabant is een van ‘n paar provinsies wat tussen Nederland en België verdeel is, en in hierdie provinsies is daar elemente wat die herkonsolidering van die provinsies voorstaan, en hulle word skynbaar meer. Dit beteken dat daar minstens ‘n beperkte gevoel is dat Vlaandere nie uiteindelik ‘n onafhanklike republiek moet vorm nie, maar deel van Nederland sal vorm.

Uit ‘n staatkundige oogpunt het die Belgiese Kodesa en die Suid-Afrikaanse Kodesa in teenoorgestelde rigtings beweeg. In België beding die deelstate meer afgewentelde gesag, terwyl in Suid-Afrika oorspronklike gesag vir bevolkingsgroepe opgeskort, en deur beperkte afgewentelde geografiese gesag vervang is.

Die Arabiese domino-revolusie dui ook aan hoe belangrik dit is dat middelpuntvliedende kragte staatkundig ondervang moet word. In Egipte het die naweek sowat 26 Koptiese Christene om die lewe gekom. Dié verwikkeling sal waarskynlik die Christene in Sirië nog minder entoesiasties vir die rewolusie teen die diktator Basshar al-Assad maak.

Die sluipmoord op ‘n Koerdiese leier in Sirië waarvoor die Assad-regime verdink word, het tot Koerdiese bestorming van Siriese ambassades in verskeie Europese lande gelei. En hierdie Koerdiese leier het nie eens baie steun in Sirië onder Koerde gehad nie omdat hy nie sterk standpunt oor Koerdiese selfbeskikking ingeneem het nie.

Die Belgiese proses was dalk langsaam en tydsaam, maar wanneer middelpuntvliedende en middelpuntsoekende kragte in ‘n staatkundige model gegiet moet word, is ‘n ontwerpfout nie ‘n goeie opsie as dit na die monteerband aanbeweeg nie.

Opgestel vir Maroela Media

Herman Toerien