Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Einde van die politiek van die middelvinger?

“Dit is die einde van die politiek van die middelvinger,” en dadelik word gedink aan die politieke styl van Julius Malema wat pas, minstens voorlopig, in die politieke woestyn beland het.

Maar so toepaslik soos die aanhaling op Suid-Afrika is, kom dit uit Nederland, en aan die woord is die historikus en stigter van Het Debatbureau, Fritz Bloemberg.

Bloemberg verwys na Nederland se willewragtig-politikus, Geert Wilders, wat met sy party se gedoogde steun die Nederlandse koalisieregering moontlik gemaak, en oplaas tot ‘n val gebring het.

Bloemberg meen Wilders het sy tyd oorleef – ‘n dekade waarin die politiek op die probleme gefokus het, eerder as die oplossings. Te lank was Wilders die stert wat die hond geswaai het, wat op probleme geteer het, maar toe komplekse probleemoplossings onafwendbaar geword het, was Wilders uit sy element.

Peilings toon dat Wilders en sy party se steun gedaal het.

Malema en Wilders is ideologies pole van mekaar verwyder, maar in styl is daar heelwat ooreenkomste. Beide is aangekla van, wat in Wilders se geval in wese ook neerkom op haatspraak teenoor minderhede. Wilders is vrygespreek, Malema se saak is op appèl geneem – met die steun van die ANC in ‘n tyd toe Malema die hond was wat die stert geswaai het.

Malema het by die ANC-alliansievennote uitgebak geraak, Wilders kry min vriendelike woorde van diegene wat hy eens gehelp het om aan bewind te bly.

Maar daar eindig die oppervlakkige ooreenkomste. Persepsies oor Wilders is immers grootliks die produk van karikatuursketsing wat veral onbillik op sy voorste partygenote reflekteer.

Malema was vanuit die staanspoor deel van die probleem, en nie die oplossing nie.

Malema was die meester van die simboliese inspan van die politieke middelvinger. Die werklike, onbedoelde inspan het van ‘n destydse Administrateur-generaal van SWA-Namibië gekom, wat vir verbygangers gewaai het en gemeen het hy gee die vredesteken – met sy hand verkeerdom. Die vriendelike verbygangers het dié gebaar op film vasgelê. ‘n Deeglik-bedoelde middelvinger het aan ‘n opposisiepolitikus behoort voor sy ‘n diplomaat geword het.

Suid-Afrika se tegnologiese eise aan die ekonomie het ‘n vlak bereik waar dit nie meer Malema se heethoofdigheid kan bekostig nie. Ernstige tegnokratiese, suiwer bestuur, eerder as kiesers heuning om die mond smeer, is nou nodig. Ché Guevara-pette en die beantwoording van harde werklikhede met revolusionêre retoriek wat al dekades lank in die asdrom vrot, is soos ‘n yslike middelvinger wat die land nie kan bekostig nie. Dit kan die land se munisipaliteite wat soos kaartehuise ineen stort laat brand, maar dit gaan nie die probleem beredder nie.

Die kabaretster, wyle Wim Kan het die wysheid kwytgeraak dat, in Nederland moet jy presies weet hoe ver jy te ver kan gaan.

Klaarblyklik geld dieselfde in die ANC – Malema het nie halt geroep toe hy te ver gegaan het nie, en hy het verder te ver gegaan as wat sy politieke bas hom kon red.

Nog woorde wat Bloemberg aan die adres van Wilders gerig het, kon net so maklik aan Malema gerig gewees het: “Polarisasie is in die politiek aanwesig, veral as strategie om te wen, maar dit is nie die strategie om probleme mee baas te raak nie.”

Môre vier Suid-Afrika Vryheidsdag, maar Malema se rol in polarisasie met sy haatspraaklied en aantygings dat blankes misdadigers is, sal verseker dat baie mense te veel van die feesvierendes geïsoleer voel om ‘n jolytgees te beleef. Vreugde uit hierdie geledere sal waarskynlik merendeels daaroor handel dat Malema minstens vir ‘n tyd lank nie meer so ‘n groot politieke en ontstemmende invloed sal wees as wat hy was nie.

Mag dit inderdaad so wees dat Suid-Afrika die era van die politiek van die middelvinger agter hom kan plaas.

Fatsoenlikheid, moraliteit, integriteit en hardwerkendheid – dis wat die land vorentoe kan neem.

Tsmaia hantle, Julias.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien