Subscribe by Email

Nuuskommentaar: E-tol – distel met baie dorings

Die howe in Gauteng is vandag ‘n besige plek. Nie alleen dien ‘n aansoek voor die hof oor Pretoria se straatrnaamwysigings, en veral die wyse waarop dit deurgevoer word voor die hof nie, maar ook die e-tol staan by wyse van spreke in die beskuldigdebank.

Die twee aansoeke verskil baie, maar daar is enkele aspekte wat dit in gemeen het, met seker die opvallendste ‘n gebrek aan deursigtigheid.

Deursigtigheid is nie net ‘n grondwetlike kwessie, met spesifiek artikel 32 as voorbeeld nie, maar deursigtigheid is een van die belangrikste wapens teen korrupsie. En oor die e-tol loop gerugte van korrupsie baie diep.

Dit skep ‘n bose kringloop – hoe sterker die persepsies oor korrupsie, hoe meer geneig is lande wat ontwikkelingshulp beskikbaar stel, om die beursie dig te hou. En selfs waar lande wat ontwikkelingshulp aanbied, dit nie vir infrastruktuur oormerk nie, behels dit enorme bedrae wat die regering in die ontvangerportefeuljes kan bespaar en na ander behoeftes soos infrastruktuur kan kanaliseer.

Kortom, hoe meer ontwikkelingshulp, hoe meer regstreekse en onregstreekse fondse is daar vir infrastruktuur, waaronder paaie, en hoe minder die behoefte aan betaalmeganismes soos die e-tol.

Twee LP’s van die Europese Parlement wat langlippie is oor Suid-Afrika nog hulp uit die EU kry, beweer dit beloop 980 miljoen Euro’s (meer as R10 miljard) vir die periode 2007 tot 2014. Ter verdediging voer die Europese Kommissie aan dat die hulp nodig is om sosio-ekonomiese ongelykhede uit te skakel. Die Kommissie self het versuim om in antwoord op ‘n parlementêre vraag ‘n bedrag te noem, en dit as gering afgemaak. Die hulp van die EU, saam met die bydraes van lidlande, is volgens die Kommissie sowat 0,4 % van Suid-Afrika se BNP.

Van die krane het reeds bietjie begin toedraai. Waar Swede se ontwikkelingshulp aan Suid-Afrika enkele jare gelede 200 miljoen krone (R223 miljoen) behels het, het dit na 80 miljoen krone afgeneem, met vooruitsigte van ‘n styging tot 100 miljoen krone.

‘n Groot rede vir die afskaling is die voorkeur wat ontwikkelde lande gee aan, wat as vennootskapsbouaksies, bekend staan. Op die webwerf van die Nederlandse ambassade in Suid-Afrika, onder ontwikkelingshulp, is dit ook die enigste inligting wat beskikbaar is.

Die Europese Unie, soos baie ander hulpverleners, onderskei tussen wat as verantwoordwoordelike, en onverantwoordelike state beskryf word. In eersgenoemde geval, soos Suid-Afrika, word die hulp hoofsaaklik in die regeringskoffers gestort. In die tweede geval gaan die fondse na NRO’s sodat die goeie werk gedoen kan word, sonder dat die regerings hul hande daarop kan lê en dit verduister. Robert Mugabe haat NRO’s.

Trouens, met die instelling van die HOP het die Suid-Afrikaanse regering effektief aangedring dat hierdie fondse na die staat gaan. In 2000 het Lala Carmerer van die Instituut vir Sekerheidstudies se teen-korrupsieprojek dit in ‘n verslag Terms of Endearment: Bilateral donor engagement in fighting corruption in South Africa, bespreek. Na 1994 het die Suid-Afrikaanse regering in effek aangedring dat fondse in die HOP-begroting gestort word, en byna alle donateurlande was maar te gewillig om die post-apartheidsregering hierin ter wille te wees. Carmerer beskryf hoe dit katastrofaal vir NRO’s was ten spyte daarvan dat donateurs steeds sowat 25 % van hul fondse regstreeks na NRO’s en projekte gekanaliseer het.

Wanneer dit verkiesingstyd in Nederland is, sê die Nederlandse pers graag die Nederlandse politiek is te skisofrenies vir ‘n buitelander om te verstaan.

Nou is daar weer sprake van ‘n verkiesing en is dit nie anders nie, maar wat seker is, is dat Suid-Afrika geraak gaan word.

Onderliggend was die mislukte samesprekings in die tuiste van die Nederlandse kabinet, die Catshuis. Aan die bod was die besuiniging van $14 miljard Euro’s op die begroting, as riglyn van die Europese kommissie. As deel van die besparings sou sowat ‘n miljard Euro’s aan buitelandse hulp teruggesny word. Nederland was tot dusver een van die min lande wat aan die VN se riglyn gehoor gegee het om 0,7 persent van sy BNP aan ontwikkelingshulp af te staan. Die totaal was nou 4,7 miljard Euro’s, en die oogmerk is om dit na 0,6 persent terug te sny.

Die krisis in die Catshuis het egter oor die hele pakket van besnoeiings gehandel. Die bekende Geert Wilders het sy party se gedoogde steun aan die koalisie onttrek en uitgestap. Hy meen die besnoeiings is te veel, sal die groeikoers te veel aan bande lê, en tot ‘n kettingreaksie lei wat die toekoms maar taai gaan maak.

“Ons ou mense moet ly om die onverantwoordelike Grieke te voed,” het hy gesê.

Volgens berigte het sy party egter vroeër tot die besnoeiing van die ontwikkelingshulp ingestem. Trouens, oor ‘n breë spektrum is die Nederlanders sat vir bodemlose putte terwyl hulle self gordel intrek.

Die kwessie aan buitelandse hulp is egter sterk onder die kollektiewe gewete van die Nederlanders geswaai. Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu het ‘n emosionele pleidooi gelewer dat Nederland nie op sy ontwikkelingshulp moet terugsnoei nie, weens die onvermydelike swaarkry wat dit tot gevolg gaan hê.

Onder baie Nederlanders is Tutu nog ‘n ikon, en hy roer die hartsnare.

Maar is die geldknyp en die Europese fiskale probleme al rede waarom die kraantjie effens toegedraai kan word?

Suid-Afrika was in ‘n konsep-dokument reeds op die lys van lande aan wie Nederlandse ontwikkelingshulp opgeskort sou word. Met die publikasie van die lys in ‘n koerant, was daar besware onder politici oor van die keuses, soos dat Egipte kort na sy treetjies na ‘n nuwe demokrasie in die steek gelaat word. Ontsteltenis oor Suid-Afrika se weglating was daar nie.

Intussen is ‘n Nederlandse hulpwerker, Reita Vulik, in KwaZulu-Natal ontvoer en vermoor. Dit het nie veel bygedra om Suid-Afrika se aanspraak op hulp te versterk nie.

Vroeër het ‘n lywige inspektoraatverslag skokkende gegewens aan die lig gebring oor hoe Nederlandse ontwikkelingshulp die voorafgaande aantal jare in die sakke van korrupte regerings beland het. Selfs geld wat spesifiek vir gesondheidsorg en onderwys bewillig is, het nie die armstes van die armes bereik nie. Te min aandag is ook aan die landbousektor geskenk.

Die winde van verandering waai egter al ‘n paar jaar. Die voormalige Britse Arbeidersminister van Buitelandse Sake, Peter Hain, het tydens sy ampstermyn die sogenaamde nuwe Britse en Nederlandse edik oor buitelandse hulp uitgevaardig. Die hulp sou voortaan daarop gemik wees om korrupsie uit te roei en lande wie se leiers die geld na hul eie sakke kanaliseer sou uitgesny word. Regerings sou voortaan ‘n verbintenis tot gesonde regeerkunde, ‘n verbintenis tot die uitroei van korrupsie en die bevestiging van ‘n verbintenis tot demokrasie openbaar.

Afrika is potensieel ryk en dié rykdom moet ontsluit word, en venootskappe en beleggings is nou die gonswoorde. Miskien moet Tutu die oorsake vir die toevouende hand nader tuis soek.

Maar het Europa keuses anders as om te besuinig? Media 24 berig dat ontluikende ekonomiese moondhede, wat die naweek miljarde dollars aan die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se sogenaamde brandmuurfonds belowe het, besorg is daaroor dat hulle hul geld dalk in ’n bodemlose Europese put kan stort en soek ook dringend die groter stemreg wat die IMF jare reeds belowe.

Teen dié agtergrond is dit uiters onwys om nie oor die e-tolprojek oop kaarte te speel nie. Die Tesourie het hom as party tot die hofsaak toegevoeg en sê indien die Nasionale Padagentskap, Sanral verbied word om die heffing van tolgeld te implementeer, kan dit verreikende gevolge op die toekomstige befondsing van paaie, asook belegging in openbare vervoer wees. Met ‘n korrupsiepersepsie oor Suid-Afrika en ‘n onnodige stilswye, kan die las inderdaad vir die belastingbetaler ondraaglik word.

Die vrye wêreld is reeds ontstoke oor Suid-Afrika se beoogde snoerwet, en die e-tol se ondeursigtigheid is ‘n voorsmakie van wat kan wag.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien