Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Doodsklok vir Assad-bewind?

Volgens die Israelse minister van Verdediging, Ehud Barak, het die bewind van Bashar al-Assad in Sirië nog net enkele weke oor.

Daar is ‘n paar redes hoekom Barak se opmerking na waarde geskat moet word.

Die eerste is dat Israel aan Sirië grens, en dat Sirië tradisioneel een van die speerpunte van aggressie teen Israel was. Trouens, dat Sirië tot terreurland verklaar is hou heelwat verband met dié land se vyandigheid jeens Israel.

Boonop het Israel ‘n strategiese stuk Siriese grondgebied, die Golan-hoogland, tydens ‘n oorlog afgeneem, en geannekseer. Vir Israel is dit ‘n ononderhandelbare kwessie – vanaf die Golan-hoogland het vyandelike magte ‘n goeie uitsig oor ‘n groot deel van Israel, en kan vuurpyle en kanonne baie akkuraat op Israelse bewoonde gebiede gerig word.

Vir Sirië bly dit ‘n teer kwessie.

Min lande se intelligensie-insameling en –vertolking oor Sirië kan waarskynlik by dié van Israel en sy spioenasiediens, Mossad kers vashou. Wanneer Israel sê Assad gaan binne weke val, moet die wêreld kennis neem.

Dat Israel hom hier aan wensdenkery sal skuldig maak, is hoogs onwaarskynlik. Ongeag wie die Assad-bewind gaan vervang, die kanse is minimaal dat die bedreiging vanuit hierdie buurland kleiner sal wees. Trouens, dis heel moontlik dat die nuwe bewind ‘n sterker Islamitiese karakter sal hê, en selfs meer vyandig kan wees. Onregstreeks kan Israel egter voordele put.

Intussen het die waarnemers van die Arabiese Bond in Sirië begin aankom. Aanvanklik het die Siriese regering skynbaar heel suksesvol die waarnemers wolle oor die oë getrek. Die waarnemers is byvoorbeeld deur die Assad-magte na ‘n bestemming geneem en wysgemaak dat hulle inderdaad een van die brandpunte besoek. Die gevolg was ‘n bontpratery uit die geledere van die waarnemers, en het van die opstandelinge begin aanvoer die waarnemers se ontplooiing is eintlik net ‘n oëverblindery en in werklikheid gerig om die Assad-bewind teen die mense te help. Trouens, dit lyk baie waarskynlik dat die leier van die waarnemers, die Soedanees Moestafa al-Dabi, inderdaad in Assad-bondgenoot is.

Die hoof van die Arabiese Bond, Nabil Elaraby van Egipte, is egter klaarblyklik veel beter as sy waarnemerhoof ingelig oor wat op grondvlak aangaan. Hy weerspreek Al-Dabi regstreeks oor die sluipskutters op geboue se dakke, hoewel hy toegee hy weet nie werklik op wie die skutters skiet nie. Volgens die jongste inligting het die Siriese leër vir die eerste keer aan die ooreenkoms met die Arabiese Bond gehoor begin gee en hul magte aan die sentrale stadsgebiede begin onttrek.

Die kanse is goed dat Elaraby nie net sy inligting van sy waarnemers nie, maar ook Israel kry.

Intussen styg die dodetal daagliks, en staan nou na raming op meer as 5 000.

Sirië se bevolkingsamestelling is besonder heterogeen, sodat dit bykans onafwendbaar is dat die nuwe regering dit wat kan dien as emosionele saambindfaktore sal gebruik om die grootste mate moontlik van nasionale kohesie te bevorder. Om minstens amptelik vyandig teenoor Israel te wees, is amper ‘n gegewe. Om die emosionele kwessie oor die Goland-hoogland in te span is amper net so ‘n gegewe. En daarby eindig die opsies min of meer.

Sou die nuwe bewind die verbrokkelde verhouding met Turkye probeer herstel, gaan dit byna vir seker Sirië se Assiriese, Armeense en Koerdiese bevolkings die harnas in jaag. En is die Armeniërs en die Assiriërs vervreem, is ‘n groot deel van Sirië se belangrike Christen-minderheid vervreem.

Die Siriese foutlyne loop sterk deur na die buurlande, en in ‘n sekere sin was Sirië se verhouding met Israel die afgelope sowat 30 jaar die beste van met al sy bure. Daar was selfs twee Siriese-geïnspireerde vredesberade, wat weliswaar beide misluk het.

Weerwraak op die Alawiete-minderheid wat lank die land se regering oorheers het, kan die belangrike Alawiete-minderheid in Libanon ontstig, en na die Sjiïete waarvan dit ‘n sekte is oorspoel, en kort voor lank die Hezbolla-vonk in Libanon laat ontbrand. Dit is in elk geval ‘n gegewe dat die Hezbolla, ‘n Sjiïtiese organisasie, die Siriese instabiliteit sal benut om weer aanvalle op Israel te loods, want val die Assad-bewind, is Hezbolla nie net sy steun uit Damaskus kwyt nie, hy is van sy belangrikste bondgenoot, die Sjiïtiese Iran afgesny. En dié vooruitsig staan die Soenies in Turkye, Libanon en Jordanië sterk aan.

Baie waarnemers het gemeen Israel sou probeer om die status quo in Sirië te handhaaf, al is dit bloot omdat dit dan ‘n geval is van die duiwel wat hulle ken.

Israel self was nog omsigtig om hom oor voorkeure uit te spreek, en beperk hom bloot tot uitsprake oor die uitkoms van die opstand.

Die bal is waarskynlik veel meer in die Arabiese Bond as in Israel se hande.

Dit lyk of die Arabiese Bond gou steun onttrek aan diktators in eie geledere en so die domino-impak probeer beperk. Hoe langer die Arabiese opstand aanhou uitkring hoe meer Arabiese vorste wat nie besonder bekend vir hul demokrasie is nie, kan na-aan die vuur beland.

En boonop is hulle wat op oliebronne sit besonder kwesbaar…

Die veiligste is dus om op internasionale forums ‘n lawaai oor Israel te maak, die Palestyne met ‘n bietjie kontant te stop, en verder duime vas te hou daar breek nie weer ‘n oorlog met Israel uit nie.

Op die oog af dus, blyk dit dat hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit vir Israel dieselfde.

Die vraag is nou wat Suid-Afrika uit hoofde van sy maandlange voorsitterskap van die VN se Veiligheidsraad gaan doen?

Volkeregtelik is daar twee maniere om na Suid-Afrika se vreemde optrede te kyk. Word die benadering gevolg dat nasies soewerein en immuun teen buitelandse, en selfs internasionale druk is, is Suid-Afrika se optrede minder bisar. Dit sluit in dat Suid-Afrika met sy vorige rondte onder die leiding van die kleurvolle Dumisani Khumalo verhinder het dat die VN behoorlike maatreëls teen die diktatuur in Mianmar ingestel het. Daarna het Suid-Afrika die VN se voorgenome optrede teen Iran se kernprogram in die dryfsand laat beland. Dit het alles geskied teen die agtergrond dat Suid-Afrika aanvanklik ‘n voorlegging aan die Veiligheidsraad oor toestande in Zimbabwe probeer stuit het.

Suid-Afrika het hierna in die Veiligheidsraad ook die wêreldmening getrotseer oor Sirië, deur vroeër vanjaar buite stemming oor sanksies te bly. Dit was onnodig, aangesien dié voorstel in ieder geval deur Rusland en China geveto is. Beide dié lande se veto’s word aan ekonomiese en militêre bande toegeskryf. Intussen het Rusland Assad basies gedwing om by die Arabiese Bond se vredesplan in te val, iets waartoe die Assad-bewind ingestem het maar aanvanklik erge bokspronge uitgevoer het.

Die tweede manier om na die kwessie te kyk is wat bekend begin staan het as die beginsel van R2P. Dit is die afkorting van Right to Protect, ‘n beginsel wat posgevat het na die VN in 2005 eenparig, ook Suid-Afrika, ‘n resolusie aanvaar het waarin state onderneem het om die bevolkings van lande teen volksmoord, oorlogsmisdade, etniese suiwering, en misdade teen die mensdom te beveilig. Die resolusie bepaal onder meer dat die internasionale gemeenskap die verantwoordelikheid het om state hierin by te staan. Die internasionale gemeenskap moet eers die toepaslike diplomatieke, humanitêre en ander vreedsame maniere aanwend om die bevolkings teen vergrype te beskerm, maar as ‘n staat in gebreke bly om sy bevolking te beskerm, moet die internasionale gemeenskap bereid wees om sterker maatreëls toe te pas, waaronder die kollektiewe gebruik van mag via die Veiligheidsraad.

Ironies het die Afrika-Unie die VN hierin vooruitgeloop, en reeds in 2000 die Constitutive Act aanvaar wat in uiterste gevalle soos volksmoord en misdade teen die mensdom ingryping in ‘n lidland magtig. Met die aanvaarding van die Ezulwini-konsensus in 2005 is die moontlikheid van militêre ingryping om volksmoord, etniese suiwering en oorlogsmisdade te bekamp aanvaar.

Suid-Afrika se toepassing van dié beginsels was altyd omstrede. Na die Khumalo-fiasko het die destydse adjunk-minister van Buitelandse sake, Aziz Pahad dit soos volg verduidelik: “Suid-Afrika is verbind tot die oplos van die krisis in Zimbabwe deur dialoog, maar dis nie ons bedoeling om ons goed te laat voel deur militante uitlatings te maak of om lande buite die Afrika-kontinent goed te laat voel nie.”

Die Internasionale Koalisie vir die R2P het soos volg op die Russiese en Chinese veto van optrede teen Sirië, en Suid-Afrika se besluit om buite stemming te bly gereageer: “Die bevolking van Sirië wat al lank ly verdien beter as dit. Deur die Veiligheidsraad te verhinder om die R2P toe te pas, bevind China en Rusland hulle aan die verkeerde kant van die wêreldgeskiedenis. Maar hoe dan nou met Suid-Afrika?”

Die kort en die lank is dat Suid-Afrika hom nou wat Sirië betref deur die Arabiese Bond eerder as die Afrika-Unie, en veral die SAOG-bril waardeur Suid-Afrika die Afrika-agenda beoordeel, moet laat lei.

Met Gwede Mantashe se onlangse stellings dat die ANC ZANU-PF in Zimbabwe se volgende verkiesing sal steun, waar Mugabe weer die kandidaat sal wees, het Suid-Afrika se beeld om die wêreld se muishonde te omarm weer drakrag gekry.

Egipte as grootste Arabiese land – sowat die helfte van die wêreld se Arabiere woon in Egipte – mag dalk ‘n lidland van die Afrika-Unie ook wees, maar Suid-Afrika moet nou versigtig wees om nie Egipte by die sogenaamde Afrika-agenda te wil inbind nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien