Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Dood van Osama

Osama Bin Laden

Osama Bin Laden

Byna tien jaar na die aanvalle op die Wêreldhandelsentrum en die Pentagon in die VSA, waartydens sowat 3 000 mense die lewe gelaat het, het pres. Barack Obama nou aangekondig dat Osama bin Laden uiteindelik in ‘n operasie omgekom het.
Min mense verwag dat internasionale terreur nou eensklaps sal opdroog – in teendeel – daar sal ‘n ruk lank asem opgehou word vir weerwraakaanvalle.
Toe Osama met sy terreurorganisasie, Al Kaïda, op die toneel gekom het was die stryd teen die klassieke internasionale terreur met kleurryke karakters soos Carlos die Jakkals, en ‘n uiteenlopendse stel organisasies soos die Swart September, die Japannese Rooi Leër, die Baader-Meinhoffs, Rooi Brigade, die Ierse Republikeinse Leër (en veral die splintergroep, INLA), Montenero’s en Tupamaro’s, Al Fatah en ‘n paar ander min of meer iets van die verlede.
Die ou weergawe van internasionale terreur was hoofsaaklik geskoei om ‘n romantisering van Kommunisme en rewolusie.
In enkele gevalle het nasionalistiese elemente oorheers, soos by ETA, die Baskiese terreurgroep wat toevallig baie onlangs eers ‘n wapenstilstand teen die Spaanse owerhede aangekondig het, en irredentistiese elemente soos by die IRL en die Tamil Tiere, asook Asala, die Armeense terreurgroep.
Hoewel die term “internasionale terreur” nie net na elemente van transnasionale terreur – soos vliegtuigkapings in internasionale lugruim, verwys het nie, en eerder op die onderlinge bande gedui het, was dié bande nie altyd ewe heg of selfs aanwesig nie. Boonop het van hierdie instansies, soos die PLO, bande gehad soos opleiding, wat na bewering ook geriewe aan die ANC beskikbaar gestel het. Verskillende lande het dus, afhangende van eie sentimente, nie altyd dieselfde instansies by die groep van internasionale terreur ingesluit nie, en was dit daarom ook moeilik om ongevallesyfers te bekom wat aan almal se kriteria voldoen het.
Binne ‘n deel van hierdie netwerk is die saadjie vir die Osama-weergawe gelê, wat breedweg as Moslem-fundamentalisme bekend gestaan het. ‘n Verskeidenheid van die Palestynse terreurgroepe het algaande meer en meer hierop begin teer namate die Midde-Oosterse omgewing meer en meer deur Moslem-fundamentalisme oorheers is. Nogtans het nie een, soos die PLF, heeltemal daarin geslaag om by hierdie nuwe werklikheid aan te pas nie, en het nuwe groeperings met duidelike Moslem-fundamentalistiese eienskappe, soos Hamas en die Hizbollah tot stand gekom en die toneel begin oorheers.
Die fokus op terreurstate, in die sin van state wat internasionale terreur aangehelp het, het in ‘n mate van Libië na Iran en Sirië verskuif, veral na Irak se bewind getuimel het.
Al Kaïda het nie altyd oral ewe mooi ingepas nie. Die basiese rede is dat Midde-Oosterse terreur dikwels elemente van Sjiïtiese betrokkenheid bevat het, ‘n groepering binne die Islam wat veral in lande soos Iran, Irak en Libanon teenwoordig is, terwyl die regeerdersklas in Sirië tot die Alawiete-minderheid in die land behoort, wat weer ‘n onderdeel van die Sjiïtisme uitmaak.
Al Kaïda is egter fel anti-Sjiïties, en het daarom nie oral in die Islamitiese wêreld ewe veel steun gehad nie. Boonop het ander Soenie-lande, soos Kaddafi se Libië, uiters vyandig teenoor Al Kaïda gestaan.
Selfs al sou Osama se dood Al Kaïda ernstig knou, sal dié instansie nie oornag as bedreiging verdwyn nie. Waarskynlik die ondoeltreffendste wyse om ‘n teurbedreiging die hoof te bied is deur dit militêr te verslaan, veral daar waar die beweging se lede soos visse is wat in ‘n see van ondersteuning kan rondswem. Sri Lanka het byvoorbeeld geoordeel om die Tamil Tiere militêr te verslaan, eerder as om grondwetlike aanpassings te maak wat minderheidsregte beter te ondervang. Geleidelik begin berigte deursyfer dat Tamilgroepe, weliswaar op Mafia-agtige wyse wat nie baie vriende gaan maak nie, Tamilgemeenskappe in diaspora teiken om bydraes tot die hervatting van die gewapende stryd te maak.
Al Kaïda, deur bloot anti-Israel, en daarom anti-VSA te wees, beteken dat steun – hoe misplaas ook al – bykans gewaarborg sal bly.
Intussen het ‘n nuwe vorm van internasionale terreur ook begin ontwikkel, naamlik een waar dwelmkartelle sleutelrolle speel. Dit veroorsaak ‘n bloedige stryd en baie sterftes – ook onder joernaliste wat hieroor probeer verslag doen, in ‘n area wat van Meksiko tot Venezuela strek. Ook hier blyk dit dat state nie die versoeking kan weerstaan om sulke terreurgroepe in te span om deur oorlog met afstandbeheer vyandige state te teiken nie. Dit het egter nog nie die geostrategiese omvang van die Carlos die Jakkals-dae aangeneem nie.