Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Dis ‘n aborsie … nee, ‘n miljoen aborsies

Min sake stel waarskynlik Suid-Afrika se oënskynlike politieke skisofrenie so aan die kaak soos aborsies op aanvraag.

Woensdag is dit presies 15 jaar sedert Suid-Afrika een van die lande van die wêreld geword het waar aborsies op aanvraag gewettig is. Sedertdien is die wetgewing ook aangepas om Suid-Afrika een van die lande met die “liberaalste” aborsiewetgewing te maak.

Pro-lewegroepe maak daarop aanspraak dat meer as ‘n miljoen ongebore babas sedert 1997 in die land geaborteer is. Om ‘n idee van die omvang te gee: Is die fetusse van Kaapstad af 30 sentimeter uitmekaar geplaas, het hierdie ry hom van Kaapstad tot in Pretoria en terug vergesel.

Peilings oor hoeveel steun aborsies op aanvraag in Suid-Afrika geniet, dui op oorweldigende teenkanting. Twaalf jaar na die wettiging het 90 persent van die deelnemers aan ‘n RGN-peiling aangedui aborsies is verkeerd. Ander peilings, wat ‘n onderskeid tref tussen ‘n volslae verbod op aborsies, en aborsies wat onder sekere omstandighede toelaatbaar behoort te wees soos wanneer die ma se lewe in gevaar is, dui op soortgelyke resultate met maar net meer as die helfte wat aborsies onder geen omstandighede steun nie.

Onder die ou bedeling, is aborsies onder sekere omstandighede gewettig, soos wanneer die ma verkrag was, die swangerskap die gevolg van bloedskande was, die baba erg gestremd sal wees, of die ma se lewe bedreig word.

In Suid-Afrika het aborsies op aanvraag, soos in baie lande, ‘n grondwetlike kwessie geword. Die vreemde is dat dit dikwels presies dieselfde mense is wat teen die doodstraf vir selfs massamoordenaars is, wat aborsies op aanvraag steun. Die ongebore baba se lot word egter nie deur die reg op lewe bepaal nie, maar deur die moeder se reg op privaatheid. Normaalweg kan die reg op privaatheid nie kompeteer teen ‘n reg op lewe nie, maar dit word “oorkom” deur die reg op lewe nie te koppel aan fisiese lewe nie, maar wanneer die persoon ‘n regsubjek word. Selfs dit is effens kunsmatig omdat boedels ook aan ongebore kinders bemaak kan word.

Onder die huidige wetgewing kan bloedjong meisies tot die 13de week van die swangerskap selfs sonder die medewete van hul ouers aborsies ondergaan. Tot die 20ste week van swangerskap hoef die ma bloot aan te voer haar sosio-ekonomiese omstandighede bied nie ‘n goeie vooruitsig aan haar ongebore kind nie.

Alle beduidende Christelike kerke en die Islam is teen aborsies op aanvraag gekant. Sowat 80 persent van die Suid-Afrikaanse bevolking maak daarop aanspraak dat hulle Christene is.

Word egter na die verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering gekyk, verteenwoordig minder as tien van die 400 LP’s partye wat teen aborsies op aanvraag gekant is.

Iewers rym iets nie.

Toe Spanje enkele jare gelede hul aborsiewetgewing tot iets soortgelyks as Suid-Afrika se huidige aangepas het, was daar reuse optogte. In die eerste algemene verkiesing daarna, einde verlede jaar, is die regering deur ‘n konserwatiewer regering vervang. Die nuwe regering het reeds aangedui dat die aborsiewetgewing met meer pro-lewewetgewing vervang gaan word.

In die VSA het Christen-lobbies die rug volledig op die pro-aborsie-Barack Obama gekeer, en beperk nou hul aandag om seker te maak dat die Republikeinse kandidaat wat Obama in die komende presidentsverkiesing aandurf, ‘n duidelike pro-lewe-agenda het. Dié groepe het hulle immers hul vingers met die weifelende George W. Bush verbrand.

Bush het formeel standpunt teen aborsies ingeneem, maar voete gesleep met aanstellings van nuwe, pro-leweregters vir die Supreme Court om die uitspraak van Wade versus Roe om te keer. Met daardie uitspraak is aborsies op aanvraag in die VSA gewettig.

Na Obama se verkiesing het die Christian Coalition of America verklaar dat die pro-lewestryd in die VSA met 20 jaar teruggesit is. Dit het geblyk dat talle Amerikaners wat erg teen aborsies op aanvraag is, hul kruisies agter Obama se naam gaan trek het, en agterna verbaas was om te hoor dat Obama nie net pro-aborsie is nie, maar ook die grusame sg gedeeltelike geboorte-aborsies ondersteun. Weens die grusaamheid daarvan ord dié proses nie hier beskryf nie.

Al die Republikeinse kandidate het nou reeds hul pro-lewestandpunte behoorlik gestel.

Intussen het die jaarlikse pro-aborsiegroepe se poging om eers by die Huis van verteenwoordigers, en dan die senaat, vir staatsbefondsing van aborsies te bekom, verlede jaar in die Republikeins-beheerde Huis van Verteenwoordigers behoorlik bloedneus gekry. Die Huis het die versoek nie net afgekeur nie, maar ook bepaal dat die versoek ook nie in die toekoms gerig mag word nie.

Intussen brand Obama vas met sy beplande openbare gesondheistelsel. Een van die vernaamste redes hoekom dit vasbrand, is weens die teenkanting van Christen-belangegroepe, juis omdat dit vir die staatsbefondsing van aborsies op aanvraag voorsiening maak.

Voor besef is dat oud-president Bush se weifeling die beplande verbod sou kelder, het verskeie deelstate reeds in antisipasie wetgewing op die wetboeke geplaas. Van die suidelike deelstate se wetgewing was so streng dat dit aborsies onder enige omstandighede, selfs wanner die ma se lewe bedreig sou wees, verbied het. Dit sou waarskynlik nie die toets van selfs die gewysigde grondwetlikheid deurstaan het nie, maar die magtige fundamentalistiese suidelike Baptiste tevrede hou. Pro-aborsiegroepe het oor hul voete geval om regte vir aborsieklinieke in Indiaanse reservate te bekom, omdat reservate wat dié kwessie betref, onder federale wetgewing val.

Vir die herdenking van die wettiging in Suid-Afrika beplan Christengroepe optogte en lewenskettings by winkelsentrums. Dié groepe vind dit egter nie maklik om reklame vir hul aksies te vind nie. Hoewel die mediagesindheid hieroor intussen duidelik verander het, het ‘n vorige redakteur van ‘n groot Afrikaanse dagblad selfs voor die jongste wetsaanpassings geskryf dat aborsie (in Suid-Afrika) nie meer deel van die openbare debat is nie. Sy koerant het volledig die sluier oor die kwessie getrek, en byvoorbeeld geen nuusdekking aan die openbare verhore, en dus die uitgesproke teenkanting daarteen, gedra nie. Van die koerant se susterkoerante het wel ‘n meer mediavrye houding ingeslaan. ‘n Nuwe redakteur het ook nuwe insigte by die betrokke koerant gebring.

Tog vind die organiseerders van die protesoptrede dit nie maklik om die nodige mediabekendstelling te kry nie.

En hulle kla dat ten spyte van die grootskaalse teenkanting teen aborsies wat peilings aan die lig bring, min mense by die protesbyeenkomste opdaag.

Wat weer die vraag laat ontstaan … is Suid-Afrikaners onbetrokke? Delegeer hulle hul dissipelskap van elke dag aan hul kerke? Is hul kerke verbaal genoeg, of spreek kerke slegs hul teenkanting teen aborsies op aanvraag uit wanneer hulle pertinent gevra word?

Hoewel sulke vrae dalk dele van die antwoord inhou, is die antwoord komplekser. Die teen-aborsiegroepe word dikwels oorheers deur fundamentaliste wat enige aborsie veroordeel, selfs waar die nie-uitvoering die ma en baba se lewe sou kos. Peilings toon dat hierdie houdings nie so oorweldigend steun geniet nie.

Baie mense het kennisse en familie wat nie net deur aborsies erg getraumatiseer is nie, maar daarna deur ‘n veroordelende gemeenskap nog verder getraumatiseer word. Eers is die meisie of vrou verkrag, dikwels bloedskandelik, dan beleef sy die trauma van ‘n aborsie, en opsluit veroordeling. Dit is mense wat dringend pastorale begeleiding nodig het, maar bang is vir veroordeling en verwerping.

Daar is maniere en maniere om dinge te doen. Lees maar die verhaal van die verlore skaap.

Tog…’n beskaafde gemeenskap wat aborsies op aanvraag as voorbehoeding geruik, of ‘n land wat ‘n Vigs-probleem het en vrye seks in wese aanmoedig…

Dit rym eenvoudig nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien