Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Dieners wat moet dien

‘n Bekende skoolhoof het glo, as ‘n seun besoek by sy kantoor kom aflê het eers streepsuiker uitgedeel voor hy gevra het waaroor die besoek handel. Moes die ongelukkige seun net ‘n boodskap van sy onderwyser bring, het die skoolhoof skouerophalend gesê dat ‘n jongetjie in elk geval, as hy nie klaar kwaad gedoen het nie, op pad was om kwaad te gaan doen.

Op min of meer dieselfde beginsel het ouers hul kleingoed binne die reëls laat trap. As kleinman ‘n nuk het sê ma: “O hier kom die polisie.”

Dit het kleinman in trane laat uitbars, want in die sop is hy in die sop, al is dit oor iets wat hy aangevang het waarvan ma niks van weet nie.

Die polisie behoort egter nie ‘n paaiboeliebeeld te hê nie. Juis daarom is die naam daarvan van Polisiemag na Polisiediens verander.

Misdaadstatistieke dui ook daarop dat die polisie hul hande vol behoort te hê met misdadigers, met veral handelsmisdaad wat die afgelope aantal jare jaarliks skerp styg. Die land dra die twyfelagtige titel van die wêreld se verkragtingshoofsetel.

Die afgelope aantal dae kom ‘n beeld van die polisie uit die parlement van ‘n polisiediens wat skerp aan die paaiboeliebeeld herinner. Reuse eise wat teen die polisie ingestel word en wat slaag, verduidelikings deur die polisiebase wat eerder ontstel as gerusstel, afgedankte polisiemanne wat steeds salaris kry…

Suid-Afrika kan nie, soos Rhoda Kadalie onlangs gewaarsku het, die beeld van ‘n polisiestaat bekostig nie.

Teen dié agtergrond is inligting oor die onwettige meeluistering van burgers onrusbarend.

Hierdie skending van privaatheid vind weliswaar internasionaal plaas, en twee jaar gelede het selfs Nederland sy eie klein Watergate beleef toe die veiligheidsdiens die telefone van De Telegraaf meegeluister het, en spesifiek die gesprekke van een joernalis afgeluister het, ook tuis.

Niemand betwis die owerhede se reg om sulke metodes vir veiligheid en misdaadbekamping in te span nie, maar wel volgens wetlike prosedures. Tegnologies is dit ook deesdae bykans onmoontlik om enige kommunikasie te beveilig, en mense wat gelaaide terme gebruik soos tot onlangs die naam van Osama bin Laden, kon maar weet daardie e-pos of teleks het kort daarna iewers op ‘n veiligheidsdiens se lessenaar beland. Blogtelelrs vir trefslae het in die rooi gehardloop. Aanhangers van die Amerikaanse reeks, NCIS, sou gemerk het hoe gereeld verwys word na “chatter” oor ‘n spesifieke onderwerp wat gemonitor word.

Die beeld wat van die polisie uitgedra word, is egter oor ‘n wyer front uit die kol. Ironies is die weermag in ‘n stadium van die landsgrense onttrek, en die polisie met hierdie taak waarvoor die nodige mannekrag en middele nie beskikbaar was nie, ingespan. Die kommando’s is ontbind sonder dat die beloofde plaasvervangende strukture in plek is. Oorgrensmisdaad en sake soos renosterstropery in die Krugerwildtuin het hande uitgeruk.

Die stroom slegte nuus staak egter nie, en dit vind ook neerslag in arbeidsake waar vakbonde soos Solidariteit en die Vereniging van Staatsamptenare gereeld moet inspring.

Berigte soos polsie wat baie laat of glad nie by misdaadtonele opdaag nie en howe wat gal braak omdat mense wat duidelik skuldig was aan selfs ernstige misdade soos plaasaanvalle vrygespreek moet word oor met die ondersoekwerk droog gemaak is, is te algemeen.

Tussenin is die vorige polisiehoof hangende appèl langtermyngevangenisstraf opgelê. Intussen veroorloof pres. Jacob Zuma hom die luukse van voetesleep met verslae van die Openbare Beskermer wat weer na brak kolle in die topbestuur wys.

Gelukkig is daar ook gereeld berigte oor goeie polisielede, en goeie polisiekantore.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien