Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Die Wisconsin 14

In die Amerikaanse deelstaat Wisconsin speel ‘n toneel hom af waarvan Suid-Afrikaanse politici gerus kennis kan neem.
Suid-Afrikaaanse belastingbetalers is al erg gefrustreerd met peperduur parlementêre komiteesittings wat nie kan plaasvind nie omdat te min van die parlementslede hul opwagting maak, of die persone wat voor die komitee moet verskyn, in besonder ‘n sekere minister, nie opdaag nie – soms selfs sonder verskoning.
Dié toneel speel hom in Suid-Afrika ook feitlik daagliks op ander regeringsvlakke soos die provinsies en munisipaliteite af. Hoewel die vrugtelose uitgawes groot is soos vliegtuigkaatrtjies en hotelverblyf van mense wat voor die komitees moet verskyn, is dissiplinêre optrede bykans ongehoord.
In Wisconsin kry veertien senatore egter baie steun daarvoor dat hulle stokkies draai. Die rede vir die wegblyery is kompleks, en die media gee verskillende weergawes. Die Christian Science Monitor berig dat dit is om ‘n kworum te verhinder sodat wetgewing deurgevoer kan word wat die bedingingsmag van vakbonde sal inkort. Die Nederlandse koerant Trouw skryf dat hulle sodoende die vermindering van salarisse en ander voordele van amptenare veto. Indien die vergoedingspeile bly wat dit is, sal amptenare later afgedank moet word.
Amerikaanse deelstate is, soos die VSA se federale regering, onder groot druk om hul geldsake nie hande uit te laat ruk nie. Juis vanoggend berig die Amerikaanse media oor ‘n groot krisis wat oor twee jaar vir die VSA voorlê as die federale regering se skuldlas nie nou reeds reggedokter word nie. Pres. Obama se fokus is egter om nou eers die bevolking te kan dokter.
Die kern van die Wisconsin-saak is egter dat senatore bereid is om op te offer om iets te beding waaroor hulle sterk voel. Ten eerste moet hulle in ‘n naburige deelstaat sogenaamd skuil om fisies afwesig te kan wees – wat ‘n groot ongerief en uitgawes vir hulle inhou. Ten tweede word hulle die afgelope paar dae daagliks ‘n gevoelige boete opgelê. In die proses frustreer die 14, almal Demokrate, die Republikeinse goewerneur, wat hulle allerlei onsmaaklikhede toevoeg.
Uiteindelik hoef net een uit die geledere te breek – iets wat skynbaar enige oomblik die 14 se weerstand nutteloos sal maak. Dan het die deelstaat se senaat die nodige kworum om die wetgewing deur te voer. Intussen trek die saak egter al hoe meer aandag, nie net in Wisconsin nie, maar die ganse VSA en selfs toenemend in die buiteland.
Uiteindelik gaan iemand die geveg wen, maar klaarblyklik die oorlog verloor. Dit word gedoen deur mense wat so sterk oor ‘n saak en hul openbare verantwoordelikheid voel dat hulle bereid is om dit aan hul sakke en basse te voel.
Suid-Afrikaanse politici en senior amptenare wat soos taks wegstaan van openbare verantwoordelikheid, en die belastingbetaler maar keer op keer laat opdok wanneer hierdie ontplooide, maar onbekwame kaders se brouwerk in die howe bloedneus kry, sal stellig ook op die Wisconsin-voorbeeld ‘n houtoog keer. – Herman Toerien