Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Die wiel draai maar SA verpas die poskoets

‘n Klein boublokkie in die proses van die vestiging van demokrasie is pas gelê toe die militêre leier van Mjanmar (Birma) die tuig neergelê het.

Genl. Than Shwe het die land byna twee dekades lank met die bystand van ‘n militêre junta met ‘n ysterhand regeer.

Than se uittrede val saam met die nominele oordrag van die bewind van die junta aan ‘n burgerlike regering. Van demokrasie is nie veel sprake nie – baie militariste het uit hul poste bedank om sleutelposisies in die burgerlike regering op te neem, en die vernaamste opposisie, dié van die Nobelvredespryswenner, Aung San Suu Kyi, is van die bedenklike verkiesingsproses uitgesluit.

Een van die wêreld se bekendste diktators, Muammar Ghaddafi, kry nou treenspoed by ‘n kombinasie van rebelle en ‘n VN-gesanksioneerde Navomag, terwyl die Ivoorkus se magsgryper, Laurent Gbagbo, se kierankies nou skynbaar uitbraai. Verskeie Arabiese lande wat ‘n houtoog op die demokrasie gewend het, van Egipte tot Sirië, loop nou deur in wat as die domino-revolsie bekend geword het.

In gisteraand se Kommentaar-program op RSG is ‘n donker prentjie geskets oor Suid-Afrika se vermoë om ‘n sinvolle rol op die internasionale politieke terrein te speel. In die proses kry die land baie kritiek.

Volgens die Kommentaarspan het pres. Robert Mugabe ‘n siedende aanval op Suid-Afrika geloods na pres. Jacob Zuma die jongste verwikkelinge in die buurland gekritiseer het. Die feit is egter dat nooit toegelaat moes gewees het dat ‘n situasie kon ontstaan waar ‘n persoon soos Mugabe so lank soos ‘n verwoestende storm deur sy land kon trek nie.

In die geval van die Ivoorkus, meen die Kommentaarspan, is Nigerië hoogs ontstoke oor die stok wat Suid-Afrika in die wiel gesteek het om die probleem, wat nou besig is om ‘n bloedige afloop te neem, vroegtydig kort te knip. Nigerië het by uitstek groot belang daarby dat Christen en Moslem nie in verkiesingsverwante sake teenoor mekaar te staan kom nie. Nigerië gaan juis nou stembus toe, na die verkiesing weens logistieke brouwerk uitgestel moes word.

Die Ivoorkus-drama raak veral WesAfrika, waar dit min kos vir groot bevolkingsegmente om te migreer. Gbagbo gebruik juis hierdie verskynsel om aan te voer dat sy opponent, Alassane Ouattara van hierdie bykans deurlopende volksverskuiwings in Wes-Afrika gebruik gemaak het om sy steun te laai. ‘n Bykomende vlugtelingprobleem kan vir verskeie brose ekonomieë in die streek katastrofaal wees.

Suid-Afrika se houding oor Libië is meer as net effens bisar.

Met Suid-Afrika se vorige deelname aan die VN Veiligheidsraad het Suid-Afrika daarin gespesialiseer om die verkeerde opsie uit te oefen. Maar minstens was die land in ‘n sekere sin koersvas. Nou, so lyk dit, is Suid-Afrika se buitelandse betrekkinge min of meer soos dié van ‘n afkophoender. Waar Suid-Afrika wel standpunte inneem, is dit skynbaar om nie-toepaslike oplossings elders op nuwe probleme te probeer toepas, en sodoende die tyd en ruimte te skep vir die eskalasie van die probleme.

Miskien is dit baie gevra dat ‘n land koersvas op die internasionale terrein sal beweeg, as dit op die tuisfront nie ‘n behoorlike begrip van demokrasie kan vorm nie. Die uitgesproke beleid van kaderontplooiing frustreer nie net die grondbeginsel van demokrasie – die skeiding van gesag en die skeiding van party en regering nie, dit plaas boonop te veel onbekwame maatjies in sleutelposte, met die gevolge op diensleweringsvlak duidelik te sien. – Herman Toerien