Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Die verkiesing se lang wag vir finale uitslae

Kort na middernag vanoggend was dit reeds duidelik dat die ANC weer as by verre die sterkste party uit die landswye munisipale verkiesing gaan tree, en dat die DA as tweede sterkste party sy posisie minstens konsolideer.
Ander uitslae is baie moeiliker om te voorspel, aangesien veral sommige partye se steun sterk streekgebonde is en veral landelike uitslae gewoonlik eers baie laat ontvang word; of partye het nie oral kandidate gestel nie, en betwiste wyke se stemme is uitstaande.
Na die 1994-verkiesing het politieke wetenskaplikes graag ‘n model voorgehou van waar ‘n party wat die krediet vir die suksesvolle stryd om onafhanklikheid kry, presies tien jaar grasie by kiesers kry in die sin dat die party swak prestasies kan wegsteek deur die vorige bedeling te blameer. Daarna word hierdie storie nie meer so vir soetkoek opgevreet nie en moet die regerende party met ander populistiese maatreëls, soos grondgrype, vorendag kom.
Wanneer die tien jaar verby is, is die derde verkiesing reeds gehou, en kry ‘n regerende party eintlik vyf pasellajare waarin hy populistiese sake kan momentum gee. Dit het die ANC by uitstek gedoen, en die gereelde uitsprake oor grondbesit geskied nie sommer per toeval en in ‘n lugleegte nie. In die bankrot beleids- en diensleweringsomgewing is ook rassepolarisasie aangeblaas om te verseker dat die ANC minstens die swart stemme grootliks vir homself reserveer.
Hierin, en eerder die terloopse verskynsel van ‘n skynbare ontwikkeling van ‘n tweeparty-outokrasie, lê die waarde van die verkiesing. Hoewel dit vroeg lyk of die ANC wel skade kan ly, is die skade hoegenaamd nie wat dit in ‘n gevestigde demokratiese land sou wees waar dienslewering so swak is dat ‘n Tesourie-verslag oor die stand van munisipaliteite – dit waaroor die verkiesing primêr handel – deur die kabinet vir herverpakking terugverwys is nie. Dit weerspieël ook nie die probleme met kieslyste nie. Dit weerspieël ook nie die gebruiklike gevolge waar die regering in ‘n oorwegende Christenland vermanings deur die vernaamste kerke minagtend in die wind slaan nie.
‘n De facto-teepartystelsel, veral waar verkose verteenwoordigers aan streng partykoukusse gebind is, voldoen doodeenvoudig nie aan die mees basiese vereistes van demokrasie nie omdat te veel kiesers nie volgens hul eie oortuigings stem nie.
Met die opstel van hierdie kommentaar lyk dit of die tweepartygevaar ietwat op die ys geplaas is, met Cope wat minder as wat verwag is deur die partywoelinge geraak is, en die IVP wat wel sukkel, maar beter as verwag vaar met die tradisionele landelike hartland nog uitstaande.
Aan die ander kant kan sommige van die partye wat vanuit die staanspoor minder as 1 % van die stemme getrek het, dalk reeds gereed maak vir groot eina – groot dele van die uitstaande gebiede is nie bekend vir die steun wat hierdie partye gewoonlik daar kry nie.
Van die klein partye wat hardkoppig weier om met soortgelyke partye in alliansies betrokke te raak of selfs saam te smelt, is skynbaar op ‘n selfmoordkoers.

One Response to Nuuskommentaar: Die verkiesing se lang wag vir finale uitslae

  1. Duncrn

    Mei 19, 2011 at 5:52 am

    Die massas verstaan niks van demokrasie, en hoe dinge behoort te werk om dienslewering te bekom nie. Dit is waar die probleem is, om die massas genoegsaam op te voed om ware demokrasie te verstaan. Tradisionele stemme is die enigste rede waarom die anc nogsteeds aan bewind is. Die massas weet nie eers wat die beleid is van enige ander party nie, want daardie partye het nie die geld of die mannekrag om by elkeen se huis uit te kom, soos wat die anc tans doen, om hulle een vir een te kan opvoed. Om vergaderings te hou, en toesprake af te steek, werk niks want die meerderheid is daar vir die samesyn, en luister of verstaan niks van wat die spreker sê. Een tot een opvoeding, dis al wat gaan werk om swart stemme weg te kry uit hul tradisie.