Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Die slag van Braamfontein: Wie die eerste klip of komkommer optel…

Nuuskommentaar: Die slag van Braamfontein: Wie die eerste klip of komkommer optel…

Die slag van Braamfontein is gelewer, en hoewel die DA-optoggangers volgens die beeldmateriaal voet in die wind geslaan het, is die Suid-Afrikaanse demokrasie die groot verloorders.

Cosatu het dit duidelik gemaak – dié organisasie beskou homself as die alleen-titelhouers van werkersbelange. Dit sluit goed aan by soortgelyke geluide vanuit die ANC dat daardie party die alleen-titelhouers is van die regeermandaat oor die land, en selfs die grondwet word nie as temperende meganisme geduld nie.

‘n Opposisie wat die drieparty-alliansie uitdaag, word ook nie geduld nie. Die ANC wil sy energie inspan om die Wes-Kaap, soos die ANC dit stel, van die DA te bevry. Die ANC het geen aptyt om op die tuisfront ‘n eksterne bedreiging te moet verdedig nie.

Vir die ANC is die onaangenaamste ervaring waarskynlik dat die DA daarin slaag om ook swart steun te trek, al probeer die ANC en sy vennote alles in hul vermoë om die DA in sy beeld van ‘n elitistiese wit verlede vasgeverf te hou.

Wanneer ‘n voormalige wit party dan dié persepsie begin aantas, so lyk dit, word na die mentaliteit van vuurhoutjies en buitebande teruggeval om afvalliges te straf en ander te intimideer.

Dis geen resep vir demokrasie nie, en stemkeuses is byna altyd strategies, in plaas van soos dit hoort, afgestem op ‘n vry keuse om vir beginsels te stem.

Uiteindelik dan ook die vraag: Hoeveel mense wat van die optog en sy afloop kennis dra, weet veel van die oorspronklike kwessie – die voorgestelde jeugsubsidie?

Emosies oor die optog is bedoeld en onbedoeld aangeblaas. Aan die een kant was daar die woordestryd tussen die DA-leier, Helen Zille, en Cosatu se grootbaas, Vavi. Cosatu se aangevuurde reaksie was vanuit die staanspoor een van onverdraagsaamheid teen grondwetlike demokratiese regte.

Soos met enige oorlog is die vraag nie so seer wie die veldslag gewen het nie, maar wie in die wye persepsie die beste daarvan afgekom het. Was Suid-Afrika deel van die klassieke vrye Weste, sou die antwoord eenvoudig wees: Cosatu het gewoon buite die aanvaarbare spelreëls opgetree. Die “occupy Wall Street” wat oor ‘n groot deel van die wêreld versprei is, is nie deur politieke teenstanders aangeval en verdryf nie. Dit is lank geduld, en uiteindelik het die polisie na behoorlike regsprosesse ingegryp – en is hard gestriem waar skynbaar onnodig hardhandig opgetree is.

Cosatu se teenreaksie staan in die konteks van bykans landswye protesaksies teen dienslewering. Geweld en vernielsug is alledaags, soos die groot skade wat onlangs aan die Bloemfonteinse Glaspaleis en naasliggende historiese stadsaal aangerig is.

Maar dis te vroeg om te beoordeel of Cosatu in sy oorwinning op die slagveld die harte van die Suid-Afrikaanse kieserspubliek gewen het. Suid-Afrika gaan egter op verskeie maniere verloor. Die klip wat die Mail & Guardian se verslaggewer, Nickolaus Bauer, teen die kop getref het word in Verslaggewers Sonder Grense se register aangeteken, en gaan Suid-Afrika se kreeftegang op die persvryheidsindeks versnel. Dit blaas ‘n rits dalings op ander indekse, soos die korrupsiepersepsieindeks en beleggersvertroue-indeks aan. Kortom, alle Suid-Afrikaners is die verloorders.

Die feit dat die DA se bedryfsbestuurder in Noordwes, Tiaan Kotze, ook teen die kop getref is, voorspel niks goeds vir ‘n persepsie dat Suid-Afrika ‘n sterk demokrasie het nie.

Teen dié agtergrond is uitlating van die DA se Gautengse leier, John Moodey, dat die gevegte die begin van ‘n nuwe 1976 is en dat die ANC en sy alliansievennote maar gewoond aan DA-optogte moet raak miskien nie die mees sensitiewe opmerking van die millennium nie. Min mense wat, van welke kant ook al, deur die destydse geweld geraak is, sal dié opmerking as in goeie smaak beskou, en Moodey behoort verskoning te vra vir dié ongevraagde opmerking.

Dit is nog heeltemal te vroeg om te bepaal hoe die insident die DA se beeld onder sy eie ondersteuners gaan raak. Kan die gemiddelde Afrikaner-ondersteuner hom gemaklik vereenselwig met die optogkultuur?

Om ‘n multi-kulturele politieke tuiste vir almal te wees, was nog nooit maklik in Suid-Afrika nie. Dit word onderstreep deur die Sowetan se redaksionele reaksie op oud-president FW de Klerk se omstrede CNN-onderhoud: “The former leader of the NP that gave birth to apartheid, believes certain elements of the backward political system, particularly the Bantustans, were ‘not morally repugnant’. De Klerk’s remarks in an interview with CNN has justifiably sparked outrage since he comes across as someone who hates nonracial democracy under a united South Africa. It is shocking that 18 years into a nonracial and non-ethnic democracy and 15 years since the adoption of the final Constitution, someone like De Klerk should just pop up and rubbish everything being supported by politically civilised citizens. His remarks smack of double standards. De Klerk must apologise for insulting not only all South Africans, but the essence of the nonracial, united South Africa.”

Die feit is egter dat die ANC self nie ‘n nie-rassige beeld kon bou nie, en onlangs drie Afrikaanssprekende akademici gevra het om ‘n ondersoek te loods na hoekom die ANC van minderheidsgroepe vervreem raak.

Die party wat waarskynlik van sy stigting af die mees nie-rassige kenmerke getoon het, die ACDP, het in ‘n redelike kort tyd van sewe setels in die parlement na drie teruggesak, en van sy agt setels in die provinsiale wetgewers ook net drie oorgehou. Die UDM het met sy aanvanklike tweekoppige leierskap, waarvan een Roelf Meyer was, na ‘n party teruggesak wat hoofsaaklik in die Xhosa-gemeenskap gesetel is.

Die DA gaan dit nie makliker vind nie.

Foto: Media 24

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien