Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Die regering se eie koerant

Nota: Die skrywer, Herman Toerien, was in die vroeë 80’s ‘n paar jaar lank redakteur van die regering se koerant, Puisano, met ‘n oplaag van 80 000 per maand.

Volgens die omstrede mnr. Jimmy Manyi is dit die media, en veral die koerante, se eie skuld dat die regering ‘n behoefte het aan ‘n eie koerant. In die proses word ‘n paar stellings gemaak wat nie sonder kommentaar gelaat kan word nie.

Manyi kla dat die media slegs enkele aspekte hanteer van dit wat tydens mediakonferensies oorgedra word. Wat Manyi blykbaar nie weet nie, is dat die mediatoneel dramaties verander het sedert mediakonferensies die mees doeltreffende manier was om te kommunikeer, veral as die nuusmaker nie ‘n baie nuuswaardige boodskap het om oor te dra nie, of te onbelangrik is om die media na ‘n konferensie te lok. Enkele jare gelede het een van die groter partye in Suid-Afrika die verleentheid beleef dat net mooi geen media nie, die nuuskonferensie na afloop van sy nasionale kongres bygewoon het. Verskeie faktore, soos die aanbied van die kongres in ‘n media-niemandsland het ‘n rol gespeel, maar die SMS-uitnodigings aan die media het ook nie veel gehelp nie.

Met die opkoms van die gemeenskapsmedia, gemeenskapsradiostasies, gemeenskapskoerante en die internet het baie van die media gewoon nie die manne- en vrouekrag om nuuskonferensies by te woon nie. Hulle verlaat hulle hoofsaaklik op dit wat instansies se kommunikasiebeamptes per e-pos uitreik. Om dit konkreet voor te stel, daar is geen manier waarop die Harrismith Chronicle elke keer iemand Pretoria of Kaapstad toe kan stuur wanneer die regering iets wil aankondig nie.

Boonop is daar talle voordele verbonde aan mediaverklarings. Dis goedkoper, en kan letterlik met die druk van ‘n knoppie selfs die mees afgeleë en kleinste gemeenskapsradiostasie bereik. Weens die min mannekrag – ook dikwels teweeg gebring deur beperkings van die Okosa op sekere klasse gemeenskapsradiostasies, word hierdie verklarings selde verwerk en net so gebruik. Dit help natuurlik as die uitreiker van die verklaring van die standpunt uitgaan dat die kliënt altyd reg is, en dit in die stasie of koerant se taal uitreik, of ook uitreik. Instansies wat hul verklarings slegs in een taal uitreik, moet weet dat dit weens die werklikhede op grondvlak minder gesog sal wees.

Om dit op Manyi se koerant van toepassing te maak – sou dit nie goedkoper gewees het om keurige mediaverklarings in die elf amptelike tale uit te reik nie, as om 2 miljoen koerante te druk, met dele van die oplaag in die elf amptelike tale nie?

Dat die media volgens Manyi van die kwessies sensor val vreemd op, teen die agtergrond van hoe inligting soos werkloosheidsyfers, die stand van die ekonomie en vele meer deur die media opgeraap word wat deur Statistiek SA en bv die Reserwebank uitgereik word. Lykskouings en oorlogspraatjies oor voorgestelde nuwe wetgewing word deurlopend gedra. Verskeie koerante en ander nuusmedia dui Bua-nuusdiens, Manyi se instelling se nuusdiens, as bron aan al reik dit net in een amptelike landstaal nuus uit. Miskien het nie al die koerante belang – tot voordeel van die regering – in voorvadergeeste wat teen groot belastingbetalerskoste in verskeie lande gaan haal word om by Vryheidspark vrygelaat te word nie.

Die staat spandeer ook reeds groot bedrae geld aan advertensies – trouens gebruik dit by tye skaamteloos as wapen teen publikasies wat neig om nie na die regering se pype te dans nie – ‘n stap wat heelwat daarmee te make het dat Freedom House Suid-Afrika tot slegs gedeeltelik persvry verklaar het en Suid-Afrika nie die mees persvrye land op die kontinent is nie.

Manyi se beraming dat die oplaag van twee miljoen sowat ‘n R1 miljoen per eksemplaar gaan kos sal ook sekere wenkbroue lag lig. Om ‘n publikasie van tussen 16 en 22 bladsye uit te gee, in nog tien tale kundig te vertaal, te laat proeflees, en druk, en daarna te versprei sal baie moeilik in R1 miljoen ingepas kan word as salarisse, kantoorhuur, toerusting, drukkoste en verspreidingskoste in berekening gebring word.

Verskeie sake het al by die Openbare Beskermer beland waar die ANC en regering op die oog af gesukkel het om ‘n onderskeid te tref tussen regering en regerende party. As hierdie onderskeid vervaag en die koerant as propagandablad dien, is peperduur hofsake die belastingbetalers se voorland.

In ‘n demokrasie moet so ‘n staatskoerant absoluut objektief neutraal wees, wat bykans onmoontlik is. En as daar ‘n behoefte is om na die publiek te kommunikeer, is daar bepaald goedkoper opsies.