Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Die reg om te weet

Een van die hoekstene van demokrasie is dat dit, benewens die reg om vir leiers te stem, ook vryhede moet bring.

Vryhede, so het dit gou geblyk, kan nie onbeperk wees nie omdat die een se onbeperkte vryheid inbreuk sou maak op ‘n ander se onbeperkte vryhede. Bewegingsvryheid, soos in die oorgangsgrondwet bewoord, sou in sy onbeperkte uitleg kon beteken dat ‘n persoon wat tot tronkstraf gevonnis is, na hartelus kon gaan waar hy wou. Enigeen sou kortpad deur ‘n ander se erf en selfs huis kon neem om by sy eie huis te kom.

Hoewel van eerste, tweede en derde generasie regte gepraat word, en sommiges soms as belangriker as ander gestel word, bly alle regte beperk deur ander se regte. Dit het onder meer pas geblyk uit die haatspraak-uitspraak van Julius Malema, waar een se reg op vrye meningsuitdrukking oormatige inbreuk op ander se regte op onder meer waardigheid en veiligheid maak.

Verskillende politieke filosofieë plaas ook verskillende regte in verskillende volgordes. Uit die liberale dampkring is die fokus sterk op individuele regte soos die reg op uitdrukking, terwyl die Christen-demokrasie individuele regte meer aan ‘n opgevoede begrip daaromheen koppel, en ook klem op groepregte soos minderheidsregte en die regte van klein inheemse groepe plaas. In Europa kan ‘n land nie lid van die EU word solank as wat minderhede, soos die Baske, nie selfbeskikkingsregte het nie. Turkye kon weens sy hantering van die Koerdiese kwessie nog nie ‘n lidland word nie.

Pas het die ANC aangekondig dat dit die omstrede inligtingswet eers vir verdere konsultasie onttrek.

Die interessantheid is dat lande wat ‘n gevestigde konvensie oor meningsvryheid het en hulle aan die voorpont van die persvryheidsindeks bevind, dikwels hard vrae oor die onbeperktheid van meningsvryheid begin vra. In nederland het ‘n koerant vroeër vanjaar selfs ‘n opstelkompetisie aangebied met die tema: “Stop die vryheid.” Die bedoeling is nie om persvryheid in te perk nie, maar om ook ander se regte wat veral deur die smerige en persoonlike karakter wat internetkommentare dikwels aanneem, beter te beskerm.

Bykans elke rede wat nou vir die voorlopige onttrekking van die inligtingswetsonwerp gegee word, het ‘n jaar gelede ook bestaan. Toe het Verslaggewers sonder Grense die ANC oor drie sake gestriem – Julius Malema se optrede teenoor ‘n BBC-joernalis, die ANC se planne met ‘n mediatribunaal, en hierdie wetsontwerp. Kort hierna het Suid-Afrika se posisie op Verslaggewers sonder Grense se persvryheidsindeks met vyf plekke gedaal, tot die 38ste posisie. Verskeie Afrikalande beklee beter posisies as Suid-Afrika op die indeks, waaronder Namibië op die 21ste posisie – ‘n plek wat Suid-Afrika nog ‘n paar jaar gelede beklee het en die ANC op sy eie kommunikasienetwerke behoorlik gespog het. Ook Freedom House het Suid-Afrika verlede jaar tot ‘n slegs gedeeltelike persvrye land verklaar.

Die onrusbarende is dat Suid-Afrika se kreeftegang op die indeks hoofsaaklik gebaseer is op voornemens van die ANC – nog nie die werklike uitvoer daarvan nie. Vlerkslepery by die wêreld se persvryheidsmuishondlande soos Venezuela, Kuba, Zimbabwe en Ghaddafi se Libië het op die beginsel van dat iemand aan sy vriende geken word, Suid-Afrika ook geen guns gedoen nie.

Daar is byna altyd ‘n regstreekse verband tussen ‘n land se posisie op die persvryheidsindeks en korrupsie-persepsieindeks, en dit vind weer neerslag op beleggersvertroue-indekse. Kortom, Julius Malema en die ANC se uitgesproke voornemens het ‘n regstreekse invloed op die werkloosheidskoers.

Die koppigheid om met die inligtingswet deur te druk, selfs onder kritiek van Cosatu – ‘n alliansievennoot – is gegewe die huidige ekonomiese klimaat nie wys nie. Dieselfde geld die ANC se reaksie op die Malema-haatspraakverhoor – om ‘n standpunt te verdedig wat polarisasie in die hand werk en beleggersvertroue, en dus die skep van werksgeleenthede in die produktiewe sektor, verder ondermyn.

Elke land het veiligheidswetgewing. Baie lande klassifiseer outomaties kabinetsnotules as uiters geheim, en die rede is in hoofsaak om korrupsie te voorkom. Ongemagtigde binne-inligting kan iemand byvoorbeeld in staat stel om gou ‘n klomp plase in ‘n are op te koop voor aangekondig word dat daar ‘n staatsbesproeiingskema kom. Dan is dit egter noodsaaklik dat die kabinetslede self se integriteit onkreukbaar moet wees, iets wat ongelukkig nie altyd die geval is nie. In Suid-Afrika het so ‘n besproeiingskema reeds die aspirant-premierslopie van ‘n minister vroeg in die stof laat byt.

Uiteindelik moet die openbaarmaking van geheime inligting voor openbare belang swig. Dit spreek die hart van demokrasie aan, waar ‘n regerende party in algemene belang, en nie net die belang van sy ondersteuners regeer nie.

Suid-Afrika het oor meer as ‘n dekade reeds enorme skade gelei omdat die omstrede wapentransaksie nie tot op die been oopgevlek word nie. Van die negatiewe gevolge is selfs moontlik op ‘n oorskatting van die omvang van die korrupsie wat plaasgevind het geskoei, eerder as die werklike omvang.

Wanneer inligting van die publiek weerhou word, om watter rede ook al, skep dit die klimaat vir gerugte. Die lomp wyse waarop die Mangaung-metro oor sy waterkrisis met die publiek kommunikeer – gewoonlik ‘n gebrek aan kommunikasie – lei tot gerugte. Een hiervan is dat die probleem doodeenvoudig is dat Mangaung nie sy rekenings aan Bloemwater vereffen nie. Dit inspireer nie Bloemfonteiners wat hul rekenings pligsgetrou betaal om by die drakoniese beperkings te hou terwyl die hoofvoedingsdam, die Skeerpoort, 99 persent vol is nie.

Kiesers stem in elk geval nie vir leiers op die veronderstelling dat hierdie leiers hulle daarna ore met die waarheid sal aansit nie.

Herman Toerien