Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Die reg om te weet

Volgens die RGN voldoen minder as die helfte van die land se staatsdepartemente aan die burgers van die land se grondwetlike reg tot inligting. Slegs twintig van die land se 282 munisipaliteite voldoen daaraan.

Dat die situasie beroerd is selfs oor doodgewone sake, blyk uit die elektroniese argiewe van Beeld, Die Burger en Volksblad. Die laaste 50 berigte waarin gemeld word dat die een of ander instansie nog nie op navrae gereageer het nie, word binne ‘n paar maande geplaas, en in een geval in net meer as een maand.

Dis nie net staatsdepartemente en munisipaliteite wat hulle hieraan skuldig maak nie, dis ook parlementêre woordvoerders en selfs die woordvoerders van universiteite en ander staatsgefinansierde instellings. Dat instellings van hoër onderrig, wat ‘n voorbeeld moet stel, hulle hieraan skuldig maak is uiters ongelukkig.

Hierteenoor spoel verskeie regeringswoordvoerders gereeld hul monde uit omdat hulle meen die media dra net die negatiewe, en verswyg die positiewe prestasies. Van die instansies wat hulle die meeste skuldig maak aan die verkragting van die begrip, strategiese kommunikasie en eintlik doodgewone propaganda bedryf, noem hulself heel pikant ‘n afdeling strategiese kommunikasie. Soms word die media, baie afhanklik van advertensieinkomste, blatant laakbaar met ‘n boikot van advertensieplasings afgedreig.

Dit is soms skynbaar absurd oor wat geheim gehou word. Om watter aardse rede sal die media en publiek dit onmoontlik vind om vas te stel wie as raadslede van ‘n nasionale museum wat ‘n belangegroep dien, aangestel is?

Om te verseker dat die burgers toegang het tot die inligting wat hul regte en belange raak, soos wat die grondwet bepaal, is die wet op toegang tot inligting op die wetboek geplaas. Mense en instansies wat hiervan gebruik maak, vind egter gereeld dat hulle die howe moet inspan om hul regte te kan uitoefen. Boonop is daar tans ‘n storm oor wetgewing wat die regering beoog wat sekere inligting te gemaklik onder ‘n veronderstelling van geheimhouding uit die openbare domein probeer hou.

‘n Baie eenvoudige voorbeeld van hoe belangrik toegang tot inligting is, is die waterkrisis wat Bloemfontein pas beleef het, of steeds beleef. ‘n Paar dae voor die waterbeperking weens stukkende toerusting waarop nie onderhoud gedoen is nie, in die media aangekondig is, het ‘n berig hieroor reeds op die internet beland, maar sonder om te meld hoekom, of wat die reëlings is. Teen daardie tyd, het dit geblyk, was sekere dele soos Ribblesdale, reeds lank sonder water. Met die toevoerdamme vol, waaronder die Skeerpoortdam wat 99 % vol is, het mense nie probleme van hierdie omvang verwag nie, en in die lente saadjies gesaai en plantjies uitgeplant, wat hierna doodgewoon moes verdroog.

Na brokkies dikwels teenstrydige inligting na die media deurgesyfer het, het dit ‘n week gelede gelui dat die probleme binne vier dae opgelos sou wees. Die vier dae het enkele dae gelede uitgeloop, sonder enige aanduiding of die probleme wel opgelos is, en of die beperkings opgehef is. Wat egter wel na die media gekommunikeer is, is die fanfare waarmee die burgemeester môre met groot vertoon ingehuldig word.

Een van die belangrikste redes vir die reg van toegang tot inligting, is die versekering dat korrupsie nie plaasvind nie. Die afgelope jaar is verskeie Vrystaatse tenders deur die howe tersyde gestel na onsuksesvolle tenderaars daarin geslaag het om die nodige inligting te bekom.

Dit plaas ook die duime op die plekke waar diskriminerende praktyke plaasvind, of waar loodswaaiers of onbevoegdes aan die stuur van sake is. Wanneer dit so ‘n gespook afgee om agter die kap van die waarheid te kom, is dit ‘n heel billike afleiding om te maak dat iets weggesteek word wat minstens verleentheidwekkend is. Die bedoeling is dat dit die instansies help om vrot kolle te identifiseer en reg te stel.

Strategiese kommunikasie behels die sinvolle hantering van die goeie en slegte nuus, en die aanbieding daarvan op die mees sinvolle wyse om die beste resultate te verkry. Dit sluit in die kommunikeer van maatreëls om die vrot kolle op te ruim. Dit maak nooit van leuens gebruik nie, want as ‘n instansie eers die reputasie van ongeloofwaardigheid het, staan alle kommunikasie onder verdenking.

Een van die hoofpunte van kritiek van die ANC op die vorige bedeling was die gebrek aan deursigtigheid. Die RGN se syfers en mense se daaglikse ervarings dui egter nie daarop dat sake nou beter vlot nie. En as mense nie ingelig is nie, kan hulle nie hul demokratiese stemreg korrek uitoefen nie – en dit beteken die demokrasie self word aangetas.

Herman Toerien