Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Die goue eier

Twee vars brokkies nuus oor Suid-Afrika staan in skrille kontras teenoor mekaar: Dat Suid-Afrika se reeds benarde posisie op die produktiwiteitsindeks nog verder die kreeftegang gegaan het, en dat die ANC se ondersoekspan na nasionalisering vordering maak en reeds sowat die helfte van 13 lande besoek het waar opsies ondersoek word.

Op die produktiwiteitsindeks het Suid-Afrika nou na die 52de posisie uit ‘n moontlike 57 teruggesak. Die ironie is dat die land wat Suid-Afrika dikwels as ekonomiese rolmodel voorhou, en gereeld die bestemming vir studietoere is, Venezuela, die heel laagste posisie beklee. Venezuela is een van die wêreld se groot olieprodusente en om enigiets uit die land se ekonomiese prestasies te probeer wys word is riskant.

Wat die skep van werksgeleenthede betref, beklee Suid-Afrika egter die heel laaste posisie op die produktiwiteitsindeks.

In ‘n tipiese gans wat die goue eiers lê ter slagting neem –benadering fokus die ANC sy planne vir gaps en gryp om die land se armoedeprobleem aan te spreek op twee sektore – die mynbedryf en die landbou.

Die werklikheid is dat die mynbedryf net ses persent tot die land se BNP bydra, en die landbou sowat 3 persent. Oor dekades het die land se ekonomie so verbreed dat die mynbou en landbou nie meer alleen die land se probleme kan aanspreek nie. Om die ontsaglike – die hoogste meetbare ter wêreld – loongaping aan te spreek moet elders begin word, waaronder die owerheids- of in ekonomiese terme gestel – onproduktiewe sektor waar die Tswane-munisipale bestuurder in Pretoria sowat 52 keer meer in sy sak steek as die laagsbesoldigde werkers in dieselfde munisipaliteit. Die Departement van Justisie moet dan ook nie ‘n paar miljoen rand per maand vir die huur van ‘n gebou wat leegstaan betaal nie, en korrupsie wat alles sowat 20 % duurder maak, moet met wortel en tak uitgeroei word – selfs wanneer die beskermde wild van die ANC in die visier beland. Die polisie se syfers vir dronkbestuur skets sommer terloops ‘n prentjie oor een van die sabotasie-euwels van ‘n produktiewe ekonomie. Die lysie van faktore wat welvaartskepping oor die breë front rysmier is oneindig lank.

In dié stadium lyk dit nie of die nasionaliseringspraatjies rondom die mynbou – soos wat dikwels in landbou die geval is – op gryp sonder behoorlike kompensasie afstuur nie. Die kapitaliseringswaarde van die maatskappye in die mynsektor bedra ongeveer 2 derdes van die waarde van die land se jaarlikse BNP, of twee keer die jaarlikse belastinginkomste van die land. Om die mynbou sonder behoorlike kompensasie te nasionaliseer, beteken dat die buitelanbdse beleggers op die een af ander wyse wraak sal neem, gerugsteun deur hul regerings.

Om die gevolge van grond sonder kompensasie te gryp hoef maar net oor die Limpopo geloer te word.

Intussen het Agri SA ‘n verslag van Human Rights Watch wat op beweerde wydverspreide wantoestande in die vrugte- en wynbedryf wys – dus hoofsaaklik die Wes-Kaap, met harde feite weerlê. Dit is ook nie die eerste keer dat ‘n verslag wat erg bevooroordeeld teenoor Wes-Kaapse boere opgestel is, wyd versprei en as die evangelie verkondig is, in vlamme afgeskiet is nie.

Dit beteken nie dat daar nie hier en daar boere is wat hul werkers swak behandel nie, maar om ‘n bedryf daarom met die teerkwas by te dam is gemeen. Dit, saam met die land se arbeidswetgewing wat nou selfs deur die minister van Finansies – ‘n lid van die SAKP – bevraagteken word, ondermyn produktiwiteit.

Voor ‘n behoorlike werksetiek, met die fokus op produktiwiteit en gestroop van korrupsie en grypsug, gestroop van vulgêre verhogings en bonusse vir bestuurslui wat aanjaag – nie ferm in die doofpot geplaas is nie, kan die ANC maar sy slaglus van die gans wat die goue eiers lê uit sy gedagtes plaas.

Dit skep net verwagtinge, en die ANC het juis al ‘n paar keer die skerp kant gevoel van wat gebeur as beloftes en verwagtinge nooit van die beplanningstafel af kom nie.

Grafika: Trouw

Herman Toerien