Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Die fokus van post-Ghaddfi

Met die jongste berigte wat lui dat die Libiese leier van die afgelope meer as vier dekades, Moeammar Ghaddafi nog skoonveld is en groepies lojale ondersteuners nog verbete vasbyt, het die oë van die wêreld reeds grootliks na die post-Ghadafi-era verskuif. Dit volg twee strome – wat binne Libië gaan gebeur, en watter wêrelddeel nou die wêreld se fokus gaan word.

Oor wat binne Libië gaan gebeur is kenners dit nie eens nie. Boonop het die meeste kenners se voorspellings tot nou toe soos kaartehuise ineen gestort, en dieselfde bravade as voorheen ontbreek. Hoogstens word nou potensiële scenarios geskep.

Die vernaamste hiervan is dat die rebelle in ‘n post-Ghaddafi-era weer kan versplinter, en dat ‘n oneindige stryd kan ontstaan. Libië is immers ‘n taamlik heterogene land met groepe wat maar in die onlangse geskiedenis werklik ‘n gemeenskaplike geskiedenis deel. ‘n Situasie soos Irak waar die Sjiïete, Soenies en Koerde, met ‘n horde stam- en fundamentalistiese groepe elk kleims afsteek, lyk in Libië waarskynlik, hoewel die rolspelers nie dieselfde is nie.

Tog lyk dit of daar die laaste paar maande heelwat nugterheid tot die rebelle deurgedring het. Dit het heelwat intelligentsia uit ballingskap, maar ook uit hooggeplaaste oorlopers uit die Ghaddafi-kamp ingesluit, en die beeld van ‘n hoogs-verdeelde min of meer bandelose rebelle is grootliks verdring. Die voorgestelde roetekaart na demokrasie maak byvoorbeeld voorsiening dat Bengazi, die rebelle se hoofvesting, net tydelik die hoofstad sal wees. Daarna skuif dit na Tripoli wat tradisioneel in die Ghaddafi-dampkring geval het.

Tripoli, met meer as een en ‘n half inwoners, doen egter al meer sy oorspronklike naam, drie-stede – gestand. ‘n Baie groot segment is buitelanders, ‘n groot deel is mense uit ander stamgebiede wat om ‘n verskeidenheid redes hulle na Tripoli begewe het, en ‘n deel is min of meer in die Ghaddafi-dampkring.

Die entoesiasme waarmee die rebelle in minstens sekere dele van Tripoli verwelkom is, dui moontlik daarop dat Tripoli tog geskik is om as hoofstad te dien, terwyl so ‘n keuse terselfdertyd die olyftak na die eertydse Ghaddifi-gesindes uithou.

In hierdie proses moet Suid-Afrika waak om nie weer sy naam in terme van buitelandse beleid met ‘n plank te slaan nie. Suid-Afrika klou amptelik aan die Afrika-Unie se roetekaart na vrede in Libië, wat onder meer vir ‘n rol vir Ghaddafi voorsiening maak. Soms word dit meer duidelik uitgespel – Suid-Afrika staan nie ‘n bewindsverandering in Libië voor nie. Terwyl Suid-Afrika nog aan dié duidelik uitgediende plan klou, is dit nie duidelik of die Afrika-Unie nog so oor die saak voel nie. Libië se groot buurland en Afrika-Unie-lid, Egipte, het byvoorbeeld reeds die rebelleregering erken. Boonop het die Unie sy spoedberaad wat môre sou plaasvind na Vrydag uitgestel, en dan verwag die meeste waarnemers sal die slag reeds gelewer wees.

Weer eens lyk dit of Suid-Afrika verbete ‘n buitelandse kadawerbeleid voer.

Uit die buitelandse pers word Suid-Afrika se naam wel deeglik genoem, maar in terme van ‘n heel ander rol – Suid-Afrika se beweerde onderhandelings met Ghaddafi om Libië te verlaat, met diplomate wat glo uitgelek het dat ‘n Suid-Afrikaanse vliegtuig in Tunisië op bystand staan om Ghaddafi te gaan oppik. Dit is iets wat Suid-Afrika nog formeel ontken.

Wat die wêreldfokus betref – die Siriese opstand blyk hoog op die agenda te wees.

Niemand verwag dat die VN en Navo besluite gaan neem wat tot soortgelyke optredes in Sirië gaan lei as wat Libië te beurt geval het nie. Die situasies verskil hemelsbreed. Selfs die geweld teen opstandelinge is van ‘n ander dimensie – in die finale paar dae van die Libiese bewindsoorname het Ghaddafi se magte nog omtrent net soveel opstandelinge laat omkom, as wat die hele Siriese opstand geëis het. Maar die feit is dat na raming meer as 2 000 Siriërs reeds aan die hand van die Bashar al Assad-bewind gesterf het.

Die huidige Westerse reaksie van geteikende sanksies en veroordelings werk omtrent so goed soos wat dit met Robert Mugabe werk. Mugabe het egter nog altyd Suid-Afrika, en meer teensinnig, die Afrika-Unie aan sy kant gehad.

Sirië staan taamlik geïsoleerd. Soos ‘n Nederlandse koerant dit by geleentheid gestel het: As selfs Saoedi-Arabië vir Sirië ‘n koue skouer gee, wie bly oor?

Die feit is egter dat Assad hom gereed moet maak dat die wêreldfokus nou veel skerper op sy land gevestig sal wees. Boonop kan die opstandelinge moed skep uit wat in Libië gebeur het.

Herman Toerien