Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Die briesende hondjie – Malema of die Afrikaner self?

Opsomming

Ons ken almal die beeld van die briesende wollerige brakkie wat grommend tande uitpak terwyl hy verbete ‘n raserige vragmotor agternasit.

Om wat mee te maak as hy hom vang?

Die Afrikaner moet waak om nie die beeld te verwerf as die brakkie en Malema as die vragmotor nie.

Met die een hoofstuk van die Malema-saga wat nou hopelik oor twee weke iets van die verlede sal wees, moet die Afrikaner vir ‘n oomblik besin oor wat nou gemaak gaan word na die vragmotor ingehol, en gevang is.

Dié keer is dit wel nie die Afrikaner wat die vangwerk gedoen het nie, maar ‘n faksie van die ANC. Maar sou dit Ikabod oor Julius Malema se politieke loopbaan en dat wat hy verteenwoordig skryf, is die Afrikaners waarskynlik die grootste wenners. Soos Kallie Kriel, uitvoerende hoof van Afriforum dit stel: Sonder Malema is die Suid-Afrikaanse politieke landskap ‘n veel beter plek.

Om self Malema aan te durf, en selfs die grondwet te gebruik wat soos ‘n heilige koei teen kritiek geïnsuleer is, het Afrikaner teen Afrikaner gedraai. Ja, die kolonne kan selfs name kry soos Boere-Afrikaner, regte Afrikaners, vyfdekolonners, jingo’s, nieu-konserwatiewe en ‘n horde ander – die feit is dat ‘n groot deel van die Afrikaners bly was dat Malema aan haatspraak skuldig bevind is, terwyl ‘n minderheid by ander sommetjies uitgekom het. En die appèl hieroor is nog nie afgehandel nie.

Wat die huidige dissiplinêre verhoor betref, het die Afrikaner geen regstreekse rol gespeel nie. Die Afrikaner kan nie eens sê hy het soos die slagoffer van ‘n skoolboelie gemaak nie – skeur die boelie se hemp dan slaan sy ma hom.

Tog, dit beteken nie alles is vir die Afrikaner maanskyn en rose noudat die ANC self die probleem hopelik permanent uit die samelewing verwyder het nie.

Wat Malema so uitgebasuin het was die verwoording van hoe baie mense in die ANC voel, moontlik veral werklose jongmense. Vir hulle spreek Malema bloot, met apologie aan die boek met die titel, “The uncomfortable truth.” Opnames toon byvoorbeeld dat by verre die meeste swart mense glo wittes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel.

Trouens, een van die oorspronklike klagtes teen Malema was dat hy in die teenwoordigheid van pres. Jacob van die verhoog af uitgebasuin het dat blankes misdadigers is. Hy is weens ‘n sogenaamde gebrek aan getuienis nie hieraan skuldig bevind nie, in wat vertolk is as ‘n duidelike vinger wat in die blankes se oog gesteek is.

Dat die Afrikaner, ter wille van die wil op oorlewing positiewer ingestel moet raak is duidelik. Uit internetkommentare en reaksie op artikels lyk dit egter of ‘n groot deel van die Afrikaner so in negatiwiteit veral het dat die blote uitwys van die silwer randjie woede ontlok.

‘n Ruggraatlose verlamming van gees bied nie ‘n oplossing nie.

‘n Behoorlike kanalisering van positiewe energie, innovasie en die aangryp van geleenthede is wat die Afrikaner se posisie sal rig.

Afrikanerskap hiersonder is soos die Christelike godsdiens sonder die liefde.

Lees die volledige artikel hieronder:

Die briesende hondjie – Malema of die Afrikaner self?

Malema en die politieke landskap
Sedert Julius Malema as leier van die ANC se jeugliga op die politieke toneel gebars het, het hy as die vernaamste katalisator van polarisasie in die land gedien. Sy aanhef van die liedjie, Skiet die boere, het soos min ander dinge getoon hoe skerp die verdelingslyne in die land loop, en die ANC se hantering van die situasie het in opportunisme en beginselloosheid ‘n liederlike klankie saamgedra.

Op meriete kan die ANC nie meer verkiesings wen nie – en met die Dlamini-Zuma-fiasko as rigtingaanduider, blykbaar nie eens meer in die Afrika-konteks wat die ANC as sy persoonlike hinterland beskou nie.

Die enigste manier om steeds van verkiesingsoorwinnings verseker te wees, is om die rassetamboer verbete te looi, en in hierdie opsig het Malema soos manna uit die hemel gekom.

Toe Afriforum en ‘n groot spektrum ander instansies waaronder die Afrikanerbond, Malema vir haatspraak beetkry, het die ANC geledere om Malema gesluit. Met die skuldigbevinding voor die gelykheidshof, is Afriforum selfs vanuit Afrikanergeledere gekritiseer, hoewel gelukkig deur ‘n klein minderheid.

Ongelukkig verteenwoordig Malema ‘n groot groep mense wat persepsies koester – mense wat nie net die soustrein verpas het nie, maar sukkel om bloot liggaam en siel aanmekaar te hou. Dit is vir die ANC uiters belangrik dat hierdie ongelukkiges hul ongelukkigheid uitblaker en woede rig teen mense buite die ANC, eerder as om dit aan die regte adres te rig; die korrupsie, tenderpeneurskap, kaderontplooiing, die slopermentaliteit, soustreinryers ….

En hiervoor was Malema die ideale marionet, en die Afrikaner die ideale strooipop.

Malema die los kanon
Die ANC het geleidelik besef dat Malema ‘n ongetemde perd is, en sy jokkies eerder afsmyt as om enigeen se gewillige politieke pakesel te wees. Waar hy eens Zuma se lofpryser was en selfs verklaar het hoe hy en sy makkers sal doodmaak om Zuma se posisie te bevorder, het die politieke verhouding versuur.

Malema het die onontbeerlikheid van sy eie rol, en sy magsposisie binne die ANC oorskat.

Dat Zuma uiters gevoelig is oor sy aansien, het baie duidelik geblyk toe Malema die eerste keer dissiplinêr aangekla is. Ernstiger aanklagte is laat vaar en hy is oor ‘n skynbaar onsinnigheid skuldig bevind: Hy het dit gewaag om Zuma met oud-president Thabo Mbeki te vergelyk. Hiervoor het Malema ‘n opgeskorte vonnis gekry, en hy moes Zuma om verskoning vra.

Sedertdien was die handskoene af, en kon die ANC Malema nie meer so maklik inspan om faksiebelange in die ANC agter Zuma te konsolideer nie.

Die politieke landskap sonder Malema
Malema gaan nog ‘n ruk deel van die politieke landskap wees. Benewens die feit dat hy steeds volwaardig in sy amp as jeugleier dien tot sy vonnisopleggingsproses na die aanbied van versagtende omstandighede oor twee weke afgehandel is, verseker dat Malema minstens nog ‘n paar weke sy skroot-skote kan afvuur. Met die swaard oor sy kop sal hy waarskynlik eerder daarop fokus om skade binne die ANC tot die maksimum te beperk.

Die appélproses van die gelykheidshof se skuldigbevinding aan haatspraak, is ‘n komplekser situasie. Die ANC het vanuit die staanspoor die geledere om Malema gesluit, en dié saak gaan volgens alle aanduidings in die grondwetlike hof draai.

In ‘n sekere sin gaan Malema dus nog deeglik deel van die politieke landskap wees, en in die besonder as deel van die rasverdelende faktor.

Hierdie rol kry boonop hiperboliserende stukrag deurdat die ander rasverdelende faktor, Jimmy Manyi, hom nog deeglik binne die ANC se leierskliek bevind.

Dit moet voorts in gedagte gehou word dat die oorspronklike dissiplinêre komitee Malema aan die ernstigste aanklag teen hom onskuldig bevind het, Malema is naamlik in die media aangehaal dat hy na blankes as misdadigers verwys. By minstens een geleentheid, in Kimberley, het Malema die verhoog met Zuma gedeel toe hy dié stellings gemaak het, maar die dissiplinêre komitee het die klag weens ‘n gebrek aan getuienis laat vaar. Dit laat ernstige bedenkinge oor die geskiktheid van Zuma as staatshoof, na hy in die oë van baie lank reeds as regeringshoof sleg gefaal het.

Sou Malema wel nie verder deel van die politieke landskap wees nie, vra kommentators die vraag oor hoe dit die politieke landskap gaan raak.

Die eerste, opvallende implikasie, is dat Zuma se kanse om later vanjaar ‘n verdere termyn as ANC-leier en president van die land te verseker oënskynlik versterk is.

Dit is egter ook duidelik dat Zuma se vyande nie gaan lê nie, en trouens dat daar ‘n tipe selfvertroue heers dat Zuma se draadjie voor die einde van die jaar geknip sal wees. Op die horison sluimer ongemaklike hofsake, soos die moontlikheid dat die staat verplig kan word om Zuma se vervolging te hervat en moontlike ongure getuienis voor die kommissie wat die wapenskanbdaal ondersoek. Dit is ook insiggewend dat invloedryke joernaliste reeds met sterk bewerings gevoer word oor nog seks- en geldskandale oor die president wat glo na die oppervlak gaan deurbreek. Volgens ‘n mededeling op RSG se Kommentaarprogram gisteraand voldoen die bronne hieroor nog nie aan die vereistes vir joernaliste om die bewerings met genoeg stelligheid te kan openbaar maak nie.

Daar is aanduidings dat sommige kabinetsministers wat duidelik geen Zuma-aanhangers is nie, met stille vertroue wag dat die president se wiele afval. Hier is die oë op onder meer minister Trevor Manuel gerig – iemand wat na die val van Mbeki uit die politiek wou bedank, toe skynbaar omgepraat is om terug te keer, en duidelik sy ongelukkigheid met die koestering van die Manyi-fenomeen laat blyk het. Ook ander ministers hou blykbaar bloot hul plekke in die toekomstige kabinetstou.

Die tweede is dat Malema se vertrek nie ‘n vakuum laat nie – ‘n groot groep binne die ANC is bloot nou leierloos gelaat en daardie leemte gaan op die een of ander manier gevul word. Die Zuma-faksie sal wel alles in die stryd werp om ‘n meer geskikte persoon as Malema te vind vanuit ‘n Zuma-perspektief beskou, wat ongelukkig nie noodwendig ‘n besluit in landsbelang, of gunstiger vir die Afrikaner sal wees nie.

Trouens, dit lyk of die ANC se propagandamasjien reeds die opvolger gekies het en sy kandidatuur bevorder vir ‘n min of meer naatlose oorgang. Die mantel is skynbaar geoormerk vir die Gautengse jeugligaleier, Lebogang Maile. Hy is ook die Gautengse LUR vir Sport, Kultuur en Ontspanning – kortom – hy word reeds met ‘n goeie salaris beloon terwyl hy in wese voltyds in diens van die jeugliga staan.

Diegene wat swart tale onder die knie het en gereeld na TV-nuusuitsendings in daardie tale kyk, sou reeds bemerk het dat Maile skynbaar sterk vir Malema in die bresse begin tree het en homself as logiese troonopvolger begin posisioneer het. Hy word egter ook genoeg in Afrikaanse koerante aangehaal waar hy uitvaar teen onder meer tenderpreneurskap. Hy is omsigtig genoeg om nie as Zuma-vennoot gesien te word nie, maar sê ook niks wat Zuma sal aanstoot gee nie.

Afhangende van die deuntjie wat die hoorder se ore bereik, kan hy as jeugleier ‘n groot verbetering wees, en veral die wig wat Malema tussen swart en wit ingedryf het versag, of hy kan bloot as Malemakloon die distels bly saai.

Die Afrikaner

Dit sal bitter jammer wees as die Afrikaner met nie met positiewe energie op die verwikkelinge reageer nie. Om as Afrikaners te kan voortbestaan is dit noodsaaklik dat positief aan die toekoms gebou word, terwyl ‘n swartgalligheid verlammend inwerk en boonop die beginselvraag laat of dit die moeite werd is om ‘n sterwende lewend te hou as die kwaliteit lewe in elk geval bloot lyding beteken.

Daardie energie moet uit die Afrikaner self kom – hy moet die geleenthede benut om nie net die silwer randjie te sien nie, maar hard werk daarvan te maak om die silwer rand so breed as moontlik te kry.

In ‘n onlangse nuuskommentaar op Maroela is die water hieroor juis getoets, en daar was bitter min reaksie. Toe Nuus 24 dieselfde artikel as brief plaas, het die krane van kommentaar behoorlik oopgegaan en ongelukkig is die algemene indruk dat daar selfs woede is as ‘n kommentator probeer uitwys dat daar hoegenaamd ‘n silwer randjie bestaan.

Met daardie negatiewe ingesteldheid kan die volksleiers niks maak nie.

Solidariteit het ‘n tienpuntplan bekend gestel om die Afrikaner se toekoms in verskeie opsigte te probeer verseker. Daardie inisiatiewe het positiewe energie en ‘n positiewe gesindheid nodig. Maar dan moet die hande daarvoor opgesteek word. Om bloot te teer op die energie wat met Malema se val vrygestel word, is nie die oplossing nie.

Opgestel vir MaroalMedia

Herman Toerien