Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Die boer se *oer

Vir meer as ‘n dekade maak die georganiseerde landbou dit baie duidelik: Daar is fout met die departement van grondsake, of soos dit nou bekend staan, die departement van landelike ontwikkeling.

Deurentyd het die land se landbouers die blaam gekry dat grondhervorming – iets wat baie hoog op die regering se prioriteitslys is – nie na wense wil vlot nie. Selfs so onlangs as die mees onlangse staatsrede en daarna ‘n besoek van die minister van arbeid aan ‘n aantal plase.

Grondberaad na grondberaad het as ‘n swartsmeerdery en uittrapsessie van die landbou ontwikkel. Feite was ‘n blote onnodige lastigheid, soos geblyk het op ‘n groot nasionale grondberaad pas na die uitslae van ‘n gesamentlike ondersoek van Agri SA en die destyds ANC-beheerde Wes-Kaapse Departement van Landbou van Cobus Dowrey bekend gemak is, naamlik dat byna 90 sake van beweerde wanoptrede deur boere in daardie provinsie ondersoek is, en twee in die hof gaan draai het, maar almal geblyk het opgemaakte wolhaarstories te gewees het. By die grondberaad kort hierna is egter gewoon voortgegaan om die einste wolhaarstories as feite op te dis.

‘n Destydse minister van Landbou, Lulu Xinwana, het op Kerkplein ook na mishandeling deur die boere verwys, op sterkte van een enkele saak. In daardie stadium, het dit later geblyk, het die OKD reeds die saak ondersoek, en bevind dat ‘n opgemaakte saak is. ANC-parlementslede en Wes-Kaapse ANC-wetgewerlede het ook reeds afskrifte van die verslag ontvang, wat onder meer die ware afloop bevat het – dat die klaagster intussen tot bekering gekom het en die boer om verskoning gevra het.

Xinwana het die bynaam van Lawwe Lulu gekry omdat sy nie net die afloop verswyg het nie, maar die wanvoorstelling na boere oor die algemeen deurgetrek het.

Die landbou en ander waarnemers het ook deurlopend daarop gewys dat daar sterk aanduidings is dat daar ‘n verband is tussen hierdie wanvoorstellings en die veralgemening daarvan, en plaasaanvalle. Hoewel navorsing toon dat slegs ‘n klein persentasie aanvalle politiek gemotiveer is, is dit nie so duidelik of die ongekende wreedheid daarvan nie dalk tog politiek gemotiveer is nie.

Iets is immers nie pluis nie as die moordkoers onder die land se boere en hul gesinslede volgens Interpol bykans tien keer hoër is as die land se reeds hemelhoë moordkoers.

Dat die regering in werklikheid bewus was van die omvang van die probleme binne die departement van landelike ontwikkeling is ook bekend. ‘n Vorige adjunk-minister van Grondsake, wyle Dirk du Toit, het by ‘n landbou-vergadering, toe hy gemeen het die media is almal buite, ‘n beroep op die georganiseerde landbou gedoen om ‘n versoek tot die regering te rig dat daar ‘n klagtedirektoraat in sy departement ingestel word. Hy het verduidelik dat sy eie kantoor nie kan voorbly om die klagtes oor sy departement se werksaamhede te hanteer nie. Hy was skynbaar, as adjunk-minister, in politieke onmag om iets daaraan te doen. Dit het veral duidelik geblyk toe hy minute later in ‘n TV-onderhoud wat buite gevoer is, weer gal gebraak het maar dit toe weer, soos gebruiklik, vierkantig op die boere se brood gesmeer het.

Wat natuurlik nie beteken dat daar nie vrot appels onder die boere is nie. Agri Wes-Kaap en van die ander unies het dit ook gereeld duidelik gemaak dat hulle graag daardie gevalle uitgesnuffel sal wil sien, aangesien veral boere wat op die uitvoermark gerig is ernstige skade kan lei as sensitiewe buitelandse marke Suid-Afrikaanse uitvoergoedere weens hierdie voorstellings boikot.

Op dieselfde dag wat Skoor in die parlement die Departement van Landelike Ontwikkeling se derms oor onbekwaamheid uitryg, gaan die minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson op Agtri SA se nasionale kongres en pak die blaam vir trae grondhervorming opnuut op die landbou. Intussen aanvaar die bestuur van die departement self verantwoordelikheid daarvoor dat bykans alles in die departement onder D vir deurmekaar of O vir onbekwaamheid geliasseer word.

Dit is duidelik dat die Joemat-Pettersson die blaam dat haar departement wat beantwoording van korrespondensie ‘n kloon van die ou Grondsake word, op iemand anders se skouers probeer plaas, en die landbou is ‘n gerieflike stortingsterrein. Die afgevaardigdes het immers die dag tevore, toe hulle onder meer deur minister Trevor Manuel toegespreek is, laat blyk hulle wág vir hul eie minister. Haar departement, na sy groter toeganklikheid beloof het, blyk so ontoeganklik te geword het as om ‘n teerpad te saai, is onder meer gesê.

Joemat-Pettersson is onder meer daarvan beskuldig dat sy onkundig is, en nie van beskikbare kundigheid gebruik maak nie. Sy het verskeie kere haar feite verkeerd gehad, en haar afwesigheid toegeskryf aan onder meer die media en die openbare beskermer wat haar verblyfuitgawes onder die vergrootglas geplaas het.

Van haar verklaring by ‘n vorige kongres dat die regering voorheen die boere as die vyand beskou het, maar nou nie meer nie, het skynbaar ook dadels gekom.

Waarskynlik geen ander minister van landbou se aanstelling in hierdie portefeulje is aanvanklik so verwelkom soos dié van Joemat-Pettersson nie. As LUR vir landbou in die Noord-Kaap was haar optrede belowend.

Die ANC se houding oor die sing van die lied, Skiet die boere, is welbekend. Nou woed die woorde-oorlog rondom adjunk-minister Pieter Mulder se repliek op Zuma se staatsrede al dae lank. Al is Mulder se toespraak weens die wanvoorstellings daarvan op verskeie internet-webwerwe geplaas en neem baie mense kennis van wat hy werklik gesê het, gaan ‘n groot deel van die media, waaronder die openbare uitsaaier, steeds voorts om daagliks die woorde wat hy nié gebruik het nie daagliks aan hom toe te dig.

Dat Zuma in sy staatsrede aangekondig het dat die regering die onbekookte groenskrif oor grondhervorming aanvaar het, wat onder meer beteken die ooreenkoms tussen die regering en landbou, bekend as die protokol vir plaastoegang word eensydig opgehef, word nie na waarde getaks nie. Landbouers en hul gesinne, asook plaaswerkers en hul gesinne, word nou veel meer aan plaasaanvalle blootgestel. Dit laat die vrae oor die regering se verbintenis tot die grondwet, en sy voortspruitende verpligtinge net skerper word.

En plaasaanvalle is besig om internasionaal opslae te maak en is baie skadelik vir Suid-Afrika, selfs al word die plaaslike trauma buite rekening gelaat.

Die land se landbousektor is kosvoorsieners op grootliks marginale grond, met ‘n laer as wêreldgemiddelde reënval. Die landbou ding mee teen swaar gesubsidieerde buitelandse landbouprodusente. Hulle is werkgewers en voorsien onderdak aan baie mense.

Hulle is nie die vyand nie. Hulle verdien nie om soos die vyand behandel te word nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien