Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Die anatomie van werkloosheid

Hoewel Suid-Afrika se amptelike en nie-amptelike werkloosheidskoers besonder hoog is, is die werkloosheidsprobleem nie uniek aan dié land nie.

Die Europese statistiekdiens, Eurostat, het pas syfers bekend gemaak waaruit dit blyk dat die Eurosone se werkloosheidskoers sedert die middel van verlede jaar nie onder tien persent kon daal nie. In September vanjaar was daar meer as 16 miljoen mense in die sone werkloos, 188 000 meer as die vorige maand.

Die hoogste werkloosheidskoers kom in Spanje voor met byna 23 persent, terwyl Nederland en Oostenryk die laagste werkloosheidskoerse beleef, 4,5 % en 3,9 % respektiewelik. Vir die hele Europese Unie is die koers net effens beter.

Ook in die VSA bly die werkloosheidskoers ‘n netelige kwessie, en het die sogenaamde “blaming game” in die aanloop tot volgende jaar se presidentsverkiesing begin. Pres. Barack Obama dreig om al hoe meer stappe op sy eie, en sonder die kongres te doen omdat die Republikeine glo soos ‘n nat lap optree.

Die Republikeine wys egter daarop dat die Huis van Verteenwoordigers reeds 15 wetsontwerpe aanvaar het wat werkloosheid deur veral die stimulering van middelgrootte ondernemings moet aanpreek, maar dat dit in die Demokraties-beheerde Senaat so op die lange baan geskuif word dat dit al as die “vergete 15” bekend staan.

Die breë denke oor die aanspreek van die Amerikaanse werkloosheid herinner aan die denke hier te lande: aan die een kant ‘n groep wat die ekonomie wil laat vlot deur die beperking van staatsuitgawes, veral op luukshede wat tot ‘n uitvloei van valuta lei, en dan maatreëls wil instel wat die privaatsektor wil stimuleer, veral klein- en middelslag ondernemings waar die koste vir die skep van werksgeleenthede per kop die kleinste is.

Die ander groep se benadering kom basies daarop neer dat dit handel oor die neem van hulle wat het, en gee aan hulle wat nie het nie. Die kruheidsvlakke tussen die VSA en Suid-Afrika verskil egter.

Obama is aan die voorpunt van denke wat ook in Europa posgevat het, om die rykes nog swaarder te belas. Sy gedagtes staan nie in ‘n lugleegte nie. Oor die laaste 30 jaar het die top een persent verdieners in die VSA se inkomste met 274 % toegeneem, die middelinkomstegroep se inkomste het met 40% toegeneem en die laagste inkomstegroep, met net 18 %.

Onlangs het Timothy Noah, rubriekskrywer van die Amerikaanse aanlyn-tydskrif, The Slate, ‘n reeks artikels gepubliseer waarin hy op die groeiende inkomstegaping in die VSA wys. Sy syfers kom ooreen, maar hy wys ook daarop dat wanneer so ‘n situasie in die verlede voorgekom het, dit bykans dadelik weer deur ‘n resessie tot ‘n mate genormaliseer het. Die vernouing van die inkomstegaping word kompressie genoem.

In 1915, skryf hy, het die rykste een persent in die VSA ongeveer 18% van die totale persoonlike inkomste in die land verdien. Nou verdien die boonste een persent 24 % van die inkomste.

Dit mag dalk nie na ‘n groot toename oor so ‘n lang tydperk klink nie, maar daar was periodes waar die verskil afgeneem het. Daar was ‘n piek in die gaping voor die ekonomie in 1924 getuimel het. Dit het min of meer stabiel gebly deur die bloeitydperke van die 1950’s en 1960’s.

In die 1970’s, skryf Noah, het die kompressie weer uitgerafel. In ‘n ander bron word gemeld dat die boonste 1 persent se inkomste van 1975 tot 1995 met 400 % gestyg het teenoor die gemiddeld van 18 %.

Ironies, berg die Washington Post, het Noah onlangs saam met drie ander rubriekskrywers die trekpas by The Slate gekry. Noah was in daardie stadium met verlof om werk aan ‘n boek oor ekonomiese ongelykheid te voltooi.

Hier te lande het die ANC-jeugliga ‘n optog vir ekonomiese bevryding gehou. Die leier, Julius Malema, teer eenvoudig op die verskynsel wat politieke sosioloë die ingeboude revolusionêre klimaat van relatiewe deprivasie noem. Dit meet die verskille in vlakke van verwagtinge en die werklikheid, en Suid-Afrika se inkomstegaping is die hoogste meetbare ter wêreld.

In hierdie klimaat gedy uitsprake soos die grondgryp-praatjies, en nasionalisering. Dit skep ‘n bose kringloop met beleggers wat afgeskrik word, en werkloosheid wat verder groei.

In die VSA sorg die drukgroep, die Tea Party, gerugsteun deur ander soos die 4 miljoen sterk Christin Coalition of American dat pres. Barack Obama die gordel stywer moet intrek, eerder as om die werkskeppende produktiewe sektor verder te belas. Obama, wat hierin ‘n bedreiging vir sy omstrede openbare gesondheidstelsel sien, dreig nou openlik dat hy op eie houtjie sal doen wat nodig is, en hom nie deur sy Kongres sal laat kniehalter nie.

Hier dring die jeugliga daarop aan dat die grondwet gewysig moet word om die grypsug te wettig.

In Suid-Afrika word die probleem vererger deur bestuurslui in die semi-staatsektor, ook daar waar verliese gelei word, nie net reuse salarisse verdien nie, maar ook, soos Volksblad dit stel, vulgêre bonusse en verhogings aan hulself toeken. Kom dit egter in die loonseisoen, is die hande erg toegevou, dit lei dikwels tot stakings. Vakbonde het hul hande vol – werkers neem kennis van die ondenkbare rykdom wat die bestuur vergader, en dan platsakheid voorhou as rede vir beperkte verhogings. En net ‘n entjie verder daarvandaan is ‘n groot groep wat geen inkomste kry nie.

Terwyl die politici kop krap oor hoekom diensleweringsoptogte die afgelope aantal jare weliswaar minder geword het, maar meer gewelddadig, wys politieke sosioloë na die groeiende gaping op die skaal van relatiewe deprivasie.

Die huidige sensus bied die geleentheid aan beplanners om behoorlike sosio-ekonomiese data te bekom sodat die beplanning van die aanspreek van die probleem nie in lugleegtes plaasvind nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien