Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Demokrasie

Wanneer so na die ANC-jeugliga se uitsprake geluister word oor hoekom appèl aangeteken word teen die Malema-haatspraakverhoor, kom die vraag onwillekeurig: Het die skool- en opvoedkundige stelsel hulle in die steek gelaat in die behoorlike vorming van wat ‘n grondwetlike demokrasie behels, of het hierdie jeugdiges die stelsel gefaal?

Die kort en die lank is dat die motivering verband hou met wat in die politieke wetenskap as die diktatuur van die meerderheid bekend staan. Was dit nie vir die erns van so ‘n mistasting nie, kon dit maklik met die demokrasie in Trompie se Boksembende vergelyk word – Trompie is tot grootkaptein verkies – vermoedelik met aansienlike intimidasie terwyl sy eertydse uitdager, Rooies, met die vuiste tot submissie gedwing is. Nou is Trompie se woord wet. Hy is tegelykertyd die wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag.

Gelukkig ook van sport maak; skoon sports soos wegglip om in die dam te gaan swem eerder as na die onnies se eentonige geteem te luister.

Dit is ligjare verwyder van die optrede van die Malema-bende waar gereeld groot skade aangerig word.

Die eerste vereiste vir ‘n demokrasie is dat dit oor ‘n regverdige verkiesingstelsel moet beskik wat die werklikhede van die land in ag neem. Selfs die diktatuur van Sirië ken die beginsel dat minderheidsgroepe soos die Christene en Alawiete gereserveerde setels in die parlement het – al is dit ‘n rubberstempel-parlement.

Tweedens vereis ‘n demokrasie die skeiding van regeringsvlakke – die regsprekende, die uitvoerende en die wetgewende. Veral die regsprekende moet onafhanklik en onverbonde kan staan, en bekwaam wees. Dit staan as die trias politica bekend. Boonop moet daar ‘n duidelike skeiding tussen regerende party en regering – wat die opposisiepartye en regspraak insluit – wees. Dan regeer ‘n regering in algemene belang, en nie in belang van sy eie ondersteuners nie. Wyk hy hiervan af, is dit ‘n diktatuur van die meerderheid.

‘n Grondwetlike demokrasie is by die internasionale reg ingebind, en dit behels dat groepregte, en in die besonder minderheidsregte en die regte van inheemse gemeenskappe behoorlik beskerm moet word. Dit sluit aan, nie as mindere regte nie, by individuele regte. Dit is die howe se taak om dit te beskerm.

En dit is presies wat regter Collin Lamont in die gelykheidshof gedoen het. Die ANC-jeugliga se appèl is luidens die uitsprake van hul leiers nie in hoofsaak oor tegniese uitlegte nie, maar ‘n vertolking dat die regter gaan inmeng het by dit wat die liga as demokrasie beskou – ‘n diktatuur van die meerderheid waar minderhede ondergeploeg word, en die howe ondergeskik aan die uitvoerende gesag ingebind word.

Dit is ook duidelik dat die ANC Jeugliga nie homself volgens moderne grondwetlike demokratiese beginsels gaan oriënteer nie. Daarvoor word te veel by die muishondregerings van lande soos Zimbabwe, Venezuela en Kuba kers opgesteek, en dryf sake al verder weg. Al kennis wat uitgebrei word, is revolusionêre retoriek wat so uitgedien is soos die valbyl. So ver word van demokrasie weggedryf dat Botswana, wat ‘n betreklik gevestigde demokratiese tradisie ontwikkel het, se regering omver gewerp moes word. As enigeen belang daarby het dat Suid-Afrika as eenheidstaat gaan slaag, moet blitsvinnig plan gemaak moet word om hierdie jeugdiges met grondwetlike demokratiese beginsels vertroud te maak. Slegs hul leiers kan hulle beïnvloed of dwing om dit te doen.

Maar as een blinde ‘n ander blinde lei, val beide in die sloot.

Talle instansies, soos Afriforum en die gemeenskapsprojekte van verskeie universiteite se departemente van Politieke Wetenskap en Staatsreg,sal regstaan om dié snotkopleiers aan blitskursusse te onderwerp, maar dit sal net werk as die ringkoppe hulle met geen ander opsie laat om dit by te woon en te slaag nie.

Herman Toerien