Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Christendom in China en die Vrije Universiteit

Die Vrije Universiteit (VU) in Amsterdam is versoek om volgende jaar ‘n godsdienskongres by die Chinese Renin-universiteit aan te bied.

Die ironie is dat hierdie eens Christelike universiteit in Nederland nou ook Imams oplei en ook studente onderrig oor die owerheid se beleid oor die genadedood, berig Trouw.

Hierteenoor is die Christendom in China in opmars. Syfers oor hoeveel Christene daar in China is verskil geweldig – sommige stel dit so laag as 25 miljoen uit meer as ‘n miljard mense, terwyl ander meen die getal is meer as 60 miljoen. Onlangs is syfers van 600 miljoen genoem en aanspraak gemaak daarop dat daar nou meer Christene in China as in die ganse Europa is.

Die rede vir die groot verskille in die syfers is dat die Chinese owerhede amptelike registrasie van kerke vereis. Hierdie sogenaamde amptelike Christene word betreklik in vrede gelaat deur die owerheid, hoewel streng gemonitor. ‘n Groot, en skynbaar die grootste groep, weier om so onder die owerheid se vergrootglas te wees, en hul optrede is dikwels in die geheim, en word ook gereeld vervolg. Niemand kan dus van die getalle seker wees nie, terwyl hulle amptelik nie bestaan nie.

Boonop beskou die Chinese owerhede die Protestantisme en die Katolieke as twee losstaande godsdienste, terwyl ‘n Oosterse variasie sterk inheemse karaktertrekke openbaar. Trouens, dit is vir ‘n Europese Christen baie moeilik om kop of stert van die verskillende wyses uit te maak waarop die Christendom sedert die 7de eeu periodiek in China gemanifesteer het, en weer effektief onder verdrukking verdwyn het.

Veral tydens die tydperk van die Mongoolse besetting was die Nestoriaanse Christene besonder invloedryk omdat verskeie van die Mongoolse stamme Nestoriaans was en selfs deur huwelike in die huishouding van die Khan gevestig was.

Die kongres wat die VU in China moet reël is nie die eerste kontak nie. ‘n Chinese regeringsafvaardiging het in 2009 reeds ‘n godsdiensberaad by die VU bygewoon. Die gedagte is ook dat die beraad slegs die begin van samewerking tussen die VU en die Renin-universiteit sal wees om oor ‘n wye spektrum studievelde saam te werk.

Intussen is dit interessant dat die Chinese owerhede skynbaar op die knoppie druk van die VU om meer te wete te kom van die groeiende verskynsel in hul eie land – godsdiens in die algemeen en die Christendom in die besonder. Of dan so probeer te wete te kom oor hoe om dié verskynsel te hanteer, hetsy as bedreiging of as ‘n positiewe krag.

Net soos die Christendom, het die Islam al vir meer as ‘n duisend jaar ‘n invloed in dié land, en is ook verskeie kere onderdruk. Vandag is daar na raming sowat 20 miljoen Moslems in China, en hoewel oor die land versprei is dit tradisioneel sterker in sekere stamme gevestig, wat die Chinese sentristiese denke ewe tradisioneel onrustig stem, terwyl daar periodiek Moslem-onrus verbandhoudend met hierdie stamkulture is, soortgelyk as die godsdiens-politieke probleme wat die Tibettane bied.

Die verskillende wyses waarop die Christendom in China manifesteer het nie hierdie stam-politieke kenmerk nie, en daarom is die owerhede waarskynlik ook minder bekommerd dat dit die eenheidskarakter van die land onder druk sal kan plaas.

Sou China nie meer wys kon word oor die Christendom deur na Suid-Afrika te kyk nie, wat minder as Wes-Europa die kenmerke van ‘n post-Christelike era dra nie?

Word die internetkommentare en selfs gepubliseerde artikels oor die huidige stand van godsdiensdebat in Suid-Afrika as norm geneem, gaan dit ‘n reuse poging vir ‘n buitestander verg om kop of stert daarvan uit te maak. Om ‘n positiewe indruk oor te hou gaan amper onmoontlik wees.

Op die politieke toneel is daar eerstens die verskynsel van politieke misbruik van godsdiens wat die gevestigde kerkverbande soos die susterkerke en die AGS die horries gee – uitsprake soos dat kerke saam met die ANC dié organisasie se eeufees behoort te vier, dat pres, Jacob Zuma soos Jesus vervolg is, en selfs dat die voorvadergeeste diegene wat nie vir die ANC gaan stem nie, sal wikkel. Hierteenoor is daar kerke met ‘n inheemse karakter wat diegene wat volgens ander naby aan godslastering kom seën en selfs as ere-pastore inseën.

Terwyl die susterkerke ongewoon sterk saamgespan het teen hierdie godsdiens-politiek, is daar in elk van dié kerke weer onderlinge strominge. Op die oppervlak manifesteer dit in verskillende sake soos die Belharbelydenis, die besluit oor apartheid en die vroue in die amp, maar elk erken dat die kwessies dieper en dwarsliggend in die kerke is – of soos die steedshervormers in die Hervormde Kerk dit gestel het, dat die saak op die oppervlak net die oortjies van die seekoei is.

Baie oorvereenvoudig gestel, is dit ‘n geval van ‘n meer fundamentalistiese benadering teenoor godsdiens, teenoor ‘n meer kontekstuele Skrifvertolking.

Hoewel die breë middelgrond, die gewone lidmate, waarskynlik nie veel van mekaar verskil nie, is die uiterste pole die mees verbale en dikwels die sigbaarste. In die debatte word name aan mekaar gegee en as skeluitdrukkings gebruik – terme soos post-moderniste, nuwe hervormers, emergents, verkramptes, fundamentaliste, perdebouers en vele meer. Die NG Kerk se Diversiteitsforum is onlangs deur ‘n deelnemer as ‘n sameswering beskryf.

Van die kernboodskap van die Bybel, liefde vir God en liefde vir die naaste – en ook die vyand, dat die oordeel ons nie toekom nie, en dat Christene die goeie vrugte van die geloof moet dra, is in hierdie debatte wat deurspek van onverdraagsaamheid is, min te sien.

Predikante sien dat die energie vir Koninkrykwerk in hierdie woeste debat verlore gaan. In plaas daarvan dat Christene, soos dit Christene betaam hulle op die egte manier vir die behoud van God se naam in die UV-leuse beywer, is dit dikwels so gedoen dat houdings verhard het.

Sou die Chinese oorweeg om Suid-Afrika as rolmodel te gebruik om die Christendom te verstaan, en hierdie onverdraagsame manifestasie sien, sou die reaksie heel waarskynlik wees dat dit ‘n gawe plek is om te makeer.

Gelukkig is hulle wat in die Lig lewe, wat die goeie vrugte dra, en wat vir ‘n iedere ‘n positiewe voorbeeld stel, ook daar.

In die aanloop tot die Kerstyd is dit ‘n goeie geleentheid vir Christene om te besin hoe hulle God kan behaag. Deur ‘n oop hand te hê vir diegene wat nie het nie, deur ‘n oop hart te hê vir diegene wat juis nou die eensaamheid voel… en beslis nie deur aggressief agter die stuur van ‘n potensiële moordwapen in te skuif en dood en wese op die paaie agter te laat nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien