Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Brittanje brand nou – gaan SA volg?

Omtrent al wat nuut is aan die geweldpleging en vandalisme wat nou oor groot dele van Brittanje spoel, is die omvang. Ook ander Europese lande het al met geweldpleging van ‘n baie soortgelyke aard te make gehad – en meestal was daar ‘n vonk in die kruitvat nadat iemand vanuit die geledere van die oproermakers vooraf aan die hand van owerheidsgesag in die stof gebyt het. Frankryk is so ‘n voorbeeld.

Selfs in ‘n land soos Nederland was al openbare ongelukkigheid onder migrante. Soms is die eise wat met die betogings gestel word onredelik, indien nie belaglik nie. In Nederland was een van die eise wat na vore gekom het die sogenaamde reg om Engels blywend as voertaal te gebruik, juis in ‘n stadium toe die Nederlanders ‘n nuwe trots in die gebruik van hul eie taal aan die ontwikkel was, en ook die gebruik van tale en dialekte soos Fries en Brabants ‘n oplewing getoon het.

Wanneer na die redes wat vir die Britse oproer gekyk word is die lys ellelank – en bykans elke rede is ook in Suid-Afrika aanwesig. Volksblad dra vanoggend ‘n artikel waarin onderwyskenners juis na die raakvlakke onder die jeugdiges wys, wat insluit ‘n verwaandheid teenoor die ouer geslag. Werkloosheid, dwelm- en drankmisbruik en vele meer probleme wat redelik verspreid oor die wêreld voorkom.

Die CDP wys op ander raakvlakke wat ook in Suid-Afrika teenwoordig is, wat onder meer verband hou met swak regering en die vrye aanstigting van polarisasie deur jeugleiers soos Julius Malema. Dienselwering bestaan weens korrupsie bykans nie. Vanoggend haal Volksblad die Vrystaatse premier, Ace Magashule aan waarin hy sê ‘n tydskaal kan nie aan ANC-beloftes gekoppel word nie, na aanleiding van die gesloer met die bou van nuwe huise op Viljoenskroon in die plek van huise wat Magashule laat sloop het. Een van die mense wie se nuwe huise nog nie eens begin bou is nie, het volgens Magashule self die vertraging veroorsaak omdat hy met regstappe oor die vertraging begin het!

Die Britte en ander lande leer gewoon die les dat nie eens wat as die beste grondwet, geskrewe of ongeskrewe beskou word, ‘n oplossing op sig self kan wees nie. In teendeel, volgens die onderwyskenners wat aangehaal is, kan die oorbeklemtoning van regte sonder die behoorlike beklemtoning van die verantwoordelikhede wat daarmee gepaard gaan, die probleem laat eskaleer.

‘n Grondwet kan hoogstens ‘n bydraende faktor tot die hantering van die probleem wees, mits dit natuurlik die werklikhede op grondvlak verreken en meganismes daarstel om dit te bestuur – meganismes wat werklik professionele en vry van politieke inmenging werk.

Die Britse teenoffensief wat insluit dat meer as ‘n duisende mense reeds gearresteer is, waterkanonne wat ingespan is en versterkings uit Skotland om sigbare polisiëring te verskerp, is nou broodnodig, maar op die duur is dit simptomaties. Dit gaan ‘n groot, omvattende en multi-dissiplinêre aksie verg. Die grootste werk is nie om te peil wat fout is nie, maar om deur die vragte studies en verslae te werk wat reeds gedoen is wat die probleme uitwys en voorstelle oor die aanspreek daarvan doen. Dit gaan egter eers ‘n groot werk wees om dit van die rakke af te haal en die stof af te blaas.

Ook in Suid-Afrika kan gerus gedelf word in die vragte vakkundige verslae wat lê en stof opgaar. Die argiewe van die RGN en die komitees van die destydse presidentsraad tel onder die goudmyne – en met die huidige vlak van die goudprys en die rand-dollar-wisselkoers gaan dit besonder waardevol wees.

Die oplossing is beslis nie ‘n dawerende swye in al elf amptelike tale wanneer Pofpokkel verbale vuurtonge in die droë veld stuur nie. Dieselfde veld wat hy sonder kompensasie wil laat afvat.

Herman Toerien