Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Bril na die verlede is teleskoop na die toekoms

Onlangs was alles gereed – die orkes, sjampanje, roeiers en toeskouers by Dover. Toe word die replika van ‘n boot uit die Bronstydperk wat met replikagereedskap van 3 500 jaar gelede gemaak is te water gelaat – en die boot sink.

Die geleerdes gaan nou koppe bymekaar sit om vas te stel waar hulle nie 100 % reg was in hul waarnemings van die Bronstydperk nie.

Vandag skryf prof. Jonathan Jansen, rektor van die UV en rubriekskrywer in Die Burger die volgende: “As jy wit Suid-Afrikaners mal wil maak, praat oor die verlede. As jy swart Suid-Afrikaners mal wil maak, praat daaroor soos F.W. de Klerk op CNN gedoen het. http://www.dieburger.com/Rubrieke/JonathanJansen/Jakkalsdraai-oor-reg-en-verkeerd-20120514

Intussen het De Klerk opnuut aangedui dat wat hy gesê het, verdraaid aangebied is. http://afrikaans.news24.com/Suid-Afrika/Nuus/De-Klerk-se-opmerkings-is-verdraai-20120514

Jansen striem hierna vir De Klerk en vervolg: “As ons nie kristalhelder oor reg en verkeerd kan wees nie, loop ons jeug gevaar om ons morele dubbelsinnigheid te erf. In die afgelope twee weke het hierdie morele dubbelsinnighede oor die verlede die hede met mening binnegedring.”…” Ons kan nie ons wonde uit die verlede genees nie tensy ons eens en vir altyd erken apartheid was boos, uit en gedaan.”

In die Akademie-tydskrif van Maart vanjaar word berig oor ‘n nuwe geskiedenisboek oor Suid-Afrika wat deur die land se voorste 26 historici, onder die leiding van prof. Fransjohan Pretorius saamgestel word, om “`n omvattende, ewewigtige en geloofwaardige naslaanwerk oor ons geskiedenis te skep, as teenwig vir die skewe haasbek-geskiedenis wat die arme kinders op skool deesdae lepels vol van gevoer word.” Aldus Hennie van Deventer, oud-redakteur van die Volksblad onder die titel, Die laaste boek. http://hennievandeventer.com/hvdblog/?p=4050

Op RSG se aktualiteitsprogram, Kommentaar, was die deelnemers dit eens dat dit nog jare sal duur voor die onderwerp wat De Klerk aangespreek, objektief en emosieloos onder die loep geneem sal kan word.

Suid-Afrika is ook nie al land wat moeite het om perspektiewe uit die verlede onder die knie te kry nie. Hoofsaaklik weens die Nazi’s se optrede teen Jode, sigeuners en ander, het verskeie Wes-Europese lande wetgewing wat die ontkenning van volksmoorde strafbaar maak. Tog het Turkye die volksmoorde op die Armeniërs, Koerde en Assiriërs uit hul geskiedenisboeke verwyder, en is so deeglik hiermee dat Turksgebore parlementslede in Nederland al as parlementslede bedank het omdat hulle weier om te glo die volksmoorde het plaasgevind. Maar dit wat die Turke ontken is besonder lewend onder die slagoffervolke, en dié volksmoorde vier binnekort hul eeuherdenking. Turkye se ore gaan behoorlik tuit.

Paleontoloë, argeoloë en historici span nou in vele studies saam om te kyk hoe die mens en die natuur in die verlede by klimaatverandering aangepas het, sodat iets daaruit wys geword kan word met die oog op die toekoms. Daar is gewoon nie ruimte vir persoonlike of groepsentimente nie – dit vereis ‘n kliniese blik op die werklikheid.

Wanneer mense se motiewe in die verlede beoordeel word, is ander spelreëls egter nodig om die element van subjektiwiteit te bepaal. In ‘n onlangse meestersverhndeling by die US word onder meer duidelik getoon hoe uiteenlopend persepsies by wit en swart is oor hoe blankes hul grond bekom het. Verreweg die meeste swart mense glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel, terwyl baie min blankes en bruin mense hierdie denke deel. Malema se opmerking dat blankes misdadigers is wat swart mense se grond gesteel het, was nie in ‘n lugleegte nie. Dr. Pieter Mulder se kliniese uiteensetting in die parlement het ‘n soortgelyke reaksie ontlok as De Klerk se CNN-stellings en sy verduidelikings daarna.

Die Romeins-Hollandse regstelsel, gebaseer op die beginsel van natuurlike geregtigheid, vereis egter dat daar begrip moet wees vir iemand se persepsie van die werklikheid, enersyds om te bepaal of daar kwaadwillige opset was, of om as strafversagting te oorweeg. Die Suid-Afrikaanse grondwet, wat die artikel oor administratiewe geregtigheid aanvul met ‘n artikel oor die reg van toegang tot inligting wat ‘n burger se regte raak en wat die staat hou, is een van die min grondwette in die wêreld wat so ver gegaan het om dit grondwetlik te kodifiseer.

In die geval van die Reitz-vier, was Jansen ‘n goeie voorbeeld van iemand wat dié konsep goed onder die knie het, en hy het wye lof hiervoor gekry.

Is dit werklik so eenvoudig om iemand as in sy wese as boos te beskryf, wat aan moedersknie geleer het alle mense is gelyk, en juis daarom moet verskillende groepe elk die reg tot volle selfbeskikking hê, en wat nooit die k-woord gebruik het nie soos sy ouers hom geleer het? Selfs al het hy akademies bitter swaar aan Kovsies gekry waar hy in die middel 70-gerjare verskil het van die dosent wat die studente verplig het om te leer van die “Christelike beleid van apartheid versus gelykstelling?” En juis verskil het omdat hy nie saamgestem het met die dosent se stelling dat apartheid nie ook op gelykstelling moet neerkom om Christelik te kan wees nie?

En verder, moet hy nou sy ouers veroordeel oor wat hulle geglo het, en gesterf het voor hulle die afloop van die geskiedenis kon beleef?

Voorts is daar die probleem dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling in groot mate ooreenkom met die volkereg. De Klerk het na die voorbeeld van Tsjeggo-Slowakye, wat verdeel is, verwys. Meer onlangs het Soedan en Suid-Soedan onder die leiding van die AU in twee etniese state verdeel. Vroeër het Eritrea van Ethiopië afgeskei. Baie lande in die wêreld, insluitend Suid-Afrika, beywer hulle vir ‘n onafhanklike Palestynse staat.

Artikel 235 van die grondwet maak voorsiening vir selfs geografiese selfbeskikking van groepe op sterkte van taal en kultuur. Suid-Afrika is lid van die VN met sy resolusie oor die regte van minderheidsgroepe, wat lande móét nakom.

Ook dit is nie die volle prentjie nie. Die harde werklikheid is dat baie van die groepe wat na selfbeskikking streef, dit openlik op rassegrondslag doen; iets waarvoor die volkereg en die grondwet nié voorsiening maak nie.

Dit sal ook ‘n interessante studie wees om te bepaal of die huidige rassistiese opmerkings van jong mense in byvoorbeeld die kuberruim werklik na hul ouers herlei kan word, en of dit nie ‘n baie soortgelyke reaksie is op die huidige regering se neo-apartheid nie. Kan jong wit mense werklik ander belewenisse wys word uit hul ervarings, en die huidige ervarings van hul ouers, oor die voortdurende trek van die kort lootjie weens hul velkleur, as wat swart mense onder die vorige bedeling ervaar het?

Prof. Jansen is bekend vir die heldeverering wat hy vir Bram Fischer het. Hieroor het hy ‘n sekere persepsie, terwyl baie ander in afsku vervul is oor ‘n man wat hom volgens die literatuur blind gehou het vir Stalin se moordlus.

‘n Oorvereenvoudigde persepsie oor die verlede kompliseer die toekoms deur die toekoms met onverdiende bagasie op te saal. In ‘n onderhoud met Beeld wou Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, niks van minderheidsregte weet nie, en het hy dit foutiewelik aan ras gekoppel. ‘n Persepsie van die verlede laat hom die baba nou saam met die badwater uitsmyt. Dit bring Suid-Afrika nie in pas met die wêreld nie, maar haal Suid-Afrika juis uit pas uit.

Toe die laaste apartheidswet vanjaar, 21 jaar gelede, uit die wetboek verwyder is, was die ANC nog ‘n hele paar jaar nie aan bewind nie. Die ANC moet minstens ten dele die blaam dra dat die land vandag so erg rasgereguleerd en rasgepolariseerd is, en so lank as wat dit onder politieke korrektheid verberg word, so lank gaan die land nie aanbeweeg nie. Die simptome is duidelik, soos met naamsveranderings, terwyl, soos in die geval van die Tswane-metroraad, 300 strate nog naamloos is.

Hoe kan na ‘n skoon lei gewerk word, soos wat die huidige bedeling van voorneme was om te doen?

– Jan Hofmeyr van die Sentrum vir Geregtigheid het onlangs in ‘n TV-onderhoud onder meer voorgestel dat daar in elke gemeenskap ‘n forum moet wees waar gekommunikeer moet word. Wat hy voorgestel het is geen nuwe gedagte nie, Suid-Afrika het oor die jare die Verhoudingsaksie met sy stelsel van verhoudingskomitees, en ander soos die gemeenskapskakelforums, en private inisiatiewe soos Kontak en die Vroueburo geken. Die politieke leierskap het blykbaar geoordeel dat dié forums oorbodig onder die nuwe grondwet sal wees, ten spyte van waarskuwings tot die teendeel deur onder meer dr. Tjaart vd Walt, destydse president van die RGN. En Van der Walt was reg.

– Moenie die geskiedenis probeer manipuleer nie. Kyk die geskiedenis in die oë, en leer om korrek daarmee te handel. Deur ‘n groep se bydrae tot die geskiedenis, hetsy die goeie of die slegte bydraes, te minimaliseer of weg te skryf toon ‘n gebrek aan respek en gaan die toekoms aan die hakskeen byt.

– Stof die vredesakkoord gereeld af, en maak seker dat iemand dit in letter en gees onderskryf voor hy of sy tot die parlement verkies word of as kabinetslid aangestel word.

– Laat vaar die appèl teen Julius Malema se skuldigbevinding aan haatspraak. En tree dan konsekwent oor haatspraak op.

Suid-Afrika het nie juis ‘n ander keuse as om van al die kante te versoen nie, anders gaan die boot met sy tewaterlating sink. Dan gaan elke kulturele en staatkundige ideaal in die land by voorbaat onder verdenking staan – van transformasie tot in die neerslag van die internasionale reg.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien

One Response to Nuuskommentaar: Bril na die verlede is teleskoop na die toekoms

  1. rave clothing

    November 25, 2013 at 10:04 am

    Oh my goodness! Incredible article dude! Thank you, However I am going through problems with your RSS. I don’t know why I am unable to subscribe to it. Is there anybody getting identical RSS problems? Anyone that knows the answer will you kindly respond? Thanx!!