Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Brasilië en toegang tot inligting

‘n Situasie wat in vele opsigte met dié in Suid-Afrika vergelyk, is besig om in die moerasse en dryfsand van die Brasiliaanse politiek te ontwikkel.

Amptelik is die proses in die teenoorgestelde rigting as Suid-Afrika aan die beweeg – daar word probeer om ‘n wetsontwerp deur die parlement te voer – met die steun van die president – om toegang tot inligting te vergemaklik.

In Brasilië is korrupsie endemies, en so ‘n wet sal baie daartoe bydra om hierdie euwel nek om te draai.

Die probleem is dat die institusionele waghonde daar soveel regeringslui uit die regerende koalisie by korrupsie impliseer, dat die wetgewing behoorlik in dryfsand vasgeval het. Dit dreig om ‘n yslike verleentheid vir pres. Dilma Rousseff te word. Rousseff kyk reeds by die aanvaarding van die wet verby en het haar oog op die mede-voorsitterskap van die Open Government Partnership.

Een van die vlieë in die salf is die magtige senator en oud-president Fernando Collor wat nou voorsitter van die verskeie invloedryke parlementêre komitees is. Collor het ‘n klomp argaïese amendemente voorgestel wat die wetsontwerp na ‘n baie soortgelyke posisie as die Suid-Afrikaanse sou voer voor die ontwerp hier effens deur die ANC versag is.

Die basis van Collor se doofpotvoorstelle is dat inligting wat eens geklassifiseer is, so sal bly. Toegang tot inligting sal ook net verwerf kan word as die aansoeker belang daarby bewys. Boonop sal die aansoeker dan net toegang tot die finale verslag, en nie die inligting wat ter hand was, hê nie. Hy sal dus geen waarborg hê dat die finale verslag nie erg gedokter is nie, wat weer sterk aan ‘n sekere wapentransaksieverslag herinner.

Op die persvryheidsindeks is Brasilië 20 posisies swakker daaraan toe as Suid-Afrika se reeds ongelukkige 38ste. Brasilië is egter besig om sy posisie sterk te verbeter, terwyl Suid-Afrika die kreeftegang gaan.

Die posisies van Suid-Afrika se ander Brics vennote is Sjina 171 uit 178 lande, Rusland 140ste en Indië 122 ste.

Sonder Brasilië sou Suid-Afrika hom in Brics-geledere maar in muishondgeselskap van ‘n basiese mensereg bevind het – die reg van toegang tot inligting.

Maar met korrupsie wat so endemies in Suid-Afrika is, kan Suid-Afrika nie nog oor die luukse van hierdie reg debatvoer nie. Dan raak die grondwet ook minder werd as die papier waarop dit geskryf is.

Herman Toerien