Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Bied die tegnokrasie die stem van redelikheid wat SA benodig?

Die bykans histeriese, blindelingse navolging deur die ANC-Jeugliga van beleidsrigtings wat Zimbabwe se ekonomie verongeluk het, laat onwillekeurig die vraag ontstaan of hierdie heethoofde vir ‘n demokrasie toegerus is.

‘n Hoeksteen van die demokrasie is dat die regering in algemene belang regeer, en nie net in belang van die meerderheid nie. Hiervan is min sprake.

In ‘n grondwetlike demokrasie word volgens die bepalings van die grondwet regeer – veral waar die grondwet die produk van heterogene bedinging en ‘n ooreenkoms was. Ook wat dit betref is dit duidelik dat die Jeugliga dit wil opskeur, en die leier, Julius Malema het verklaar dat die ANC nou soos oorwinnaars moet begin regeer.

Dit is duidelik dat ‘n stem van redelikheid nodig is, en met pres. Jacob Zuma wat die rol van draadsitter en swyer op hom neem wanneer duidelike leiding nodig is, is dit duidelik: uit regeringsgeledere gaan dié stem nie kom nie. Selfs koerante wat op die swart mark gerig is het al in hul redaksionele kommentaar gepleit dat Zuma van die draad moet afklim.

Maar sal ‘n tegnokrasie die oplossing bied?

Omdat daar nêrens ter wêreld ‘n volledige tegnokrasie aan bewind is, of was nie, is dit baie moeilik om te beoordeel. Boonop is daar vandag ‘n massa wanopvattings oor die tegnokrasie wat as geldend voorgehou word – selfs in akademiese werke.

Die term tegnokrasie is die eerste keer in 1914 deur William Henry Smyth gebruik, en is in 1941 deur William Burham gepopulariseer in sy boek, Managerial Revolution.

Die HAT definieer dit soos volg: “Regeervorm gebaseer op die beginsel dat die tegniek die produksieproses beheers,” of “Beheer oor die hele samelewing deur tegniese deskundiges of in ooreenkoms met beginsels deur tegnici opgestel.”

Gewoonlik word dit gestel dat tegnokrasie nie deel van demokrasie of burokrasie is nie, en daar is dus heelwat werke wat die tegnokrasie as gevaar voorhou. Weens die appél op kundigheid word dit in die teologie ook dikwels met die tydvak gelyk gestel waar die rede oorheers, en dus deel van die postmodernisme uitmaak.

Die tegnokratiese beweging self het egter ‘n de novo-benadering tot politieke en ekonomiese modelle, en beskou dit as die produk van menslike, verstandelike inspanning, wat dus ook aan verbeterde aanpassings deur werklike kundiges onderwerp kan word.

Die mees ideale tegnokrasie is een waar ‘n grondwetlike demokrasie, deeglik gevestig in die Internasionale Reg, die rol van kundiges optimaliseer om die verkose politici te adviseer om besluite in algemene belang te neem. In die regering se beplanningskommissie word ‘n aspek hiervan gesien, maar vanuit ‘n tegnokratiese oogpunt is dit steeds hopeloos ontoereikend. Die beplanningskommissie kan ekonomiese planne maak dat die stof staan, maar as ‘n Pofpokkel radikale uitsprake maak wat die land as beleggingsland in die voet skiet – en hy word nie op die hoogste vlak gerepudieer nie, is daar van tegnokrasie geen sprake nie.

In ‘n vereenvoudigde vorm kan ‘n land waar die regeringshoof en ander politieke leiers hulle van kundige advies laat bedien, as ‘n tegnokrasie beskou word. Die VSA van president Ronald Reagan – geen intellektuele reus nie – kan as so ‘n staat beskou word omdat hy die land goed op koers kon hou deur kundige advies ter harte te neem. Daarteenoor is pres. Barack Obama veel meer ideologies gedrewe, word adviseurs wat hom teengaan vervang, en sit die land in ‘n posisie waar die regering se skuldlimiet van $14 triljoen bereik is – en nie tot stilstand sal knars nie net as die perk verhoog word.

Griekeland se regering moes pas die gordel onder internasionale druk intrek. ‘n Groot deel hiervan kom vanuit die IMF, ‘n grootliks tegnokratiese instelling wat vrede het met die luilekker-ingesteldheid van die Griekse kiesers.

Die Europese Unie het in die Rekenkamer self ‘n tipe tegnokratiese instrument. Dié kamer bied ‘n wye verskeidenheid beplannings- en adviefunksies en tree ook as die Unie se Tesourie op. Van die advies word egter deur lidstate afgemaak – om nie ‘n kiesersektor te vervreem nie. Verskeie kommunistiese lande het elemente van tegnokrasie ingespan – bv die voormalige DDR en USSR, en Sjina. In eersgenoemde twee het dit gefaal omdat dit binne ‘n ideologiese raamwerk vasgepen was. In Sjina is toegelaat dat buite die ideologiese kassie – in elk geval ekonomies – gedink kan word.

Die Christen-demokrasie neig om meer elemente van die tegnokrasie op te neem as die liberalisme, omdat die Christen-demokrasie se handveste van menseregte meer ontwikkelingsgerig is as bloot net individuele vryhede. Waar fundamentalisme die Christen-demokrasie infiltreer, verander die prentjie uiteraard, veral as die tegnokrate dwing om humanisties-determinant te funksioneer.

Opsommend kan dit gestel word dat ‘n effektiewe tegnokrasie van die politici afhang – mits dit in ‘n demokrasie funksioneer. Wat hoor die beleggers van Suid-Afrika? Die versekerende stemme van tegnokratiese redelikheid, of die stemme van redelose populisme versier in ‘n skyndemokrasie?

Die tegnokrasie is sekerlik nie die antwoord nie, maar bevat van die antwoorde.

Herman Toerien