Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Besem teen endemiese korrupsie

Al meen Afriforum die jongste verslag van die Openbare Beskermer is ;n afgewaterde verslag, moontlik omdat die OB voor intimidasie geswig het, is die lees daarvan steeds soos om ‘n riller te lees. Bladsye en bladsye van bewyse van gekonkel ontvou voor die leser.

Uiteindelik lyk dit inderdaad of die OB se aanbevelings oor hoe teen wie opgetree moet word buitenproporsioneel effentjies is teenoor die erns van die sake waaroor genoeg bewyse op die tafel geplaas is.

Daar is dalk meer byt in die uitsprake wat sy na afloop van die nuuskonferesie gemaak het. Sy verwys na die reg van benadeeldes om die howe met haar verslag te nader om die staat aan die strot te gryp. Heel duidelik verwys sy na mense en instansies wat aan die korste ent met die tendergekonkel getrek het. Boonop, het sy verklaar, sal sy haar gewig agter sulke mense en instansies inwerp.

Uiteindelik betaal die belastingbetaler. Is daar maniere hoe die skuldiges self aan die pen kon ry?

Volgens internasionale konvensie sou minstens twee mense nou reeds bedank het, naamlik die polisiehoof en die minister van Openbare Werke. Trouens, konvensie vereis dat die minister van polisie ook sy bedanking sou aanbied, en synde genl. Cele pres. Jacob Zuma se persoonlike aanstelling is, sou daar druk wees dat die president self teen die agtergrond van openbare verantwoordelikheid sou bedank.

Die Suid-Afrikaanse realiteit lyk egter heelwat anders. Op die oomblik staan ‘n LUR tereg op aanklagte van onder meer bedrog en rampokkery. Hy is egter nie geskors nie. Onlangs is berig dat ‘n lasbrief uitgereik is teen ‘n LUR van ‘n ander provinsie oor beweerde onreëlmatige kontrakte oor voorraad-voorsiening aan hospitale.

Die kanse vir vrywillige bedankings is dus uiters skraal, terwyl die praktyk dui dat die kanse vir ontslag bykans nul is.

Kyk ‘n mens na die ouditeur-generaal se verslag oor munisipaliteite, en veral na die bedrae wat weens korrupsie verlore gegaan het, dan kan ‘n mens maar net verstom staan dat die hofrolle nie oorlaai is met burgemeesters, raadslede, munisipale bestuurders en ander wat tereg staan nie. Hier en daar word van hulle aangekla, en as teen hulle opgetree word, word hulle gewoonlik bloot elders heen gehersirkuleer tot hulle ook daar, en na groot skade aangerig is, vasbrand.

Twee magte speel op die oog af hier teen mekaar af: gesonde en doeltreffende regering teen kaderontplooiing en sogenaamde regstellende aksie. Laasgenoemde ontwikkel boonop dikwels heel duidelik as ‘n dekmantel vir dit wat die akademici nou al lankal endemiese korrupsie noem. Boonop is daar in ‘n demokrasie met geskeide magte geen ruimte vir kaderontplooiing nie.

Korrupsie, volgens die Wêreldbank, beroof ‘n land van sy toekoms. Wanneer korrupsie endemies geword het geld die markkragte van mededingendheid, produktiwiteit en kwaliteit nie meer nie, en betaal die belastingbetalers tegelykertyd vir paaie wat amper dadelik slaggate vorm, en die sakke van geldwolwe – om maar een voorbeeld te noem.

Die Openbare Beskermer het ook opdragte met tydsraamwerke verskaf. Dit sal interessant wees om te sien of die regering by die tydsraamwerke gaan hou, en of die opdragte uitgevoer gaan word. Gebeur dit nie is die OB ‘n tandelose monster, en is nog ‘n wig en teenwig om die grondwet in stand te hou na die maan.

Herman Toerien