Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Belgiese bloedbad: Kwaad vir die wêreld en skiet onskuldiges

Vir die derde keer in ‘n betreklike kort tyd moes die wêrelde in afgryse toesien hoe ‘n enkeling in ‘n Westerse land blindelings op onskuldige mense lostrek, en selfs klein kindertjies in die geweld omkom.

Eers was die VSA aan die beurt met ‘n Demokratiese kongreslid as hoofteiken, wat ironies die aanval swaar verwond oorleef het, toe Noorweë en nou België.

In die eerste twee gevalle is gou na politiek in die oorsake gesoek, en politieke leidrade gevind, hoewel diegene na wie die konserwatiewe politieke leidrade gelei het die aanvalle ook veroordeel het.

In beide hierdie gevalle is aanvanklik wyd hard geskop om die skuld voor die kranke siel van enkelinge te lê, hoewel die getuienis later wel sterk daarop gedui het.

In die Belgiese geval is opsigtelik weggeskram van die soeke na ‘n politieke motief. Die rede is waarskynlik daarin te vinde dat die skieter, Nordine Amrani, van immigrante-herkoms is, ‘n uiters sensitiewe kwessie in Wes-Europa. ’n Britse koerant meld terloops dat hy van Noord-Afrikaanse herkoms is, maar hoe akkuraat hierdie inligting kan wees is onseker.

Wat wel duidelik is, is dat die 33-jarige skieter ’n lang lys vorige oortredings het en dat hy as jeugdige met die gereg gebots het. Sy eerste volwasse botsing met die reg was ’n aanklag van seksuele aanranding, maar die tronkdeure het agter hom toegeklap toe klagtes ontvang is dat daar dagga by sy woonstel is. Toe die polisie gaan ondersoek instel, is op ’n vrag wapens afgekom.

Volgens sy destydse regsverteenwoordiger het hy op ’n tegniese punt oor die wapenbesit losgekom. Hy is vyf jaar tronk toe, en na drie jaar – ’n jaar gelede – vrygelaat. Hy is nie as gewelddadig beskou nie, en kon so weer ongesteurd ’n arsenaal opbou.

Intussen is weer ’n klag van seksuele aanrading teen hom ingedien. Hy moes juis die oggend van die skietery by die departement van Justisie gaan aanmeld terwyl die aanklaers besin het oor of die jongste klag sou moes beteken dat hy die res van sy gevangenisstraf moes uitdien.

Hy het egter ’n paar granate op die besige markplein gegooi, en toe op omstanders losgebrand. Die gevolg was dat sowat ses mense dood is, en ongeveer 123 beseer is, sommiges ernstig. Onder die dooies is ‘n 18-maande oue dogtertjie.

Die bisarre is dat die skieter byna dadelik steun op die internet gekry het. ’n Facebook-profiel is selfs ter ere van hom opgerig, maar teen gisteraand verwyder.

Maar wat besiel iemand om so op te tree? En kan so iets in Suid-Afrika gebeur?

Die voorval in die VSA toe Jared Lee Loughner die Amerikaanse politikus Gabrielle Giffords in die kop gewond, en nog vier mense, waaronder ‘n nege-jarige dogterjie doodgeskiet het, bied dalk meer antwoorde as die gepolariseerde, heterogene Suid-Afrikaanse konteks van die aanval op die Magoo’s-dameskroeg, die Wit Wolf en ander.

Van die geestestoestande wat aan Loughner toegeskryf word, ontwikkel dikwels vanaf die ouderdom van omtrent twintig. Dit sluit ‘n groot aantal psigoses in, waaronder skisofrenie. In die geval van Loughner is dit skynbaar in die hand gewerk deur middels te gebruik wat sulke toestande kan sneller.

In die geval Amrani het sy regsverteenwoordiger in die saak waarvoor hy tronk toe gestuur is verwys na iemand wat die hele wêreld vir sy teenspoed verkwalik, terwyl hy in sy eie oë ‘n onskuldige slagoffer is. Amrani is ook as ‘n baie veeleisende kliënt beskryf.

In die geval van Anders Breivik wat erken het dat hy vir die Noorweegse slagting verantwoordelik was, is ‘n groot hoeveel inligting oornag opgediep.

Soos Loughner het hy met die politiek behep geraak. Waar Loughner se oortuigings deur sommiges na die betreklik fundamentalistiese Tea Party-beweging herlei is, is daarop gewys dat Breivik, na hy aanvanklik lid was van die konserwatiewe Progress Party maar bedank het, sy bewondering vir die Nederlandse party van Geert Wilders uitgespreek het.

Wilders was egter een van die eerste politici wat die voorval veroordeel het.

Die Noorweegse polisie het Breivik dadelik as ‘n Christen-fundamentalis beskryf. Uit die beskikbare inligting word dié siening egter nie gestaaf nie – bloot dat hy hom sterk teen die Islam uitspreek, ‘n politiek-vuurwarm onderwerp in Noorweë en in die meeste Wes-Europese lande.

Breivik noem homself ‘n konserwatiewe Christen, maar die sake waaroor hy in dié verband sy mond uitspoel, naamlik ‘n afkeer in sosialisme, internasionalisme en multi-kulturele samelewings kan nie na die klassieke Christelike fundamentalisme gevoer word nie.

Wat is die kanse dat so iets in Suid-Afrika kan gebeur?

Onlangs het ‘n groep, waaronder Breyten Breytenbach na aanleiding van die voorval waar prof. Anton van Niekerk ‘n gebreekte bril en blouoog opgedoen het, gevra dat uiteenlopende debat gevoer moet word. Hulle vra ook dat die media nie sienings selektief moet weergee sodat frustrasie opbou onder hulle wat andersdenkend is maar verswyg word nie.

Iets wat Suid-Afrika met die VSA deel, en wat as belangrike voedingsbron vir Loughner se optrede beskryf is, is die voorkoms van vitrioel in veral die kommentare op artikels en briewe op die internet. Die woordeboek beskryf woorde-vitrioel as skerp, bitsig en venynig. Skuilname bied aan dié mense die geleentheid om lakens uit te deel terwyl hulself nie onder skoot kan kom nie. Dit bied uiteraard ‘n ideale teelaarde vir ongebalanseerde mense. Dit handel oor godsdiens, politiek wetenskap, kultuur, taalgebruik – haas enigiets. Ontkenners is volop hier – van evolusie tot die oorsaak van Vigs tot oor klimaatsverandering, die toename in die voorkoms van outisme en selfs of die Amerikaners al op die maan was.

Die ironie is dat dit dikwels juis mense is wat hoog opgee oor hul eie Christenskap, wat op die voorpunt van onverdraagsaamheid en veroordeling is, heeltemal gestroop van fatsoenlikheid en ordentlikheid..

Terwyl een gekoester agter ‘n skuilnaam gewoon sadistiese genoegdoening daaruit put deur ‘n ander sleg te sê, sal ‘n ander waar die skroef nog losser is moontlik regverdiging put om iets onverantwoordeliks te doen. Dit is veral as godsdiens skeefgetrek word om sekere soorte optredes nie net te regverdig nie, maar as Goddelike opdrag of inspirasie ervaar word, dat sake lelik kan skeeftrek. En meng dit met gepolariseerde politiek, soos waar Julius Malema uitsprake maak en liedjies sing wat die bloed laat kook, kry ons ‘n situasie waar iemand iewers kan knak.

As so iets in die VSA gebeur, is dit gegewe die omstandighede nie werklik ‘n skok vir die wêreld nie, hoewel die gevolge skokkend is. Wanneer dit in Noorweë en België gebeur, sit die wêreld regop. Geen land, ook nie Suid-Afrika nie, is heeltemal gevrywaar nie.

Opgestel vir MaroelaMedia