Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Bedenkinge oor wapentransaksie-ondersoek

Kort na die aankondiging deur pres. Jacob Zuma se woordvoerder dat ‘n kommissie van ondersoek na die omstrede wapentransaksie ingestel gaan word, het dit geblyk dat opposisiepartye wat die motiewe bevraagteken, goeie rede gehad het om agterdogtig te wees.

Dit wil voorkom asof die aankondiging meer met ‘n grondwethof-aansoek deur die sakeman, Terry Crawford-Brown te make gehad het as ‘n werklike behoefte om die saak wat al meer as ‘n dekade op allerlei maniere ontduik word eens en vir altyd op te ruim.

Crawford-Brown se aansoek dat ‘n kommissie aangestel word sou op 17 November aangehoor word na pres. Jacob Zuma vroeër, toe die saak aangehoor moes word, aansoek om uitstel gevra het. Nou het Zuma die hof regstreeks na die aankondiging oor die kommissie genader met die versoek dat die verhoor as oorbodig geskrap word, en aangebied om al die regskostes te betaal.

Die besonderhede van die kommissie, soos wie dit gaan lei en deel daarvan gaan wees, en die mandaat is nog nie bekend nie. Verskeie partye het aangedui hulle gaan hul finale mening reserveer tot die aankondiging gedoen is.

Die drama om te voorkom dat die waarheid ten volle op die lappe kom bied genoeg materiaal om verskeie boekdele te skryf. Verskeie politici soos pres. Zuma self – wat as adjunk-president die opdrag aan die staande komitee om die ondersoek te staak onderteken het – en oud-president Thabo Mbeki onder wie se leiding ‘n verslag van ‘n kommissie bestaande uit onder meer die ouditeur-generaal en openbare beskermer erg geredigeer is, maak deel van die sage uit. In daardie ondersoek was die weglating van die Heath-ondersoek-eenheid reeds uiters verdag. Mbeki het ook aangedui dat sy geheue hom in die steek laat oor ‘n verdagte vergadering waar die presensielys aandui dat hy teenwoordig was.

Zuma het ‘n omstrede direkteur van openbare vervolging aangestel, en kort daarna is die verbandhoudende verhoor teen die president opgeskort.

Twee bekendes, Shabir Shaik en Tony Yengeni het kort ekskursies agter die tralies beleef.

Oud-minister van Verdediging, wyle Joe Modise, is baie pertinent in bewerings van verbandhoudende korrupsie genoem.

Die Skerpioene het weens hul onafhanklikheid in die slag gebly – ‘n beslissing wat uiteindelik ook in die grondwethof bloedneus gekry het. Die Valke, wat die Skerpioene opgevolg het, het ook geblyk nie gewillig te wees om met die ondersoek voort te gaan nie, en logistieke vermoëns as rede aangevoer.

Intussen het pres. Zuma sy mond oor die howe begin uitspoel, wat as struikelblok in die ANC se regeervermoë beskryf is. Intussen het Zuma sy grondwetlike inmengingsvermoë om die regbank te beïnvloed tot die uiterste ingespan in die aanstellingsproses van die nuwe hoofregter. Ook dié saak was in ‘n stadium onderweg na die grondwethof.

‘n Paar opposisiepartye het ook die kommer uitgespreek dat genoeg tyd nou verloop het om die verdoemende getuienis te vernietig.

Kenners het ook uitgewys dat Julius Malema en sy ondersteuners onlangs gedreig het om vuil wasgoed oor die wapentransaksie uit te hang sou die ANC met sy dissiplinêre verhoor voortgaan.

Dit sal interessant wees om te sien of beweerde benadeelde partye soos dr. Bert Young nie op hul eie met genoeg verdoemende getuienis na die kommissie sal kom nie. Dit het mettertyd geblyk dat buitelandse ondersoekeenhede en ouditeursfirmas oor baie verdoemende getuienis beskik.

Die aanduidings is dat die aankondiging wat meer besonderhede oor die kommissie van ondersoek bekend sal maak reeds vandag gedoen kan word. Tot dan gaan die land asem ophou om te sien hoe opgewonde hulle kan wees oor die aanpak van die albatros wat al so lank om die nek hang. Dié albatros het geblyk onwillig te wees om self weg te vlieg.

En of die moontlikheid ook nou bestaan dat Zuma sy dag in die hof kan kry soos hy eens verlang het, maar sedertdien hand en tand beveg.

Dié saak het oor die jare, reg of verkeerd, die verwysingsraamwerk gebly van hoe endemies korrupsie in Suid-Afrika teenwoordig is, en hoeveel erns die regering het met sy uitsprake dat korrupsie vasgevat sou word. Solank dié saak in die doofpot sou bly, wou min mense regeringsvoornemens oor ‘n skoon regering ernstig opneem.

Herman Toerien