Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Baie druk op Bokke van rugbyveld af

Die blote feit dat die Springbokke die William Webb Ellis-trofeehouers is, plaas reeds die Bokke onder enorme druk om in Nieu-Seeland te presteer.

Politiek gaan egter nog groter druk plaas.

Met rugby wat tot onlangs nog die regering se stiefkind was en gereeld vir die verbode politieke inmenging uitgesonder is, is die bordjies nou skielik verhang. Danksy onder meer die ANC Jeugliga en sy omstrede leier, Julius Malema, is die land en sy mense nou so gepolariseer soos selde. Die Juegliga se volharding om die liedjie, Maak dood die Boere, te sing, en die ANC se volle steun daarvoor, moet baie van die skuld hiervoor dra.

Die gebruiklike dawerende swye oor plaasmoorde dra ook hiertoe by, en die periodieke veroordelings voor die regte gehore versag dit nie.

Vernietigende godsdiensuitsprake laat baie Christene voel hulle woon nou in ‘n totaal vreemde land.

Die vernietigende impak en vervreemding van affirmative action (wat in Suid-Afrika gebeur kwalifiseer aan geen gebruiklike norm vir regstellende aksie nie) dra tot die vervreemding by.

Nou word die Bokke gestuur om – soos pres. Jacob Zuma dit stel – Mzanzi se eer in Nieu-Seeland te gaan verdedig. Die minister van Sport, Fikile Mbalula, hits die Bokke in ‘n driftige toespraak in Afrikaans aan om die ander spanne te gaan d*nder en bliksem.

Die boodskap is duidelik – die Bokke moet soos in die verlede nie net die haas op die veld uit die hoed pluk nie, die span moet Suid-Afrikaners in gees weer trots verenig. Of kortom gestel, die Bokke moet die regering se kastaiings uit die vuur gaan krap.

Aan die stuur van die span is John Smit, Suid-Afrika se vyfde of sesde beste haker, maar volgens die ewe omstrede afrigter, Peter de Villiers, iemand wie se posisie ononderhandelbaar is. Ook oor van die ander keuses is rugbykenners nie ewe seker nie, maar die somtotaal is dat Suid-Afrika ‘n baie ervare span gestuur het, en ‘n potensieel baie sterk span as daar nie spinnerakke insluip nie. ‘n Paar spelers is nog nie op stryk nie, en moet nou op vreemde velde onder druk hul voete vind.

“Mission impossible?”

Op die veld, nee. Dit sal klippe kou kos, met ‘n oorgehaalde Walliese span wat sommer in die Bokke se eerste wedstryd al die kaarte lelik deurmekaar kan krap. Die bleekbene het min swak plekke en kan op ‘n gegewe dag, veral in die reën, enige span ter wêreld laat steier.

Om Zuma se Mzanzi in serie te plaas gaan moeiliker wees. Die groot sokker het getoon – soos kenners vooraf gewaarsku het – wat gebeur as post-euforiese depressie intree. Dit is wanneer die euforie verby is, en Suid-Afrikaners weer gekonfronteer word met die gebruiklike swak dienslewering, slaggate in paaie, stakings, wilde politieke uitsprake – kortom die realiteit.

En baie dinge wag – die ANC wat vasskop om ‘n inligtingswet so te bewoord dat ‘n belangrike hoeksteen van demokrasie in die slag bly, ‘n groenskrif oor grondhervorming wat gestroop van realisme is – en ‘n ongelukkigheid omdat die howe ‘n stok in die wiel van die ANC steek om die demokrasie te verkrag.

Selfs ‘n seëvierende Springbokspan waar die Springboklogo breed in die moue lag, gaan nie alles op die langer duur regtoor nie.

Die regering sal dringend moet vasstel wat “regeer in algemene belang” in ‘n demokrasie beteken. Dis nie net die Jeugliga wat in onkunde buite beheer is nie – die MK-veterane verwar ook lekker party en staat wanneer dit aandring dat die jeugdige balhoriges vir die verbranding van ANC-sentimente vir hoogverraad aangekla moet word.

Sterkte Bokke. Dreun hulle!

Herman Toerien