Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Arabiese revolusie en Christene

Die openbare oproer in Egipte waartydens meer as tien Christene omgekom het, het opnuut die vraag laat ontstaan: Het die Arabiese revolusie die posisie van Christene verlig of laat versleg?
Voor die Egiptiese revolusie was daar toenemende aanvalle op Egiptiese Koptiese Christene.
Bykans al die Christene in Egipte is Kopte, en die meerderheid behoort tot die Aleksandrynse Koptiese kerk. Die Kopte maak sowat tien persent van die Egiptiese bevolking van sowat 80 miljoen uit, wat dit die Arabiese land met die grootste, in getal, Christene maak. Libanon met byna die helfte van sy bevolking wat Christene is, het die grootste persentasie Christene.
Die Christendom is nie onbekend aan Noord-Afrika en die Arabiese wêreld nie, een aan die einde van die Romeinse tydperk was die Christendom die oorheersende godsdiens in Noord-Afrika. Die bekende vroeë kerkvader, Augustinus, het ook uit Noord-Afrika gekom. Verskeie stede het ook groot Joodse bevolkings gehuisves.
Tydens die Islam-veldtogte is Christene en Jode, in opdrag van Mohammed, nie soos die beoefenaars van ander gelowe gedwing om Moslems te word nie. In die praktyk was daar egter soveel diskriminasie en selfs vervolging van Christene, dat baie hulle tot die Islam gewend het, of, soos die oorlewende Armeniërs in Turkye, in diaspora gegaan het.
In Egipte het die Kopte oor die algemeen weens die diskriminasie aan die onderpunt van die maatskaplike leer gestaan. Die jongste betoging wat op die bloedbad uitgeloop het, was deur Kopte uit ‘n arm buurt wie se inwoners gewoonlik by vullisverwydering betrokke is. Hul betoging het gevolg na hul kerk deur Moslems afgebrand is. Interessant genoeg het verskeie Moslems saam met hulle betoog.
Onder die welvarende uitsonderings was die oud-Egptiese politikus en Sekretaris-generaal van die VN, Boutros Boutros Ghali. Hy het in ‘n paleis grootgeword. As Egiptiese politikus en pasja ten spyt kon hy weens sy Christenskap egter nooit verder as adjunk-minister van Buitelandse Sake vorder nie.
Christene het saam met die Moslems aan die Egiptiese revolusie deelgeneem, en na pres. Hosni Mubarack die aftog geblaas het, saam met die Moslems in die openbaar dankgebede gedoen – op die oog af ‘n gebaar van onderlinge respek.
Weke later is die Christene egter baie bekommerd dat die revolusie tot die vestiging van ‘n streng Islamitiese staat kan ontwikkel, en dat daar nog erger teen hulle gediskrimineer sal word. Onder die vorige bedeling was die diskriminasie meer informeel van aard, soos dat Moslems wat Christene aangeval en selfs vermoor het, of hul kerke afgebrand het, halfhartig gesoek is, en as hulle gevang is, besonder ligte vonnisse opgelê is.
Die Egiptiese situasie staan ook nie in algehele isolasie nie. Marokko het onlangs verskeie Christene gedeporteer omdat hulle glo sendingwerk sou gedoen het. In Sirië het Christene weer deurgeloop, in Turkye gaan dit op en af en veral Duitsland grom gereeld oor die behandeling van Christene, en in Irak het optrede teen Christene veral onlangs, maar merkbaar sedert die val van Saddam, die kreeftegang gegaan. Saddam se adjunk-premier was byvoorbeeld ‘n Christen
In ‘n sin, in ‘n situasie wat sterk herinner aan die periode van die Kruistogte tot die Ottomaanse ryk, en daarna die optrede teen Armeniërs en Assiriese Christene na die Jong Turke se revolusie, dien Christene in Moslemlande in effek dikwels as gyselaars. Hoe harder die Weste of Westerse bevolkings teen Moslems in hul lande optree, hoe meer byt Christene in Moslemlande die spit af. Hierdie Christene is dikwels nie polities van hul Moslem-landgenote te onderskei nie, soos die sowat 15 % Palestynse Christene. Selfs Yasser Arafat se vrou was ‘n Christen-Palestyn.
Dit kompliseer egter internasionale politiek. – Herman Toerien