Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Arabiese domino-revolusie en die oorlog teen terreur

Die Libiese oorlog is volgens alle aanduidings nog ‘n hele entjie van sy begrafnis af, en die voortvlugtige Broer Leier laat Houdini na ‘n amateur lyk. Tog skuif die oë van die wêreld geleidelik meer en meer na Sirië.

Sirië is klaarblyklik ook nie skaam vir die openbare oog nie. Pas het die regering van pres. Bashar al-Assad die Arabiese Bond ‘n liederlike afjak toegedien deur die beplande vredesending van die Bond se sekretaris-generaal, Nabil al-Arabi, op kort kennis af te stel.

Kort-kort is daar nog ‘n bloedige onderdrukking, en mense sterf. Volgens die jongste inligting moes meer as 2 200 mense reeds aan die hand van hul eie regering omgekom het, en nog tienduisend is aangekeer.

Die sanksienet word stywer getrek, maar sanksies is waarskynlik die een ding waarvoor Sirië nie veel slapelose nagte het nie. Die land is byvoorbeeld nie naastenby so afhanklik van olie-uitvoere soos Libië nie.

Al-Arabi was met vredesvoorstelle na Damaskus onderweg. Na verneem word sou dit vir verkiesings binne drie jaar voorsiening maak, maar dit is reeds deur die Siriese regering as onwerkbaar verwerp.

Intussen is Sirië se vriendskapsbande met buurlande en omringende lande ernstig in gedrang. Toe Saoedi-Arabië lang lippie vir Sirië geword het, het waarnemers gemeen Sirië sou self insien dat die woestynsand uitgeloop het. Iran se kouer skouer was daarna nog ‘n duideliker aanduiding dat Assad se kosmetiese hervormingspogings in die sand vasval.

Ten spyte van die versterking van diplomatieke bande op inisiatief van die VSA die afgelope klompie jare, is Sirië nooit formeel van die lys van terreurstate gehaal nie. Met slegs enkele dae oor voor die tiende herdenking van Al Kaïda se aanval op die Twin Towers en die Pentagon, word wêreldwyd intensief bestek opgeneem oor die impak wat dit op die wêreld gehad het.

Hoewel die Amerikaners se “War on terror” die Yanks baie uit die sak gejaag het, en die koste tot dusver aan die oorloë in Afganistan en Irak reeds min of meer gelyk staan aan die totale jaarlikse Amerikaanse begroting, is die wêreldwye sielkundige impak veel groter. Dit het, bewustelik of onbewustelik, ‘n waterskeiding ingehou vir hoe ‘n groot deel van die wêreldbevolking se wêreldbeskouing daaruit sien. Die spore hiervan word onder meer onregstreeks in die post-9/11-literatuur opgemerk.

Teen dié agtergrond is dit amper ondenkbaar dat die Siriese bewindhebbers hulle as geïnsuleer teen die woestynwinde van veranderinge kan beskou. Die blote feit dat die land steeds op die lysie van terreurstate voorkom, sou reeds die vergrootglas op hom laat val het. Om op sy eie mense te skiet om dood te skiet, veral na die Ghaddafi- en Gbagbo-slagtings, was ‘n waarborg dat die oë van die wêreld op hom gerig sal wees.

Assad word egter ook bevoordeel deur harde lesse wat uit veral die Irakese inval en nou die Libiese opstand geleer is – baie lande is inherent nie so simplisties saamgestel soos die Amerikaners uit eie ervaring geglo het nie. Dwarsleggende stam- en religieuse faktore kan so maklik veroorsaak dat diegene wat hulself as bevryders beskou, ‘n baie vyandige ontvangs by ‘n groot deel van die bevolking te beurt kan val.

En as iemand gedink het Libië en Irak is kompleks, dan het hulle nog nie ‘n studie van Sirië en sy mense gemaak nie. Dié werklikhede verseker bykans dat Sirië nie sommer van buite militêr aangeval sal word nie – en ongelukkig gee dit aan Assad die geleentheid om bykans ongestraf sy eie mense te skiet.

Herman Toerien