Subscribe by Email

Nuuskommentaar: Arabiese domino-revolusie eis nog ‘n slagoffer

Bashir al Assad

Die Arabiese domino-revolusie het nog ‘n slagoffer geëis, maar dit is nie die Libiese leier, Muammar Ghaddafi nie – in elk geval nog nie.
Na sowat twee weke se betogings in Sirië, waartydens sowat sestig mense die lewe gelaat het maar relatief min mense van geweet het omdat dit betreklik doeltreffend in die doofpot gedruk is, het die Siriese kabinet bedank, en sal die nuwe kabinet omvattende hervormings moet deurvoer.
Dat dit nie groot hooflyn-opskrifte haal nie, is egter ook verstaanbaar. Die werklike gesag berus vierkantig by die president, Bashir al Assad. Hy het hierdie amp by sy pa, wyle Hafiz al Assad geërf.
Die Assads se bewind in Sirië is ten nouste verweef met die Baath-party se beergreep op die land. Die Baath-party, ‘n soort Pan-Arabiese sosialistiese, sekulêre party, is in 1947 deur intellektuele in Damaskus gestig, en het in 1963 met ‘n staatsgreep aan bewind gekom. Sedertdien geld ‘n noodtoestand, wat in wese van die land iets maak wat op sy gunstigste ‘n skyndemokrasie maak.
Die party se sekulêre karakter het ‘n vreemde gevolg gehad. In Sirië is die Assad-familie Alawiete, ‘n sekte van die Sjiïete, terwyl die bevolking hoofsaaklik Soenies is. In Irak, die enigste ander land waar die Baath-party aan bewind kon kom – die laaste keer na ‘n staatsgreep in 1968, was Sadam en sy familie weer Soenies in ‘n oorwegend Sjiïtiese land. Sedert 1966 was daar ‘n erg vyandige breuk tussen Sirië en Irak se Baath-partye, en het beide die skyn van leiding gehandhaaf.
Hoewel die VSA verlede jaar vir die eerste keer sedert 2005 ambassadeurs met Sirië uitgeruil het, bly dié land op die VSA se lys van terreurstate.
Assad kondig vandag in die parlement die nuwe hervormings aan.
Geen waarnemers wat sy sout werd is waag egter ‘n mening oor wat te wagte kan wees nie. Simplistiese hervormings is ook nie noodwendig in almal se belang nie.
Met al die slegte eienskappe van die Baath-party se faksies, het die sekulêre karakter vir die relatief groot Christen-minderhede in Sirië en Irak ‘n mate van godsdiensvryheid gebring. Sadam se minister van buitelandse sake en premier was selfs ‘n Christen. Sedert die koalisie-oorname in Irak het die lot van Christene dramaties versleg. In Sirië is dit nie asof Christene, soos die Assiriese, Armeense en verskeie ander minderhede, in ‘n Uptopia woon nie, maar dit kan aansienlik slegter gaan as Sirië ‘n Moslem-fundamentalistiese staat word, of ‘n staat word waar fundamentaliste groter vryhede geniet.
Dit sal egter as groot verrassing kom as die hervormings wat vandag aangekondig word, in Westerse terme iets beduidends is.
Met die Baathparty en Assad aan bewind, is die kabinetskommeling in Sirië baie soos ‘n bewindsverandering in Libië waar Ghaddafi die mag behou.