Subscribe by Email

Nuuskommentaar: ANC se eeufees – Van “broad church” tot buitebande en vuurhoutjies

Van waardige intellektuele in manelpakke en bolkuile tot heethoofde wat uitroep dat hulle die land met buitebande en vuurhoutjies sou bevry, van die stigting in ‘n beskeie Wesleyaanse kerkskooltjie tot die oproep van voorvadergeeste in ‘n klipkraaltjie daarnaas ‘n eeu later. Van ‘n party wat intellektuele ingetrek het weens sy formele verbintenis tot ‘n grondwetlike demokrasie tot bewindhebbende party waarvan leiers steeds die massas tot voortgesette revolusie oproep en bitterlik oor die grondwetlike implikasies van ‘n regstaat kla…

Baie mense se persepsie oor die karakter van die ANC hang af van die tydvak van dié byna eeuoue organisasie waarin die waarnemer sy openbare bewustheid ontwikkel het. Elke persoon se politieke en ideologiese oriëntasie sal ook ‘n rol speel van sy persepsie van die organisasie: die politieke wetenskap leer immers dat die een man se vryheidsvegter die ander se terroris is. Die eeufeesvieringe vind dié naweek in sy geboortestad, Bloemfontein plaas. Die ANC verwag sowat 50 staatshoofde sal die feevieringe bywoon, en die meeste groot politieke partye van die land sal ook teenwoordig wees.

Omdat die verrigtinge sterk om Bloemfontein gesentreer word, word hier hoofsaaklik na hierdie deel van die geskiedenis gekyk.

Voor 1994 het regeringslui gemeen die ANC het betreklik min steun in die Vrystaat. Die feit dat die Vrystaat goed gevaar het in die RGN se ondersoeke na tussengroepverhoudinge, is trouens deur die regering formeel daaraan toegeskryf dat die ANC “nie eintlik steun in die Vrystaat” het nie.

Dié afleiding is weer in hoofsaak gebaseer op die stempersentasie wat in die Vrystaat behaal is met die eerste verkiesing van swart munisipaliteite in die vroeë jare tagtigs. Dié verkiesings is formeel deur die ANC geboikot, maar in die Vrystaat is stempersentasies van gemiddeld meer as 50 % behaal, en een munisipaliteit het selfs ‘n 100 % stempersentasie gehaal. Mangaung, destyds die swart munisipaliteit naas Bloemfontein, se stempersentasie was meer as 30 persent, steeds veel beter as die land se gemiddeld.

Die persepsie het egter ook vroeër posgevat soos die besluit om Winnie Mandela, destyds eggenoot van Nelson Mandela, in Brandfort in te perk, ver weg van haar steunbasis in Soweto. Sy was dus geen ongewone besoeker aan die streekhof in Bloemfontein nie, weens aanklagte dat sy haar inperkinsgebevel sou oortree het. Advokaat George Bizos was dus ewe bekend aan die Bloemfonteinse hofpersoneel.

Vir baie was die oorweldigende oorwinning wat die ANC in 1994 in die Vrystaat behaal het dus ‘n verrassing.

Die Vrystaat het boonop ‘n besondere verbintenis met die ANC se bande met die SAKP, deurdat waarskynlik die bekendste Suid-Afrikaanse kommunis, die premierseun Bram Fischer, ook in Bloemfontein grootgeword het.

In die voor-necklace-fase het die Vrystaat, en Bloemfontein ook sy aandeel van die gewapende stryd beleef. Die politieke bril waarmee daarna gekyk word sal bepaal of dit as nie-selektiewe terreur, of die tipiese optrede tydens ‘n guerilla-fase van oorlogvoering is.

Uit hierdie tydperk dateer ook ‘n wavrag meestersverhandelinge oor verskillende aspekte van terreur, veral stedelike terreur. Op die internasionale front het bekendes soos Paul Wilkenson en Brian Jenkins die denke en metodologie probeer neerpen. Talle definisies het die lig gesien. In hoofsaak het dit neergekom daarop dat terreur nie-selektief is in diegene wat slagoffers sou wees, en dat die dade van terreur eintlik ‘n vorm van kommunikasie was om die wêreld se aandag op hul lot te fokus. Die media, wat die wêreldgehoor moes verskaf, was dus baie belangrik. Sekondêre aspekte wat ingesluip het was dié van na-apery en dat dade geneig het om voriges te oortref om te verhoed dat die wêreldgevoed gewoond raak en nie meer aandag skenk nie.

Van die elf gerapporteerde bomaanvalle in die Bloemfontein-omgewing was agt op die spoorlyne gerig. Dit het gewissel van die opblaas van ‘n sinjaal tot skynbaar skadelose bomme op die spooroorwegbrug wat die destydse wit Bloemfontein van Mangaung geskei het. Die interessantheid is dat Bloemfontein destyds met die toepassing van die stedelike geograaf, Harris, se formule funksioneel as vervoerstad geklassifiseer is. Ontwrig die spoorverkeer, en die sabotasieskade se impak op die res van die land se ekonomie is besonder groot. Die bekendste ander bomaanvalle was op die hoofkantoor van die destydse Administrasieraad se kantore vlak anderkant die spooroorbrug, en die Peetlaan-bomontploffing. Kenners meen die bomdraer was na sy eintlike bestemming onderweg toe die bom voortydig afgegaan het, waarskynlik die appèlhof, aangesien Bloemfontein ook die Republiek se geregtelike hoofstad was.

Wanneer na die voorvalle landswyd gekyk word, was dit meer duidelik dat die dade eerder op die trek van aandag gerig was as werklike aanslae op infrastruktuurskade. Die seleksie van teikens was dus eerder ‘n verdoeseling van wat werklik beoog is – om aandag te trek. Durban is byvoorbeeld ‘n belangrike vakansiestad, en soos te wagte, sou daar dus aanvalle wees wat skynbaar daarop gerig sou wees om die toerismebedryf te knou. ‘n Bomaanval, soos ETA wat Bilbao se toerismebedryf deur bomontploffings op die strand wat nie net Bilbao nie maar Spanje se ekonomie geskaad het, sou te wagte wees, maar volledig as terreur geklassifiseer word. Formeel is ‘n bomaanval dus op die kommandokantore op die strandfront geloods, maar genoeg toeriste het kennis geneem. Die skietery in die Magoo’s dameskroeg was waarskynlik ook eerder op die toerismebedryf gerig, maar is “geregverdig” deurdat militêre personeel ook soms daar ontspan het.

In Pretoria, die administratiewe hoofstad, was die bekendste bomaanval die Kerkstraatbom, maar vlak voor ‘n gebou wat belangrike weermagkomponente gehuisves het. Kaapstad, as wetgewende hoofstad kon dus nie besonder verbaas wees oor ‘n bomontploffing by die presidentsraad nie.

Sasolburg se Natrefaanval het ook netjies in hierdie prentjie gepas.

Die ANC was diplomatiek besonder suksesvol wat saamgeval het met ‘n mode om sekere state destyds as state te klassifiseer wat staatsterreur toepas. In die internasionale gewete het organisasies se terreurdade dus die status van die mindere euwel, indien nie sommer geregverdig nie, geniet.

Ongeag die manier waarop na hierdie fase gekyk is, dit is alles gelyk gemaak deur die fase waarop die boendoehowe en die grusame buiteband- en vuurhoutjies gevolg het. Die lot van Stompie Sepei ruk steeds. Bande is met van die wêreld se ergste muishonde soos Muammar Ghaddafi gesmee.

Die versoeningsfase wat hierop gevolg het wat aan oud-president Nelson Mandela internasionale ikonstatus verleen het – al het nie almal hiermee saamgestem nie – word deur baie nog nostalgies as die land se politieke en staatkundige goue tydperk opgeroep. Oud-president Thabo Mbeki se Afrikanistiese benadering het weer ‘n ander fokus geplaas wat die goue era begin verdof het, aangeblaas deur die Manto-katastrofe en soortgelyke rampe waaraan krampagtig vasgeklou is. Oor die huidige fase staan voorlopig breed geskryf – die afwesigheid van staatsmanskap.

Wanneer die eeufeesvieringe in volle swang is, wanneer die staatshoofde eregaste is, geniet die ANC egter formeel die status van een van die wêreld se oudste bevrydingsbewegings, en is dit die oorweldigende grootste politieke mag in die land, krakies ten spyt.

Dat nie almal die formele siening gaan deel nie, is egter verstaanbaar.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien